Suid-Afrika gereed vir dodelike koronavirus

  • 0

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, sê spesiale skanderingsmaatreëls is gereed by die land se grootste internasionale lughawe, OR Tambo aan die Oos-Rand, asook alle ander plekke waar reisigers vanuit China die land binnekom.

Die minister het Woensdag by ’n nuuskonferensie in Sandringham, Johannesburg, besonderhede gegee oor die regering se voorsorgmaatreëls om die koronavirus te identifiseer en te beheer, sou die virus die land binnedring.

Die virus het in Desember in die Chinese stad Wuhan verskyn en het teen Woensdag reeds die lewens van meer as 130 mense geëis. Meer as 5 000 mense in China het die virus onder lede. Reisigers wat die afgelope twee weke op direkte vlugte vanaf China op die OR Tambo-lughawe aangekom het, moet ’n vraelys voltooi om vas te stel of hulle moontlik in aanraking met die virus kon gewees het.

Die Departement van Gesondheid het Woensdag gesê hulle sal nie die 35 Suid-Afrikaners wat in Wuhan is, na Suid-Afrika terugbring nie.

Foto: Pixabay.com

Volgens Mkhize is daar deurlopend kontak met die Suid-Afrikaners in Wuhan en hulle verkeer nie op die oomblik in gevaar nie.

Mkhize sê as voorsorgmaatreël sal alle reisigers van die buiteland roetine-liggaamstemperatuurtoetse ondergaan. Indien ’n reisiger ’n verhoogde temperatuur het, word die persoon ondersoek en opgeneem vir verdere toetse. Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare siektes word ook onmiddellik in kennis gestel.

Drie hospitale, naamlik die Charlotte Maxeke-hospitaal, Steve Biko-hospitaal en Tembisa-hospitaal is op ’n gereedheidsgrondslag indien dit nodig sou wees om pasiënte te behandel wat die koronavirussiekte opgedoen het.

Die rand, wat swakker gevaar het weens kommer oor die verspreiding van die virus, het verbeter nadat Amerika bevestig het dat vlugte van China steeds plaasvind. Verskeie lugrederye het egter reeds talle vlugte na China opgeskort.

British Airways het Woensdag alle direkte vlugte na en van China gekanselleer. Die lugdiens sê hulle sal die situasie hersien soos nodig. Hulle het alle betrokkenes om verskoning gevra vir die ongerief, maar sê die veiligheid van passasiers is ’n prioriteit. Brittanje het ook sy burgers gewaarsku om alle nienoodsaaklike reisplanne na China te kanselleer.

Lugrederye wat reeds teen Woensdag vlugte na China opgeskort het, is British Airways, Finland se FinnAir, Amerika se United Airlines, Air Canada, Cathay Pacific Airways van Hongkong, Lion Airways in Indonesië en Air Seoul van Suid-Korea.

Daar was Woensdag nog geen bevestigde gevalle van mense in Suid-Afrika wat die virus onder lede het nie. Die Departement van Gesondheid het mense wat vermoed dat hulle die virus opgedoen het, of van die simptome het, gevra om mediese advies in te win en hulle reisgeskiedenis met die gesondheidspersoneel te deel.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare siektes sê Suid-Afrika monitor die situasie rakende die virus regoor die wêreld 24 uur per dag. Daar is spesiale personeel toegewys om deur middel van spesiale toerusting inligting oor die verspreiding van die virus te monitor en die nodige inligting daaroor in te win sodat die land nie onkant betrap word nie.

Die Departement van Gesondheid het verlede week gesê daar is nie rede vir paniek in Suid-Afrika nie en dat die nodige maatreëls ingestel is om die situasie te bestuur. Alle nodige voorbereidings word egter getref indien die virus ook sy opwagting in Suid-Afrika sou maak.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top