Suid-Afrika het van die hoogste algemene misdaadsyfers in Suider-Afrika, met Mosambiek kort op sy hakke.
Georganiseerde misdaad neem regdeur Afrika toe en hoewel daar bevind is dat Suider-Afrika laer misdaadvlakke as die res van Afrika het, is die streek se bekamping van die stygende misdadigheid besig om te verswak. Sekere lande, waaronder Suid-Afrika, toon besonder hoë vlakke van kriminele aktiwiteite.
Die derde ENACT-indeks vir georganiseerde misdaad vir Afrika deur die Global Initiative Against Transnational Organised Crime (GITOC) is verlede week in Nairobi, Kenia, vrygestel.
In die verslag word beide gewapende konflik en ’n gebrek aan demokratiese instellings met verhoogde georganiseerde misdaad verbind.
Die ENACT-indeks is ’n instrument wat vlakke van georganiseerde misdaad op die vasteland meet en beoordeel. Dit rangskik die 54 lande op die vasteland volgens hul vlakke van misdadigheid op ’n telling van 1 tot 10 (laagste tot hoogste vlakke van kriminaliteit) en volgens hul vlakke van veerkragtigheid teenoor georganiseerde misdaad van 1 tot 10 (laagste tot hoogste veerkragtigheidsvlakke)
Daar is bevind dat Suid-Afrika van die hoogste algehele misdadigheidtellings in Suider-Afrika het naamlik 7,18 met Mosambiek kort op sy hakke met 6,20 uit tien.
Georganiseerde misdaad kom volgens die verslag algemeen in Suid-Afrika voor.
Die jongste ENACT-indeks stem ooreen met die mees onlangse Global Organised Crime Index (GOCI), wat in September vrygestel is. Daarvolgens beklee Suid-Afrika die sewende plek in die wêreld uit 193 lande en die derde plek in Afrika vir mafiastyl kriminele netwerke en georganiseerde-misdaad-sindikate.
Volgens die verslag is Suid-Afrika een van slegs drie Afrika-lande in die kategorie hoë misdaad, hoë veerkragtigheid, saam met Nigerië en Senegal.
Anders as laasgenoemde twee, het beide kriminaliteit en veerkragtigheid teen misdaad se tellings in Suid-Afrika toegeneem, lui die verslag.
Met ’n hoë kriminaliteitstelling van 7,18 (uit 10, vergeleke met 6,63 in 2021) is Suid-Afrika die onmiskenbare misdadigheidsuitskieter in Suider-Afrika, wat die gemiddelde kriminaliteitstelling vir die streek tasbaar laat styg.
“Suid-Afrika spog met ’n aantal deurdringende kriminele markte, versterk deur die invloed van kriminele akteurs, veral staatsgebonde akteurs wat verantwoordelik is vir jare se staatskaping en kriminele netwerke wat baie nou met mekaar verbind is,” lui die verslag.
Een van die positiewe bevindings in die verslag is dat daar ten spyte van jare lange toenemende misdadigheid, erosie van kritieke infrastruktuur en ondermyning van demokratiese prosesse deur georganiseerde korrupsie en geweld, ook ’n hoë veerkragtigheid teen die impak van georganiseerde misdaad in die land is.
Suid-Afrika het ondanks sy hoë misdaadsyfer die hoogste punte in die Suider-Afrika-streek in terme van veerkragtigheid behaal, aangedryf deur die pogings van nieregeringsorganisasies om georganiseerde misdaad te weerstaan, robuuste nasionale beleid en wette, en sterk ekonomiese regulatoriese kapasiteit. Hierdie veerkragtigheidsboublokke het egter in 2022 onder druk gekom, wat die algehele veerkragtigheid laat daal het.
Kenia het ’n bogemiddelde syfer behaal vir alle kriminele markte wat beoordeel is: mensehandel (8,0 uit 10); mensesmokkelary (7,5); afpersing en rampokkery (7,0); wapenhandel (7,5); handel in vervalste goedere (7,0); heroïenhandel (7,5); kokaïenhandel (6,0); daggahandel (6,5); handel in sintetiese dwelms (5,5); kuberafhanklike misdade (8,0); en finansiële misdade (7,5).
Hierdie onwettige markte het volgens die verslag ’n negatiewe uitwerking op byna alle dele van die Keniaanse samelewing. Hulle is nie net hoogs winsgewend nie, maar neem ook toe in hul omvang.
Wat kriminaliteit betref, het Kenia ’n hoë gemiddeld van 7,02 en ’n laer veerkragtigheidsgemiddeld (5,33). In Oos-Afrika is Kenia wat misdadigheid betref, bo aan die lys uit die nege lande in die streek. Dit is in die vierde plek uit 54 lande op die vasteland, en op wêreldvlak die 16de plek uit 194.
Kenia is ’n belangrike spilpunt vir georganiseerde misdaad en hoewel daar regulatoriese en institusionele raamwerke bestaan om georganiseerde misdaad aan te spreek, is daar volgens die verslag aansienlike ruimte vir verbetering.
Alhoewel Suider-Afrika oor die algemeen die laagste streeksvlakke van misdaad het, toon Suid-Afrika betreklik hoë vlakke van kriminele aktiwiteite.
Faunamisdade was die algemeenste kriminele mark in Suider-Afrika, wat die streek een van die wêreld se grootste spilpunte vir lewende diere en diereprodukte maak.
Finansiële misdade was die tweede mees deurdringende kriminele mark in die streek, met wydverspreide voorvalle van verduistering, bedrog en belastingontduiking.
Anders as die res van die vasteland, is die heroïenmark ook wydverspreid in Suidelike Afrika, met sommige lande wat by die transnasionale handel betrokke is. Dit ervaar stygende verbruiksyfers.
Die mins algemene kriminele mark in die streek was afpersing en beskerming teen rampokkery, met die uitsondering van Suid-Afrika, waar ontvoering vir lospryse en massaskietvoorvalle, wat met beskerming verband behoort te hou, wydverspreid voorkom.
- Die volledige verslag kan hier afgelaai word.