Suid-Afrika hou asem op vir tweede golf COVID-19

  • 0

Terwyl Europa en die VSA steeds steier onder die COVID-19-pandemie het president Cyril Ramaphosa Suid-Afrikaners gewaarsku dit is krities noodsaaklik om te keer dat die land nie ook deur ’n tweede golf van die virus oorweldig word nie.   

Verskeie lande in Europa het opnuut streng maatreëls ingestel om die virus te probeer bekamp. Die geval infeksies en sterftes het die afgelope weke rekordhoogtes in baie lande bereik. 

In Amerika waarsku kenners ook oor die stygende infeksies. Sestien van die land se deelstate het reeds verlede week rekordgetalle COVID-19-hospitalisasie aangemeld. Teen Sondagoggend het die geval infeksies wêreldwyd die 50 miljoen-kerf oorgesteek met Amerika, Indië, Brasilië en Rusland wat die ergste geraak word.

Suid-Afrikaners sit op hete kole en wonder wat gaan Ramaphosa hulle vertel wanneer hy die land dié week weer oor die virus gaan toespreek. Daar was die afgelope tyd verskeie riemtelegramme in omloop dat Suid-Afrika ook weer strenger inperkings te wagte kan wees en kan terugbeweeg na vlak drie van inperking.

KwaZulu-Natal se premier, Sihle Zikalala, het reeds gevra vir strenger inperkings, terwyl die Wes-Kaap se premier, Alan Winde, daarteen gekant is. Die algemene gevoel onder wetenskaplikes en ekonome is egter dat nuwe strenger inperkings Suid-Afrika oor ’n ekonomiese afgrond sal stuur met geen betekenisvolle gesondheidsvoordele nie.

Die regering het ook die gerugte van strenger inperkings tot dusver ontken en sê daar is geen sodanige besluite geneem nie.

Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse nuusbrief aan die nasie gesê oplewing van enige skaal van COVID-19 in Suid-Afrika sal nie net ’n dramatiese terugwaartse stap wees ten opsigte van die gesondheidsdienste nie. Dit sal ook die groen lote van ekonomiese herstel wat stadig besig is om weer te voorskyn te kom vernietig en die land terugplaas in die posisie waar dit voor die winter was.

President Ramaphosa sê ’n tweede vlaag van die koronavirus sal pogings belemmer om die regering se ekonomiese herstelplan in werking te stel. In sy weeklikse nuusbrief sê Ramaphosa in die aanloop tot die feestyd is dit belangriker as ooit vantevore om waaksaam te bly om die verspreiding van die virus te verhoed. Ramaphosa sê die opofferings wat die land gemaak het om die verspreiding van die virus te stuit, moet nie vergeet word nie.

“Om ’n tweede golf van COVID-19 infeksies te voorkom, moet almal die gesondheidsriglyne wat daargestel is, nakom. Wanneer ons versuim om maskers te dra tydens sosiale byeenkomste en wanneer ons volgepakte geleenthede bywoon, plaas ons nie net onsself en ander in gevaar nie. Ons plaas ook die land se ekonomiese herstel in gevaar,” het Ramaphosa gesê.

Die President sê die jakarandabome in Pretoria is vol in blom, wat die begin aandui van ’n nuwe somer. “Na ’n lang en moeilike winter behoort die begin van ’n nuwe seisoen ons met optimisme te vul,” het hy in sy nuusbrief geskryf.

Hy sê die positiewe aksies soos die dra van maskers, die handhawing van sosiale afstand en gereelde handewas help om die ergste effek van die pandemie hok te slaan en bly steeds die beste teenvoeter tot ons beskikking teen die virus.

Die bestuurshoof van die Verkiesingskommissie, Sy Mamabolo, het intussen gesê mense wat die koronavirus onder lede het, en vir ’n spesiale stem aansoek gedoen het, sal in kwarantyn kan stem tydens die week se munisipale tussenverkiesings.

RSG berig hy het in Centurion aan die media gesê diegene wat aansoek gedoen het vir ’n spesiale stem, sal in die kwarantyngebied of tuis besoek word.

Tussenverkiesings word Woensdag landwyd gehou. Veertig politieke partye en 19 onafhanklike kandidate neem aan die tussenverkiesings deel. Spesiale stemme in Woensdag se tussenverkiesings kan Dinsdag uitgebring word. Mamabolo sê net meer as 23 000 kiesers het aansoek gedoen vir spesiale stemme, van wie meer as 12 000 by hulle huise sal stem. Mamabolo het kiesers aangemoedig om in die tussenverkiesings te stem. Hy het ook benadruk dat kiesers slegs in die kiesafdelings waar hulle geregistreer is, kan stem.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top