Terwyl die VSA Suid-Afrika se rol as voorsitter van die G20 in 2025 openlik geminag en die beraad geboikot het, wys ’n omvattende internasionale evaluasie dat Suid-Afrika juis ’n sleutelrol gespeel het om die G20 se relevansie en institusionele geloofwaardigheid te beskerm in ’n tyd van groeiende geopolitieke spanning.
Die bevindinge spruit uit die G20@20 Review Final Report, ’n formele oorsig wat onder Suid-Afrika se voorsitterskap opgestel is. Die G20-leiers het tydens die 2024-Rio de Janeiro-beraad versoek dat die eerste volle siklus van G20-presidensies vanaf 2008 geëvalueer word. Die verslag dien terselfdertyd as ’n bloudruk vir hervorming wanneer die G20 in 2026 sy tweede siklus betree.
Suid-Afrika se aanbieding van die G20-beraad in Johannesburg verlede maand is deur die internasionale gemeenskap hoog aangeskryf .
[DOWNLOAD]: G20@20 REVIEW REPORT
The report is published under the responsibility of the South African 2025 G20 Presidency as the outcome of the G20@20 Review, which was undertaken in response to G20 Leaders’ agreement in their 2024 Rio de Janeiro… pic.twitter.com/eNi4FmPTBs
— The Presidency 🇿🇦 (@PresidencyZA) December 15, 2025
Amerika se afwesigheid by die beraad en Washington se weiering om Suid-Afrika se leierskap eksplisiet te erken het ’n skadu oor die verrigtinge gegooi. Dit het vrae laat ontstaan oor die toekoms van multilaterale samewerking binne die G20, veral aangesien die forum toenemend deur grootmoondheidspolitiek en bilaterale spanning versplinter word.
Ten spyte hiervan wys die verslag dat Suid-Afrika se voorsitterskap doelbewus daarop gemik was om die G20 uit die loopgrawe van korttermynpolitiek te lig en terug te bring na sy kernmandaat as die wêreld se voorste forum vir internasionale ekonomiese samewerking. Die oorsig bevestig dat ’n groot meerderheid G20-lede steeds die forum as onontbeerlik beskou, veral in ’n wêreld waar globale groei stagneer, skuldvlakke rekordhoogtes bereik en multilaterale instellings onder druk is.
Despite Trump's boycott, South Africa President Cyril Ramaphosa hosts a successful G20 summit with gathering of many world leaders. The summit is historic, since it is for the first time the African continent is hosting the G20 summit, the gathering of the world's top economies. pic.twitter.com/wGGdN4SiPm
— Sidhant Sibal (@sidhant) November 23, 2025
Suid-Afrika het veral gefokus op selfondersoek binne die G20. Onder sy leiding is ’n omvattende opname, Sjerpa-vlak-besprekings, en insette van ’n onafhanklike adviespaneel gebruik om die forum se suksesse én mislukkings oor twee dekades eerlik te evalueer. ’n Sjerpa is die persoonlike verteenwoordiger van ’n staatshoof of regeringsleier by die G20.
Die verslag erken uitdruklik dat die G20 se doeltreffendheid die afgelope jare afgeneem het, grootliks weens geopolitieke spanning, ’n oorlaaide agenda en gebrekkige kontinuïteit tussen presidentskappe.
Ironies genoeg het dit juis Suid-Afrika se voorsitterskap geword wat hierdie probleme ter tafel gelê het. Die verslag weerspieël wye steun vir Suid-Afrika se standpunt dat die G20 se agenda verskerp moet word en sterker gefokus moet bly op kern-ekonomiese kwessies soos makro-ekonomiese koördinering, finansiële stabiliteit, skuldverligting, belasting, ontwikkeling en voedselsekerheid.
’n Verdere sentrale tema van Suid-Afrika se rol was die bevordering van die belange van ontwikkelende lande en die Globale Suide. Die verslag beklemtoon dat Suid-Afrika konsekwent gepleit het vir groter aandag aan opkomende markte en ontwikkelende ekonomieë, veral rondom multilaterale ontwikkelingsbankhervorming, binnelandsehulpbronmobilisering en die bekamping van onwettige finansiële vloei. Hierdie fokus het Suid-Afrika se posisie as brugbouer tussen ontwikkelde en ontwikkelende ekonomieë versterk.
Hoewel die VSA se boikot deur sommige waarnemers as ’n poging beskou word om Suid-Afrika se internasionale invloed te ondermyn, toon die verslag dat die oorgrote meerderheid G20-lede steeds verbind bly tot die forum se leiergedrewe, informele en konsensusgebaseerde karakter. Dit is juis hierdie model wat Suid-Afrika aktief probeer beskerm het teen pogings om die G20 óf te politiseer óf te verlam.
China se woordvoerder van hulle ministerie van buitelandse sake, Lin Jian, het op X gesê China ondersteun Suid-Afrika se voortgesette deelname aan G20-samewerking. “Ons sien uit daarna om saam met Suid-Afrika en alle ander G20-lede te werk om multilateralisme te handhaaf, wêreldwye ekonomiese groei te bevorder en wêreldwye ekonomiese bestuur te verbeter,” het hy gesê.
South Africa successfully hosted the G20 Summit in Johannesburg last month, which has been highly commended by the international community. The G20 has long been committed to solidarity, cooperation and equal-footed consultation. As a founding member of the G20, South Africa has… pic.twitter.com/rzTvjVNNAt
— Lin Jian 林剑 (@SpoxCHN_LinJian) December 12, 2025
Suid-Afrika se minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika sal nie die 2026-G20-beraad in Florida bywoon nie tensy 'n formele uitnodiging deur die VSA uitgereik word.
#NDABANEWS: SOUTH AFRICA DEMANDS FORMAL INVITATION TO 2026 G20 SUMMIT
International Relations and Cooperation Minister Ronald Lamola says South Africa will not attend the 2026 G20 Summit in Florida unless a formal invitation is extended by the United States.
Lamola stressed… pic.twitter.com/ErrtpI0j54
— Thulani Ndaba (@tndaba) December 15, 2025
Lamola het beklemtoon dat Suid-Afrika slegs deur behoorlike diplomatieke kanale sal deelneem, wat die belangrikheid van protokol en wedersydse respek tussen G20-lidlande beklemtoon.
Die G20@20 Review waarsku dat die G20 se toekoms nie gewaarborg is nie. Minder as die helfte van lede meen die forum is tans goed toegerus om toekomstige globale krisisse te hanteer. Tog is daar sterk konsensus dat doelgerigte hervormings eerder as ’n radikale herontwerp nodig is om die G20 funksioneel en geloofwaardig te hou.
Teen hierdie agtergrond lyk die Amerikaanse boikot minder soos ’n verwerping van Suid-Afrika en meer soos ’n simptoom van ’n breër krisis in multilateralisme. Die verslag se implisiete boodskap is duidelik: Sonder bereidwilligheid van groot moondhede om saam te werk, loop selfs die invloedrykste forums die gevaar om irrelevant te raak.
Vir Suid-Afrika beteken dit dat sy G20-voorsitterskap waarskynlik nie onthou sal word vir glansryke verklarings of dramatiese deurbrake nie, maar vir iets meer diepliggend: die poging om ’n wankelende wêreldforum eerlik in die spieël te laat kyk, selfs toe een van sy magtigste lede besluit het om weg te bly.
- Die volledige verslag kan hier gelees word.
