Suid-Afrika is een van die gevaarlikste lande te wêreld

  • 0

As jy in die veiligste land ter wêreld met die laagste misdaad wil bly, moet jy Andorra, die klein onafhanklike prinsdom in Europa, tussen Frankryk en Spanje in die Pireneë-berge, oorweeg.

Beslis nie Suid-Afrika, wat byna heel onder aan die lys van veilige lande in die wêreld is nie, en allermins Venezuela, wat heel laaste is – die gevaarlikste land, volgens die opname, wat die 147ste plek uit 147 lande vir veiligheid beklee het met ’n telling van net 19,3 uit 100.

Diegene wat president Donald Trump se aanbod oorweeg om Amerika toe te vlug, moet ook mooi dink, want die VSA vaar ook nie te waffers nie. Hulle is nommer 89 op die lys van 147 lande se veiligheidsindeks, wat ’n baie hoë misdaadvlak toon. Net soos Suid-Afrika is die VSA die tuiste van die dapperes.

Die Verenigde Koningryk (VK) het net effens beter gevaar as die VSA, met ’n telling van 51,7 en in die 87ste plek, wat dus ook as ’n hoë misdaadland beskou word.

Die datagroep Numbeo het die wêreld se veiligste lande vir reis in 2025 in terme van misdaad gelys, en so is Andorra gekroon as die beste nasie vir wêreldreisigers wat besorg is oor persoonlike veiligheid.

Om die “veiligheidsindeks per land vir 2025” te raam, het Numbeo 147 lande gegradeer op grond van die algehele vlak van misdaad, soos “afgelei van opnames wat deur besoekers gedoen is” op hul webwerf.

Numbeo het antwoorde van die opnames in ag geneem oor hoe veilig inwoners voel terwyl hulle bedags en saans stap. Hulle het ook kennis geneem van bekommernisse oor “roof, motordiefstal, fisieke aanvalle deur vreemdelinge, teistering in openbare plekke en diskriminasie op grond van faktore soos velkleur, etnisiteit, geslag of godsdiens”.

Die Verenigde Arabiese Emirate (84,5), Katar (84,2), Taiwan (82,9) en Oman (81,7) word naas Andorra as die veiligste lande beskou.

Wanneer daar na die misdaadindeks gekyk word, is Suid-Afrika die land met die vyfde hoogste misdaadsyfer.

Volgens Numbeo het Rwanda die laagste misdaadsyfer in Afrika in 2025, met ’n lae misdaadindeks van 26,9. Die land se streng wetstoepassing, doeltreffende polisiëring en gemeenskapsgedrewe sekuriteitsinisiatiewe het ’n deurslaggewende rol gespeel in die handhawing van veiligheid en stabiliteit.

Die misdaadindeks, ’n maatstaf van die algehele misdaadvlakke in stede en lande, word saamgestel uit data wat deur opnames onder webwerfbesoekers ingevorder is. Hierdie opnames, wat soortgelyk is aan wetenskaplike en regeringstudies, meet persepsies oor misdaad op ’n skaal van –2 (sterk negatiewe persepsie) tot +2 (sterk positiewe persepsie).

Om akkuraatheid te verseker word filtermaatreëls toegepas om strooipos te identifiseer en uit te sluit, wat betroubare resultate waarborg. Die data word dan omgeskakel na ’n gebruikersvriendelike skaal van 0 tot 100, waar laer punte hoër misdaad en hoër punte groter veiligheid aandui.

Volgens hierdie indeks word misdaadvlakke as volg geklassifiseer: Onder 20 is baie laag, 20–40 is laag, 40–60 is matig, 60–80 is hoog, en bo 80 is baie hoog.

In Suid-Afrika, waar misdaad ’n prominente kwessie is, bied die indeks ’n waardevolle hulpmiddel om persepsies te vergelyk. Dit verskil egter van amptelike regeringstatistieke, aangesien dit op gebruikersdata en subjektiewe ervarings eerder as aangemelde misdaad berus.

Terwyl regeringstatistieke gedetailleerde per kapita-syfers kan bied, is dit nie altyd ideaal vir internasionale vergelykings nie, weens verskille in aanmeldingsgedrag, moontlike datavervalsing deur owerhede, en beperkte beskikbaarheid in sommige streke.

Die 10 gevaarlikste nasies is:

  1. Venezuela (19,3)
  2. Papoea-Nieu-Guinee (19,7)
  3. Haïti (21,1)
  4. Afghanistan (24,9)
  5. Suid-Afrika (25,3)
  6. Honduras (28)
  7. Trinidad en Tobago (29,1)
  8. Sirië (31,9)
  9. Jamaika (32,6)
  10. Peru (32,9).

Die top 10 veiligste nasies is:

  1. Andorra (84,7)
  2. Verenigde Arabiese Emirate (84,5)
  3. Katar (84,2)
  4. Taiwan (82,9)
  5. Oman (81,7)
  6. Isle Of Man (79,0)
  7. Hongkong (China) (78,5)
  8. Armenië (77,9)
  9. Singapoer (77,4)
  10. Japan (77,1).

Die volledige veiligheidsindeks van die 147 lande kan hier gesien word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top