Die waarskynlikheid dat enige nuwe persoon wat jy in Suid-Afrika raakloop, dieselfde moedertaal as jy sal hê, is ’n skrale 13%. In die Verenigde Koninkryk is die waarskynlikheid 85%.
“Dít maak Suid-Afrika, met sy klomp verskillende tale, die ideale omgewing om aspekte van meertaligheid te bestudeer,” sê Emanuel Bylund, navorsingsleier by die Universiteit Stellenbosch se MultiCog-lab, oftewel die laboratorium vir meertaligheid en kognisie.
Die MultiCog-lab in die Departement Algemene Taalwetenskap is volgens die US se webwerf die enigste van sy soort op die Afrikavasteland.
Die navorsingsfasiliteit, wat bestudeer hoe verskillende tale in die brein georganiseer is en kognitiewe funksionering beïnvloed, is in 2018 met finansiering van die Nasionale Navorsingstigting en van die US self tot stand gebring.
Die US sê op hulle webwerf meertaligheid word nie net in beleid vasgelê en onder studente en personeel aangemoedig aan die universiteit nie. Dit word ook in ’n ultramoderne laboratorium met vernuwende metodes en gevorderde toerusting bestudeer.
Volgens die sosiolinguis Marcelyn Oostendorp van die Departement Algemene Taalwetenskap aan die US help meertaligheid om belangrike nuwe bande en verhoudings met ander te vorm, wat ons uiteindelik in staat stel om ’n beter wêreld te skep.
“Wanneer mense oor meertaligheid dink, skryf en praat, gaan dit gewoonlik oor die nut daarvan, oor hoe en waarvoor dit gebruik kan word, soos in die klaskamer,” sê Oostendorp. “Nietemin vergeet ons dikwels van die verhoudingsaspek van taal en meertaligheid, en dat dit ons ’n band met ander help bou. Wanneer kinders byvoorbeeld leer praat, gaan dit nie oor die nut wat hulle daaruit kan kry nie, maar dat dit hulle in staat stel om bande met ander te vorm.”
’n Taaldagkonferensie is op 30 September deur die Afdeling Leer- en Onderrigverryking aan die US aangebied as deel van die viering van meertaligheid en om die aandag te vestig op van die projekte wat tans by die US aan die gang is.
“Taal is eie aan die mens. Geen ander spesie het so ’n komplekse en veelsoortige semiotiese stelsel van gebare en simbole ontwikkel om betekenis oor te dra nie,” sê Bylund. “Dít laat ontstaan vrae oor die menslike brein; oor hoe ons taal verwerf en verwerk, en die grondslag en potensiaal van ons taalvermoë.” Hy sê die studie van hierdie kwessies raak selfs boeiender as ’n mens met meertalige persone werk.
Bylund spits hom toe op die studie van taalontwikkeling en kognitiewe verwerking by mense in verskillende meertalige bevolkings, en het al met sprekers van Duits, Afrikaans, Spaans, Xhosa en Sweeds gewerk.
Hy sê ironies genoeg is die meeste psigolinguistiese navorsing oor meertaligheid uit die hoek van die taalwetenskap, filosofie, sielkunde en antropologie tot dusver in Europa of Noord-Amerika onderneem, al is dié streke tradisioneel oorwegend eentalig. “As gevolg van hierdie sydigheid is die onderwerp van taal en die brein ’n betreklik onderontginde navorsingsgebied in Suid-Afrika, wat gevolge inhou vir ons kennis oor die psigolinguistiek van plaaslike tale.”
Bylund sê daarom is die MultiCog-lab in Suid-Afrika tot stand gebring met die uitdruklike voorneme om meer gevallestudies, onderrigmateriaal oor taalwetenskap sowel as navorsing uit die globale Suide te skep. “Ons het meer gelokaliseerde werk nodig oor hoe mense taal skep en verstaan, taalvaardighede verwerf, en oor hulle taalverwante kognitiewe funksionering.”
Terselfdertyd is dit volgens hom ook belangrik om na te gaan of bevindinge uit ander wêrelddele steeds op Suid-Afrika en ander meertalige streke in die globale Suide van toepassing is. Indien nie, kan dit sekere implikasies hê vir wat ons as die waarheid oor taalontwikkeling by kinders en volwassenes aanvaar.
Lees ook op Voertaal en LitNet:
Masakhane leads the way for low-resourced African languages online
Eileen Pooe’s Setswana PhD: an interview in three languages
BAQONDE, boosting the use of African language in education: an interview with Bassey Antia
Die Afri-Kwé-taalprojek beklemtoon historiese en toekomstige verbintenisse
“Swartafrikaans”: Afrikataalmoedertaalsprekers en Afrikaans?