...
Hy bepleit ’n Suid-Afrika waar meriete die wagwoord is en waar elke Suid-Afrikaner wat ná 1994 in die demokratiese Suid-Afrika gebore is, gelyke geleenthede gebied word om te presteer op grond van meriete.
...
Om Suid-Afrika reg te ruk, sal ’n kopskuif verg wat radikaal verskil van die huidige manier hoe die regering sake doen waar daar oor feitlik alles sentrale beheer is en dinge van bo af ondertoe gebeur.
Suid-Afrikaners sal hulself moet help en dinge plek-plek van onder na bo moet laat gebeur om as voorbeeld en aansporing te dien vir die res van die land, as hulle die ekonomie wil hervorm.
So sê die regsgeleerde en skrywer Frans Rautenbach wie se jongste boek Help yourself South Africa: How ordinary citizens can reform our broken economy (Footprint Press, 2023) pas op die rak verskyn het.
Rautenbach het Dinsdagaand in ’n gesprek met joernalis Max du Preez uitgewei oor sy bloudruk vir ’n Suid-Afrika waar gewone burgers kan help om die land se gebroke ekonomie te hervorm.
Die gesprek, wat in die stampvol Book Lounge in Kaapstad plaasgevind het, is bygewoon deur akademici, lede van burgerregte-organisasies, joernaliste en verskeie ander bekendes. Onder hulle was politieke kommentator Piet Croucamp, digter Joan Hambidge, Barend la Grange van Dialoog vir Aksie, politici en selfs gaste uit die buiteland.
In sy gesprek met Max du Preez het Rautenbach veral klem gelê op die noodsaaklikheid van ’n vryemarkstelsel waaraan alle Suid-Afrikaners op ’n gelyke basis kan deelneem. Hy bepleit ’n Suid-Afrika waar meriete die wagwoord is en waar elke Suid-Afrikaner wat ná 1994 in die demokratiese Suid-Afrika gebore is, gelyke geleenthede gebied word om te presteer op grond van meriete.
Rautenbach het tydens sy gesprek met Du Preez verskeie opmerkings gemaak wat die huidige regering en vakbonde dwars in die krop sal steek. Een daarvan is dat die land se huidige arbeidswetgewing, wat veronderstel is om werkers te beskerm, grootliks bydra tot die land se hoë werkloosheidsyfer en meer skade as goed doen aan die werkersklas.
Rautenbach, wat as advokaat praktiseer, het steeds ’n blywende belangstelling in die arbeidsreg sedert sy dae as arbeidsprokureur. Hy glo dat diegene wat bereid is om vir minder as die minimumloon te werk, toegelaat moet word om dit te doen. Volgens hom sal hulle dan ten minste kos op die tafel en ’n voet in die arbeidsmark hê en vandaar opwaarts kan beweeg pleks daarvan om heeltemal werkloos te wees.
Op ’n vraag van Max du Preez of dit nie tot die uitbuiting van werkers sal lei nie, sê Rautenbach dit sal uiteindelik in die werkgewers se eie belang wees om gelukkige werkers te hê, daarom behoort dit nie noodwendig tot hulle nadeel te wees nie.
...
Werkskepping moet ’n spontane samewerkingsproses wees tussen al die deelnemers.
...
Hy sê werkskepping moet ’n spontane samewerkingsproses wees tussen al die deelnemers. Die staat skep egter deur middel van regulasies grense tussen mense en bereik so die teenoorgestelde van wat nodig is om werkloosheid te hanteer.
Daar word verskeie voorstelle in sy boek gemaak hoe om van die miljoene werklose mense in die land wat van staatstoelae afhanklik is, produktiewe burgers te maak. Dit is volgens hom ’n onhoudbare situasie om al hoe meer mense afhanklik te maak van staatstoelaes. Die land se ekonomie kan dit eenvoudig nie bekostig nie.
Goeie onderwys en geletterdheid is nog een van die boustene wat volgens Rautenbach nodig is om die land se ekonomie te red. Hy sê die huidige resep wat die regering volg ten opsigte van die onderwys is ’n resep vir wanhoop. Die skoolstelsel wat tans toegepas word, is ’n staatstelsel wat sentraliseer, terwyl Suid-Afrika een van die lande in die wêreld is met die grootste diversiteit, sê Rautenbach.
Daarom is die transformasie van die onderwysstelsel een van die noodsaaklikhede wat aangepak moet word. Die manier hoe al hierdie sake – van die onderwys tot arbeidswetgewing en selfs gesondheid en behuising – van bo na onder deur die staat gereguleer word, steek hom dwars in die krop. Hy bepleit ’n benadering van onder na bo, waar die staat ’n veel kleiner seggenskap het oor die manier waarop die samelewing funksioneer.
Volgens Rautenbach is daar geen twyfel dat gedesentraliseerde, privaatonderwys verreweg beter is in terme van koste en waarde vir geld nie, uiteindelik ook in terme van doeltreffendheid. Hy glo dit behoort glad nie soveel duurder as die huidige stelsel te kos nie en stel voor daar moet liewer R20 000 per leerling aan entrepreneurs gegee word om skole te skep in plaas daarvan dat die staat die hele onderwysstelsel sentraliseer.
“Die eksperiment is dat jy ’n begroting van R20 000 per leerder skep, wat die regering op die oomblik betaal en jy gee dit aan ’n private entrepreneur. Jy sê vir R20 000 per kind, per jaar, bou vir ons ’n skool, bestuur die skool, en kom ons kyk na die resultate. Kom ons kyk wie vaar die beste. Dit is ’n demonstrasiemodel. Dan, op ’n later stadium, is my voorstel dat werkgewers na die partytjie moet kom met dieselfde beginsel, pleks van die huidige stelsel van sogenaamde billike indiensname.”
Die manier waarop swart ekonomiese bemagtiging toegepas word, het volgens Rautenbach kennelik misluk. Hy sê slegs ’n baie klein persentasie swart mense in die land word daardeur bevoordeel. “Ironies genoeg het wit mense in die land oor die algemeen ekonomies vooruitgegaan, terwyl die armes nog armer geword het, wat tot gevolg het dat die gaping tussen ryk en arm al hoe groter word pleks van kleiner.”
Rautenbach hoop dat sy voorstelle nie net woorde op papier sal bly nie. Hy wil graag in gesprek tree met entrepreneurs en ondernemers in verskeie vervaardigingsbedrywe wat kan help om die daad by die woord te voeg. Uiteindelik is sy droom om met ’n modeldorpie vorendag te kom sodat mense in die praktyk kan sien hoe gewone mense die land ekonomies kan red en vooruitgaan.
Daarom doen hy ’n beroep op besighede, entrepreneurs en diegene wat reeds op verskillende gebiede betrokke is, hetsy behuising, die onderwys, kragopwekking of wat ook al hulle kundigheidsveld is, om deel te wees van sy droom wat uiteindelik tot almal wat daaraan deelneem, se finansiële voordeel sal wees.
- Fotografie: Jean Oosthuizen