Suid-Afrika het die afgelope week die vierde land in Afrika geword wat Gebaretaal as amptelike taal erken, nadat president Cyril Ramaphosa Woensdag die Wetsontwerp op Gebaretaal onderteken het.
Dit beteken dat Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) nou een van die land se 12 amptelike tale is.
Tot nou toe het die Suid-Afrikaanse Grondwet voorsiening gemaak vir 11 amptelike tale: Pedi, Sotho, Tswana, Swazi, Venda, Tsonga, Afrikaans, Engels, Ndebele, Xhosa en Zoeloe.
Die minister van kuns, sport en kultuur, Zizi Kodwa, sê dit is ’n belangrike mylpaal vir demokratiese Suid-Afrika. Hy sê die erkenning van SAGT sal die lewens van baie mense verander.
“As die bewaarder van die Republiek van Suid-Afrika se nasionale taalbeleid, bring hierdie dag ons nader aan die visie van president Nelson Mandela van ’n demokratiese en vrye samelewing waarin alle mense in harmonie en met gelyke geleenthede saamleef,” het Kodwa in ’n verklaring gesê.
Hy het gesê taal is nie net ’n instrument om te kommunikeer nie. “Dit is ook ’n belangrike hulpmiddel vir sosiale insluiting en deelname. Dit is een van die waardes van ons demokrasie. Die erkenning van Suid-Afrikaanse Gebaretaal as ’n amptelike Suid-Afrikaanse taal bevorder wyer insluiting en verdiep deelname aan ons demokrasie.”
Die minister het ’n beroep op alle sektore van die Departement Sport, Kuns en Kultuur gedoen om ’n voorbeeld te stel en hierdie waardes van sosiale insluiting en deelname te bevorder deur SAGT te omarm en in te sluit.
Hy sê dit sal SAGT in staat stel om nie net in teorie ’n amptelike taal te wees nie, maar ’n praktiese verwesenliking van die visie van insluiting in Suid-Afrika se demokrasie.
Ramaphosa het die wetsontwerp tydens ’n seremonie by die Uniegebou in Pretoria onderteken.
[WATCH]: President @CyrilRamaphosa signs the Sign Language Bill into law at the Union Buildings in Tshwane. South Africa becomes the 4th country on the African continent to recognise sign language as an official language.#SouthAfricanSignLanguage pic.twitter.com/AGlj939bqR
— Presidency | South Africa ???????? (@PresidencyZA) July 20, 2023
Dit is nadat die Nasionale Vergadering in Mei dit goedgekeur het dat artikel 6 van die Grondwet gewysig word om SAGT as amptelike taal in te sluit om die regte van persone wat doof en hardhorend is te bevorder.
Die ander lande in Afrika wat gebaretaal as amptelike taal erken, is Kenia, Zimbabwe en Uganda.
Die erkenning van gebaretaal as ’n amptelike taal verskil van land tot land.
Volgens World Atlas erken 41 lande, insluitend Suid-Afrika, gebaretaal as ’n amptelike taal: 26 is in Europa, ses in Suid-Amerika. Die ander is versprei in Oseanië, Asië en Noord-Amerika.
In die VSA word Amerikaanse Gebaretaal (ASL) nie as ’n amptelike taal op federale vlak erken nie, maar dit word wel in verskeie deelstate, soos New York en Michigan, erken.
Ander lande erken ook hul eie nasionale gebaretale, soos Britse Gebaretaal (BSL) in die VK en Australiese Gebaretaal (Auslan) in Australië.
Oor die algemeen is die erkenning van gebaretaal as ’n amptelike taal ’n belangrike stap in die rigting van die bevordering van inklusiwiteit en toeganklikheid vir dowe gemeenskappe regoor die wêreld.
Die presidensie sê die erkenning van SAGB as ’n amptelike taal is ’n noodsaaklike stap om die regte te verwesenlik van persone wat doof of hardhorend is.
I LOVE YOU ????????#SouthAfricanSignLanguage pic.twitter.com/De60wCfUsU
— Presidency | South Africa ???????? (@PresidencyZA) July 20, 2023
"Suid-Afrikaanse Gebaretaal is ’n inheemse taal wat ’n belangrike element van Suid-Afrikaanse linguistiese en kulturele erfenis uitmaak.
"Dit het sy eie afsonderlike grammatikale strukture en leksikon, en dit is onafhanklik van enige ander taal."
Die nuwe wetgewing poog om die kulturele aanvaarding van SAGB te bevorder en onbillike diskriminasie op grond van gestremdheid uit te skakel, soos gewaarborg deur Artikel 9 van die Grondwet.
Ramaphosa het ook om verskoning gevra vir die tyd wat dit geneem het om die wetsontwerp te onderteken en gesê dit is ’n teken dat alle aspekte daarvan noukeurig oorweeg is.
Lees ook:
Wie word ore aangesit? Suid-Afrikaanse Gebaretaal die twaalfde amptelike taal