Die week se nuus is gedomineer deur tonele by openbare konsultasies oor die grondkwessie, waar die polisie en politieke leiers moeite gehad het om ’n woedende gepeupel in toom te hou. Alomteenwoordig was Julius Malema, wat ook in die middel van ’n nuwe sosiale mediastorm was, nadat hy ’n klag dat hy agter ’n bepaalde plaasmoord was, beantwoord het deur te twiet, “Maybe, maybe not.”
Waarnemers was nog altyd versigtig om te voorspel dat Suid-Afrika ’n tweede Zimbabwe gaan word. Darem tog nie hier nie. Thabo Mbeki en sy buitelandse sake regterhand, Aziz Pahad, het nou wel die aanvanklike grondbesettings deur Robert Mugabe se boewe gesteun, en Mbeki kon maar net nie sover kom om sy held Mugabe se hand te los nie, maar die konsensus in die ANC was dat Suid-Afrika gelukkig was dat ’n ander land die eerste was om die eksperiment te doen en waardevolle lesse aan ander te leer.
In die jare daarna was die regering ferm: geen grondbesettings in Suid-Afrika nie, en dit is steeds die standpunt van Cyril Ramaphosa se nuwe bewind. Die algemene gevoel is voorts dat die president nie regtig onteiening van grond sonder vergoeding as eerste stap in enige plan vir grondhervorming wil vestig nie, maar dat hy so iets moes veins om ’n laaste aanslag van die Zuma-kohort af te weer wat sy verkiesing by laasjaar se ANC-konferensie wou kelder.
Die mosie in die parlement was om die grondwet te wysig om grondonteiening sonder vergoeding toe te laat as ’n eerste stap – tans maak die grondwet dit wel moontlik, maar net as alle ander middele uitgeput is. Die openbare konsultasies deur ’n parlementêre komitee word juis as deel van ’n klassieke burokratiese maneuver gesien om die proses uit te rek tot ná aanstaande jaar se verkiesing. Daarna sal die ANC sy afwatering van die oorspronklike EFF-mosie verder voer.
En laastens, die EFF het tans net 8% van die bevolking se steun. Al is die party groot genoeg om ’n groot lawaai te maak en mense kwaad te maak met hul rassisme, kan hulle die praktiese vrae nie beantwoord nie: Watter nuwe maniere gaan julle vestig om grondhervorming te bespoedig? Die rede dat dit gefaal het, is tog die administratiewe onvermoë van die regering, en dit gaan nie verander nie.
So ’n gerustheid neem verskeie dinge nie in ag nie. Om mee te begin is die Zimbabwiese grondbesettings nie aangevoer deur ’n rasionele plan vir grondhervorming nie. Die vonk daarvoor was die nydigheid onder sogenaamde oorlogsveterane teenoor die nuwe soldate van Zimbabwe, wat skatryk van die oorlog in die Kongo teruggekeer het met die opbrengs van diamanthandel daar. Dit was om hul eise te onderskraag dat die veterane Mugabe se ministers se plase gaan beset het.
Mugabe het elkeen ’n afkoopsom betaal en beskuldig van verraad omdat hulle Zanu-PF-mense se grond beset, en nie blanke boere s’n nie. Die res is geskiedenis.
Soos die veterane het die EFF geen rasionele beleid nie. Dis ’n slagspreukparty gestig nadat die halwe weeskind Julius Malema se vaderfiguur, Jacob Zuma, hom uit die ANC laat gooi het. En toe hy wel ’n impak maak, het Zuma die grondkaart begin speel om sy steun te probeer wegkalwe. Met Mugabe as sy rigsnoer? Miskien, miskien nie.
Tweedens het die EFF nie ’n plan vir grondhervorming nodig nie. Malema hoef nie eens te sê wat hy bedoel met “grond” nie. In dele van die land is daar reeds ’n lae-vlak oorlog teen wit boere aan die gang, met die polisie wat dikwels die rug draai op veediefstal, diefstal van toerusting, gebruik van weivelde sonder toestemming en soortgelyke wetteloosheid. Het plaasmoorde iets hiermee te doen? Malema het mos gesê: Miskien, miskien nie.
Die geregtelike argitektuur is reeds in posisie om grondbesettings á la Zimbabwe moontlik te maak sonder enige meesterplan. As iemand ’n stellasie op jou grond opslaan, vereis die wet dat jy dadelik optree, maar jy mag nie die wet in eie hande neem nie, jy moet die polisie betrek. Wag jy te lank, is dit neusie verby.
Dan onttrek die polisie, want ’n ander wet tree in werking. ’n Nedersetting is gevorm en die plaaslike owerheid is wetlik verplig om na die inwoners om te sien. Jy kan jou op die hof beroep om die besetters onwettig te laat verklaar, maar dis ’n lang proses wat jare kan duur. Tog kan jy steeds daarna jou grond besit, en dalk aan ’n plaaslike owerheid verkoop of verhuur, of aanspraak maak op vergoeding.
’n Grondwet wat summier onteiening toelaat, sal van meet af aan ’n swaard oor die proses laat hang, en eienaars van besette grond sal dalk dan vroeg reeds maar liewer die handdoek ingooi. Al sal dit nie nasionale beleid wees nie, kan niemand staatmaak op die polisie nie, wat dikwels kop in een mus met oortreders skyn te wees. En as munisipaliteite nie hoef op te dok nie, sal hulle maar Malema se water oor Godsakker laat loop.
Sulke besettings was tot dusver te sporadies om ’n blywende politieke impak te hê, maar die vraag is: Wat sal gebeur as die grondwet summiere grondonteiening toelaat en die EFF kom met ’n gelyktydige besetting van grond landwyd? Sal Malema so iets kan aanstig? Miskien, miskien nie.
Die oorplasing van grond in swart mense se hande is noodsaaklik as ons vrede in die land wil hê. Maar dit gebeur juis nie, nie weens sabotasie deur wittes nie, maar die “lack of capacity”, of in gewone taal die slegtigheid van die ANC-administrasie. Die krisis is geskep deur burokratiese agterstande en diep gesetelde korrupsie in die meeste van die land se aktekantore, waar daar chaos heers.
Sommige grondkenners wonder selfs of daar nie ’n geheime plan iewers is, sê maar die SAKP, vir die staat om bietjie vir bietjie grond te versamel nie, deur nie swartmense hul aktes te gee nie, en deur nie die grond van stamme in die ou tuislande te onteien nie. Sulke gerugte is versterk toe Zuma se minister, Gugile Nkwinti, begin praat van die staat as “custodian” van die land se grond.
Ramaphosa lyk meer soos ’n neoliberale kapitalis, in die lig van sy veldtog in die buiteland om R100-miljard se beleggings te kry, en Nkwinti is verskuif. Maar daarvan gepraat, hoe kyk die buiteland na Suid-Afrika? Met groot kommer, het Duitse sakemanne onlangs aan ’n span van die Instituut vir Rasseverhoudinge gesê. Hulle sien die onstabiele grondsituasie teen die agtergrond van die regering se kansellering van handelsverdragte wat beleggingsekuriteit waarborg.
Eerlike sakemanne is so skaars soos vals hoendertande: hulle weet goed die doel met hierdie stap is om die skewe handelsverhoudinge, wat growwe uitbuiting van ontwikkelende lande moontlik maak, te probeer aanspreek. Al wat buitelandse beleggers wil hê is konsessies van regerings en ’n werkmag wat krepeer van die honger. Dit sal hulle kry as die landbou-ekonomie van Suid-Afrika in duie stort.
Grootskeepse grondbesettings kan op ’n redelik ordelike wyse plaasvind binne die scenario hierbo geskets, as kommersiële boere alleen gelaat word en net regeringsgrond, naweekplase en perdestalle in die slag bly. Die nuwe stabiliteit en armoede kan dalk weer buitelandse beleggings aanlok. Maar as is verbrande koerantpapier, en in die rassistiese atmosfeer waarin mense Hitler openlik vergoeilik en etniese suiwering verkondig, kan so ’n kampanje maklik ontaard in iets erger.
Indien hierdie “worst-case” scenario wel geskied, is die volgende kwessie: wat gaan in die Kaap gebeur? Die afstammelinge van Khoisangroepe het ’n veel sterker aanspraak op grond as Xhosasprekers uit die Oos-Kaap. Sal hierdie groepe genoeg motivering hê om die politieke balans met grondbesettings te versteur? En as niks daar gebeur nie en die res van die land stort in duie, sal die Kaap dan afstig?
Miskien, miskien nie.
Buro: MvH