Suid-Afrika oorweeg ook Covid-paspoorte

  • 0

Suid-Afrika oorweeg, net soos sommige ander lande, die instelling van Covid-paspoorte om toegang tot die land te kry wanneer die landsgrense weer oop is vir toeriste.

Die instelling van sogenaamde Covid-paspoorte word wêreldwyd ook al hoe meer vereis om toegang te verkry tot kuierplekke soos nagklubs en museums.

Verlede maand is toeriste in Frankryk met nuwe maatreëls gekonfronteer toe hulle ’n spesiale Covid-19-paspoort moes toon om toegang tot kulturele en ander besienswaardighede te verkry.

Volgens die nuusagentskap Associated Press het die nuwe maatreëls, wat aan die begin van die Europese somerseisoen ingestel is, chaos en verwarring veroorsaak. Om toegang tot toeriste-aantreklikhede te verkry moet toeriste ’n Covid-paspoort bekom wat bewys dat hulle volledig ingeënt is teen COVID-19 of dat hulle onlangs van die infeksie herstel het of negatief getoets is vir COVID-19. Die verwagting is dat die vereiste van sulke paspoorte ook na restaurante en ander kuierplekke kan uitbrei.

Terwyl Suid-Afrika se internasionale grense ook besig is om weer oper te raak en die land hom gereed maak om buitelandse toeriste in die land te verwelkom, krap die owerhede kop hoe om dit op ’n veilige manier te doen.

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, sê sy departement werk saam met die sakesektor om te verseker dat Suid-Afrika sy grense suksesvol vir internasionale reise kan heropen. Hy het vroeër vanjaar tydens sy begrotingstoespraak in die parlement gesê Suid-Afrika moet seker maak die land is in pas met ander lande se regulasies ten opsigte van internasionale reise.

Die Departement van Toerisme het die afgelope week in die parlement laat blyk hulle oorweeg ook Covid-paspoorte vir Suid-Afrika. Die departement se direkteur-generaal, Nkhumeleni Victor Tharage, het volgens Businesstech gesê die sleutelaspek wat nog aangespreek moet word, is die gebrek aan wêreldwye standaardisering wat Covid-paspoorte betref.

Hy het die afgelope week aan die parlement se portefeuljekomitee oor toerisme gesê selfs in die gebiede waar daar besluit is om Covid-paspoorte in te stel bestaan daar nie eenvormigheid nie.

Hy sê indien Suid-Afrika sulke paspoorte vereis waarop aangedui moet word dat iemand ingeënt is, bestaan die vraag steeds of dit geverifieer en op ’n databasis gestoor kan word.

Tharage sê Suid-Afrika staar dieselfde dilemma as ander lande in die gesig om toeriste wat uit die buiteland in die land aankom se status rakende Covid te verifieer.

Hy sê die regering is versigtig om nie maatreëls soos vaksienpaspoorte in te stel wat diskriminerend kan wees teen sekere groepe nie.

“Wanneer die grense weer oop is en almal weer begin reis, moet daar nie teen sekere mense gediskrimineer word nie.”

Nog ’n vraag waaroor daar duidelikheid moet kom, is waar sulke paspoorte verpligtend sal wees. Volgens Tharage gaan dit uiteindelik daaroor om die nodige vertroue te wen van die verbruikers, toeriste en die handel. Hy sê indien die regering nie daarin slaag om dit reg te kry nie, sal dit ’n negatiewe impak hê op die stryd teen Covid.

Tharage het geen aanduiding gegee of die regering soortgelyke maatreëls as Brittanje oorweeg waar sogenaamde Covid-paspoorte vanaf September verpligtend sal wees om byvoorbeeld in nagklubs toegelaat te word nie.

Kuierplekke soos kroeë en nagklubs word as potensiële superverspreiders van die koronavirus beskou. Volgens die BBC het Brittanje se premier, Boris Johnson, gesê hy wil nie graag weer nagklubs sluit nie, maar dan moet hulle hul sosiale verantwoordelikheid nakom.

Restaurante en museums in verskeie Europese lande vereis reeds dat besoekers ’n koronapaspoort moet toon om toegang te verkry.

De Standaard berig dat koronapaspoorte nie in België verpligtend is by restaurante en museums nie. Van verlede week af mag mense in België egter wel sonder ’n masker op sekere plekke in die buitelug loop as hulle in besit is van ’n Covid-veilige bewys. Van volgende maand af sal dit ook by sekere groot binnenshuise geleenthede geld.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top