Suid-Afrika op die rand van algehele kragkrisis

  • 0

Al die elemente vir ’n omvattende krisis in die land se kragvoorsiening is tans teenwoordig. Wie dit wil vryspring, sal self planne moet maak.

Hierdie waarskuwing is Woensdag deur die Vryheidsfront Plus gerig terwyl Eskom, wat die land se hoofkragvoorsiener is, van die een krisis na die volgende strompel.

Eskom het Woensdag aangekondig dat verdere beurtkrag nodig is om ’n  “katastrofiese” ineenstorting van die kragnetwerk te voorkom.

As gevolg van die kragstelsel wat nie funksioneer soos dit moet nie, moet Eskom diesel op groot skaal gebruik en aankoop.

Eskom verbrand tans bykans nege miljoen liter diesel per dag om die netwerk aan die gang te hou.

Volgens Eskom staar ’n katastrofiese ineenstorting van die land se kragnetwerk Suid-Afrikaners in die gesig as hulle die noodreserwes vinniger opgebruik as wat dit aangevul kan word – soos wat tans die geval is.

Wynand Boshoff van die Vryheidsfront Plus sê in ’n verklaring kragverbruikers wat die vernietigende uitwerking van hierdie krisis wil afweer, sal hul eie planne moet maak. Die prys van sonpanele en rugsteunbatterye moet nie meer met munisipale kragtariewe vergelyk word nie, maar met die skade van langdurige en gereelde kragonderbrekings, het hy gesê.

“Wat tans gebeur, is dat internasionale skommelings die staat se leemtes vermenigvuldig. Suid-Afrikaners is dus genoodsaak om hulself daarteen te beskerm, ongeag of hulle dink dat dit hul verantwoordelikheid behoort te wees of nie.”

Eskom het Woensdag gewaarsku dat fase 7-beurtkrag die land se voorland is as die diesel wat tans gebruik word, opraak. Dit beteken Suid-Afrikaners sal tot 9,5 uur per dag sonder krag wees.

Volgens Eskom se bedryfshoof, Jan Oberholzer, staan die kragverskaffer voor talle uitdagings, nadat net minder as 21 000 megawatt se opwekkingsvermoë verlore gegaan het.

Hy het gewaarsku daar is ’n risiko dat nog 16 opwekkingseenhede onklaar kan raak, waarvan drie ’n hoë risiko verteenwoordig. Tydens ’n inligtingsessie het Eskom gesê dit was noodsaaklik dat fase 4-beurtkrag ingestel is om die dieselvoorraad op te bou.

Eskom kon Woensdag geen versekering gee dat beurtkrag beëindig sal word nie. Daar is selfs gewaarsku dat die stelsel nie tans volhoubaar is nie en dat daar meer as fase 8-beurtkrag kan wees as dinge skeefloop.

Volgens Boshoff van die Vryheidsfront Plus is dit ou nuus dat Eskom se opwekkingseenhede oud is en soms uit die bloute onklaar raak. Dieselfde geld vir eenhede wat vir noodsaaklike en agterstallige onderhoud onttrek moet word.

Oor die afgelope weke het die onvoorspelbare uitwerking van die Oos-Europese oorlog egter deel van die vergelyking geword. Ruoliepryse het geweldig gestyg, met die onafwendbare gevolglike styging in dieselpryse.

Boshoff waarsku dat dié toestand nog maande mag voortduur tensy vrede binne dae gesluit word. Die onvoorspelbaarheid vererger die krisis, sê hy.

Die belang van dieselpryse vir elektrisiteitsvoorsiening is die gevolg daarvan dat oopsiklusdieselkragopwekkers die enigste tegnologie is wat op kort kennisgewing aangeskakel kan word om die uitwerking van piekverbruik, of onvoorsiene brekasies, te verlig, maar dit kan eenvoudig onbekostigbaar raak.

Volgens Boshoff is finansiering tans ’n groot hindernis. Hy sê doelgemaakte oplossings, soortgelyk aan voertuigfinansiering, behoort deur banke ontwerp te word. “’n Aanleg vir eie kragvoorsiening is ’n roerende bate wat eienaars daarvan geld sal bespaar. Munisipaliteite kan betrokke raak deur betalingsgeskiedenis van verbruikers na te gaan en afbetaling wat maandeliks as deel van diensterekeninge ingesamel word.”

Volgens voorlopige aanduidings sal  fase 4-beurtkrag tot Vrydagoggend om 05:00 duur, waarna fase 2-beurtkrag tot Maandagoggend om 05:00 sal voortduur.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top