.....
“Die joernalis Chris Burgess skryf op Landbou.com die rimpeleffek van hierdie haas ondenkbare situasie gaan tot die laaste uithoek van die ekonomie uitkring. ‘Daar gaan werklike pyn wees – werkverliese, bankrotskappe en verdiepende armoede’.”
.....
Daar word gevrees dat die koronavirus miljoene mense in armoede kan dompel namate die erns van die situasie al hoe meer by Suid-Afrikaners begin insink.
Die rand het Woensdag op sy swakste vlak nog gesluit toe die geldeenheid verswak het tot verby R18 per dollar. Die geldeenheid se verswakking word aangedryf deur die krediet-graderingsagentskap Moody’s Investors Service se afgradering verlede Vrydag en die koronavirus wat besig is om die hele wêreld se ekonomie op sy knieë te dwing.
Foto: Pixabay.com
Die joernalis Chris Burgess skryf op Landbou.com die rimpeleffek van hierdie haas ondenkbare situasie gaan tot die laaste uithoek van die ekonomie uitkring. “Daar gaan werklike pyn wees – werkverliese, bankrotskappe en verdiepende armoede.”
Hy sê die groot gevaar is dat besmettingsvlakke so handuit ruk dat die land se gesondheidsdienste oorweldig word. “Namate die situasie vererger kan gesondheidspersoneel ook al sieker word. Dan gaan Suid-Afrika op ’n onbestuurbare afwaartse spiraal beland. Die wêreld sal noot weer dieselfde wees nie,” skryf Burgess in sy rubriek.
Hy sê ekonomies gesproke is groter strukturele skuiwe ook op pad. Lande gaan noodgedronge ook hulle ekonomiese afhanklikheid van invoer en van uitvoer na ’n enkele ekonomiese super-moondheid soos China in oënskou moet neem. “Miskien is die heel goedkoopste T-hemp nie die beste opsie nie. Miskien is ’n ietwat duurder een wat in die Kaap vervaardig is, op die lang duur beter en meer volhoubaar.”
.....
“Die rand het Woensdag op sy swakste vlak nog gesluit toe die geldeenheid verswak het tot verby R18 per dollar. Die geldeenheid se verswakking word aangedryf deur die kredietgraderingsagentskap Moody’s Investors Service se afgradering verlede Vrydag en die koronavirus wat besig is om die hele wêreld se ekonomie op sy knieë te dwing.”
.....
Moody’s se afgradering van die land se ekonomie tot rommelstatus het intussen verder uitgekring. Kredietgraderingsagentskappe voorspel dat moeilike tye voorlê vir Suid-Afrikaanse banke. Netwerk24 berig dat Moody’s behoorlik met die mes ingeklim het onder Suid-Afrikaanse maatskappye se skuldgradering.
Al vyf die land se grootste banke is tot rommelstatus afgegradeer. Moody’s het die afgelope week ook Eskom, die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, die Landbank, die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en die Lughawemaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) se skuldgraderings verlaag.
Op die webwerf ProAgri word geskryf dat ’n perfekte storm ’n geruime tyd aan die broei is weens beleidsonsekerheid, swak ekonomiese groei, stygende skuldvlakke, ’n afname in inkomste aan die fiskus, ongebreidelde korrupsie en onbevoegdheid in staatsdepartemente. “Verder sal die COVID-19-pandemie op die ekonomie, die Suid-Afrikaanse ekonomie, maar ook die streek- en wêreldekonomie verswak.”
Illustrasie: Pixabay.com
Agri SA het intussen ’n beroep op president Cyril Ramaphosa en die minister van finansies, Tito Mboweni, gedoen om die bul by die horings te pak en maatreëls in werking te stel om staatskuld onder beheer te bring, om besparingsmaatreëls in te stel, die SAL en ander staatsondernemings wat swak presteer van die hand te sit, die salarisrekening van die regering drasties af te skaal en gebrekkige dienslewering deur staatsdepartemente en plaaslikeregeringsentiteite vas te vat.
Die minister van staatsdiens en administrasie, Senzo Mchunu, sê egter die regering bly verbind tot sy onderneming om staatsamptenare se salarisse te verhoog. Mchunu het wel benadruk dat die ekonomie onder groot druk is weens die uitbreking van die koronavirus asook Moody’s se afgradering van die land se beleggingstatus.
Moody’s beraam dat Suid-Afrika se skuldlas in die 2023-boekjaar 91% van die BBP sal behels. Die fiskale posisie van Suid-Afrika word verder in die gedrang gebring deur die COVID-19-pandemie. Volgens navorsing deur Bloomberg Economics sal Suid-Afrika een van 10 lande wees wat die ergste deur die koronavirus geraak sal word.
China is Suid-Afrika se grootste uitvoermark en die waarde van Suid-Afrikaanse goedere wat in 2019 uitgevoer is, beloop bykans R180 miljard. Nedbank het bereken dat ’n afname van 10% van Suid-Afrikaanse uitvoere na China BBP-groei met 38 basispunte kan laat afneem.
AgriSA sê die land se ekonomie is tans op ’n baie slegte plek. “En die regering se finansies en dié van huishoudings is geweldig onder druk. Die veerkragtigheid van die private sektor en die Suid-Afrikaanse rand kan egter die gety laat draai.” Agri SA het ’n beroep op die regering gedoen om hand aan hand met die private sektor saam te werk om bevorderlike omstandighede te skep om die land se ekonomie te red.
Buro: MvH