Die Toerisme Besigheidsraad van Suid-Afrika (TBCSA) het ’n ernstige pleidooi aan die Europese Unie (EU) gerig om die reisbeperkings teen Suid-Afrika te heroorweeg, weens die vernietigende effek wat dit op die land se ekonomie het.
In ’n ope brief aan die EU sê die hoof- uitvoerende beampte van die TBCSA, Tshifhiwa Tshivhengwa, in die lig van die huidige werklikheid word die reisverbod oorbodig. Reise tussen die EU en Suid-Afrika behoort volgens hom volledig heringestel te word.
In die brief wat gerig is aan die hoof van die EU-afvaardiging: Suid-Afrika, Riina Kionka, sê hy die reisverbod is nou minder effektief om die verspreiding van Omikron in die buiteland te vertraag.
Die brief versoek ’n dringende inligtingsvergadering om die kritieke kwessie van die EU-reisbeperkings op Suid-Afrika te bespreek. Die beperkings bly van krag ondanks die feit dat die Verenigde Koningryk (VK) Suid-Afrika reeds van sy rooilys verwyder het.
Business Insider SA berig dat die aanvanklike impak van die reisverbod gelei het tot R1 miljard se gekanselleerde besprekings.
Suid-Afrika verwelkom gewoonlik ongeveer 685 000 Europese reisigers elke jaar, met die somermaande wat die gewildste is. Dit was voor die COVID-19-pandemie die wêreld getref het.
Gedurende Desember 2019 en Januarie 2020 het meer as 300 000 Europese toeriste na Suid-Afrika gereis. Dit het gedurende die vorige somerseisoen met byna 90% gedaal, tot net 35 000 reisigers, aangesien beperkings op reisigers na Suid-Afrika verskerp is ná die opsporing van die Beta-variant.
Tshivhengwa sê in sy brief aan die EU terwyl Suid-Afrika die risiko wat Covid steeds bied, en die verstaanbare kommer rondom die oordraagbaarheid van Omikron ten volle erken, wil hy die aandag vestig op die onlangse bevindinge van die eerste werklike evaluering van die variant wat deur Suid-Afrika se grootste private gesondheidsversekeraar, Discovery Health, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad bekendgemaak is.
Hierdie navorsing het aan die lig gebring dat twee dosisse van die Pfizer-BioNTech-entstof steeds ’n 70%-beskerming teen ernstige komplikasies van Omikron verleen en dat die risiko van hospitalisasie onder alle volwassenes 29% laer is vir diegene met die Omikron-variant, in vergelyking met die aanvanklike variant wat in China ontstaan het.
Hy sê dit is veral bemoedigend dat die data aandui dat 70% van alle Covid-verwante hospitaalopnames dié van mense is wat nie ingeënt is nie en dat daar duidelike tekens is dat hospitalisasiekoerse nie gemeenskapsoordrag volg soos wat hulle met die vorige drie golwe gedoen het nie.
"Terwyl ons erken dat die vinnige instelling van ’n reisverbod ’n vroeë noodsaaklikheid van regerings was om tyd te koop om die Omikron-risiko te evalueer, doen ons nou ’n beroep op die EU om reise tussen Suid-Afrika en u lande weer in te stel. Gesien die hoë infeksiekoerse in meer as 50 lande regoor die wêreld beteken dit dat ’n persoon die Omikron-variant net so maklik in Amsterdam, Berlyn, Brussel of Parys kan kry as in Johannesburg of Kaapstad," het Tshivhengwa in die brief wat verlede Vrydag afgelewer is, gesê.
Hy sê in die lig van hierdie werklikheid het die reisverbod oorbodig geword. “Ek kan nie die negatiewe impak wat hierdie reisverbod op ons bedryf, plaaslike gemeenskappe en bewaringspogings van ons ekonomie het, oorskat nie, veral oor die uiters belangrike Kersvakansietydperk."
Tshivhengwa het in die brief aan Kionka verduidelik dat die nasionale inkomste uit toerisme in Suid-Afrika in ’n tipiese jaar sowat R285 miljard of €16 miljard is, wat 726 000 direkte werksgeleenthede en altesaam 1,5 miljoen poste direk en indirek ondersteun.
Met erkenning van die aanvanklike impak van die reisverbod, wat gelei het tot R1 miljard wat verlore gegaan het vir gekanselleerde besprekings, het Tshivhengwa geraam dat verliese tot €1,4 miljard (R24,93 miljard) kan toeneem as die verbod voortduur, wat tot 205 000 minder jaarlikse werkgeleenthede in die toerismebedryf sal lei.
Ongoing travel bans could cost SA R25 billion and more than 200,000 jobs, says tourism group https://t.co/hf9WMPboCW pic.twitter.com/5v3njtz3hH
— Business Insider SA🇿🇦 (@BISouthAfrica) December 21, 2021