Suid-Afrika rol die rooi tapyt uit vir Rooi-China

  • 0

China se president Xi Jinping het Maandag om middernag in Suid-Afrika aangekom vir sy vierde staatsbesoek aan die land, wat saamval met die 15de Brics-beraad wat van 22 tot 24 Augustus plaasvind.

Leiers van die Brics-lande, Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika, het Dinsdag in Johannesburg saamgetrek vir ’n  beraad waar hulle dit ook sal oorweeg om die aantal lande in die blok uit te brei.

Nadat Xi Maandagnag by die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg aangekom het, is hy verwelkom met ’n  kulturele sang- en dansoptrede asook ’n  militêre parade deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW).

Suid-Afrika en China het in 1998 diplomatieke betrekkinge gesmee. Oor 25 jaar het die twee lande hul wye bilaterale betrekkinge verdiep en dit verhef tot die vlak van ʼn omvattende strategiese vennootskap.

President Cyril Ramaphosa sê hy en Xi het Dinsdag die voortslepende konflik tussen Rusland en Oekraïne en die beduidende impak daarvan op ontwikkelende ekonomieë in Afrika en elders bespreek.

“Ons het saamgestem oor die belangrikheid van dialoog en onderhandeling tussen die twee kante. As Suid-Afrika is ons bemoedig dat president Xi die vredesending na Rusland en Oekraïne wat deur Afrika-leiers geïnisieer is, verwelkom het.”

Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse rubriek geskryf 2023 is die 25ste jaar van diplomatieke bande tussen Suid-Afrika en die Volksrepubliek China.

“Ons bilaterale verhouding met ons grootste handelsvennoot is amper so oud soos ons demokrasie,” het hy gesê.

Ramaphosa sê benewens ’n  aantal gestruktureerde bilaterale meganismes werk Suid-Afrika en China saam aan internasionale strategiese platforms soos die Forum oor China-Afrika-samewerking of FOCAC, Brics, die G20, die G77 plus China-alliansie, en ander.

Betrekkinge tussen die twee lande word ondersteun deur ’n  tienjaar- strategiese program van samewerking (2020–2029). Xi se besoek is volgens Ramaphosa ’n  geleentheid om vordering op die gebied van samewerking te assesseer en maniere te identifiseer om samewerking te verdiep.

Hy sê energiesamewerking tussen Suid-Afrika en China is ’n  fokusarea wat groot belofte inhou. In Junie vanjaar het maatskappye van beide lande deelgeneem aan ’n  Nuwe-energiebeleggings- en samewerkingskonferensie wat gefokus het op geleenthede vir samewerking in die groen ekonomie, regverdige energie-oorgang en die oordrag van wetenskap en tegnologie.

Ramaphosa sê Suid-Afrika het baie om uit China se ontwikkelingspad te leer. Hy sê onder ander prestasies het China oor ’n  tydperk van 40 jaar byna 800 miljoen mense uit armoede gelig. “Volgens inligting van die Wêreldbank het China hierdeur byna driekwart van die wêreldwye vermindering in die aantal mense wat in uiterste armoede leef bygedra,” het Ramaphosa gesê.

Daar is reeds sowat 200 Chinese maatskappye wat op hierdie gebied in Suid-Afrika werksaam is.

Tydens hierdie staatsbesoek het Suid-Afrika en China ook politieke steun vir mekaar se kernbelange herbevestig.

“Ons het ook ooreengekom om bilaterale samewerking in handel, belegging, infrastruktuurontwikkeling, energie, toerisme, onderwys en opleiding en digitale tegnologie te verdiep,” het Ramaphosa gesê.

Hy sê China is Suid-Afrika se grootste handelsvennoot en Suid-Afrika is China se grootste handelsvennoot in Afrika.

“Ons het die behoefte bespreek om die handelstekort tussen Suid-Afrika en China te verklein, en dat een van die maniere om dit te doen, is deur groter marktoegang vir Suid-Afrikaanse uitvoergoedere met toegevoegde waarde na die Chinese mark te verseker.”

Brasilië se Luiz Inacio Lula da Silva en die Indiese premier, Narendra Modi, woon ook die beraad by.

Brics is ’n  blok van ontluikende ekonomieë. Dit maak tans ’n  kwart van die globale ekonomie uit en is ook die tuiste van meer as 40 persent van die wêreld se bevolking.

Rusland se president, Wladimir Poetin, vir wie ’n  internasionale arrestasiebevel vir beweerde oorlogsmisdade in Oekraïne uitgereik is, sal nie na Suid-Afrika reis nie en eerder virtueel by die Brics-beraad aansluit.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top