
Pous Franciskus (Copyright by The Korean Culture and Information Service under the Ministry of Culture, Sports and Tourism shared under Creative Commons Attribution-ShareAlike 2.0 Generic Licence via WikiMedia)
Meegevoel met die afsterwe van pous Franciskus, hoof van die Katolieke Kerk, gister (Maandag), het uit verskeie oorde en geloofsgemeenskappe regoor die land ingestroom.
Onder die Suid-Afrikaners wat hulle meegevoel betuig het, was president Cyril Ramaphosa, die DA se leier, John Steenhuisen, en die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis.
Die Suid-Afrikaanse Katolieke gemeenskap maak ongeveer 3,8 miljoen mense, of 7–10% van die land se bevolking uit.
Pous Franciskus was die eerste pous uit Latyns-Amerika en die Suidelike Halfrond. Sy dood beteken die einde van ’n 12 jaar lange pontifikaat wat op vrede, armoedebestryding en hervorming binne die Katolieke Kerk gefokus het. In Suid-Afrika, waar sosiale en ekonomiese ongelykheid voortduur, het sy boodskappe oor geregtigheid en versoening ’n besondere weerklank gehad.
Franciskus, wat ook die eerste nie-Europese pous in byna 1 300 jaar was, het sy laaste dae in diens van die kerk deurgebring.
Op sosiale media word hy wêreldwyd geprys as ’n inspirerende figuur wat gelykheid en diens aan die armes bevorder het.
Ramaphosa het namens die regering en volk van Suid-Afrika hulde gebring aan die pous en sy diepste medelye betuig met die heengaan van pous Franciskus aan Katolieke in Suid-Afrika betuig en ook wêreldwyd.
Die pous is vroeg Maandagoggend in sy Vatikaan-woning, die Casa Santa Marta, oorlede.
President Ramaphosa het gesê: “Katolieke en mense van alle gelowe is bedroef oor die heengaan van ’n geestelike leier wat daarna gestreef het om die mensdom te verenig en ’n wêreld wou sien wat deur fundamentele menslike waardes beheer word.
PRESIDENT RAMAPHOSA MOURNS PASSING OF POPE FRANCIS
On behalf of the government and people of South Africa, President @CyrilRamaphosa offers his deep condolences to Catholics in South Africa and globally on the passing of the Holy Father Pope Francis.
Aged 88, the Pope passed… pic.twitter.com/os9JUzFpts
— The Presidency 🇿🇦 (@PresidencyZA) April 21, 2025
“As leier van die Kerk en ’n globale leiersfiguur het pous Franciskus ’n wêreldbeskouing van insluiting, gelykheid en sorg vir gemarginaliseerde individue en groepe bevorder, asook verantwoordelike en volhoubare sorg vir die natuur en omgewing.
“Sy buitengewone lewensverhaal en vordering tot die Heilige Stoel het met nederigheid en ’n diepgaande toewyding ontvou om die Kerk en die wêreld ’n beter plek vir die ganse mensdom te maak.”
Ramaphosa sê na die viering van Paasfees so kort gelede, sal pous Franciskus se heengaan meebring dat mense nou ’n langer periode van gebed en besinning beleef. Dit kan die Kerk en die internasionale gemeenskap verenig in nabetragting oor die pous se lewe en nalatenskap.
Die leier van die DA, John Steenhuisen, sê pous Franciskus sal onthou word vir sy progressiewe leierskap van die Kerk, en sy deernis met diegene in nood.
“As staatshoof van die Vatikaanstad en hoof van die Heilige Stoel het pous Franciskus nie weggeskram van moedige posisies wat vrede en verdraagsaamheid vir almal soek nie,” het Steenhuisen in ’n verklaring gesê.
Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het op X gesê hy betuig sy opregte medelye aan die Katolieke gemeenskap van Kaapstad met die hartseer nuus van die heengaan van pous Franciskus.
Hy sê gedurende die 12 jaar van sy pontifikaat het pous Franciskus dikwels gepraat oor die sentrale boodskap van Christendom, naamlik liefde vir mekaar, en die mense herinner aan Jesus se gebod: “Julle moet mekaar liefhê soos ek julle liefgehad het. Aan hierdie liefde sal almal weet dat julle my dissipels is” (Johannes 13:34).
I convey my heartfelt condolences to the Catholic community of Cape Town on the sad news of the passing of His Holiness Pope Francis 🤍🕊️
Over the 12 years of his papacy Pope Francis spoke often of the central message of Christianity being one of love for one another - reminding… pic.twitter.com/DMR9zyFU4F
— Geordin Hill-Lewis (@geordinhl) April 21, 2025
Hill-Lewis het die hoop uitgespreek dat almal in hierdie tyd van rou geïnspireer sal word deur pous Franciskus se lewensboodskap en die voorbeeld van Christus waarop hy voortdurend almal se aandag gevestig en self nagevolg het.
Barbara Creecy, minister van vervoer, het ook haar stem gevoeg by die stemme van diegene wat hulde aan pous Franciskus gebring het.
“Laat ek begin deur ook my meegevoel aan die Rooms-Katolieke Kerk in Suid-Afrika en regoor die wêreld te betuig vir die afsterwe van pous Franciskus. Inderdaad was sy lewe ’n goeie lewe, en ons wil almal ondersteun wat in rou is oor sy heengaan,” het Creecy aan die SAUK gesê.
Aartsbiskop Thabo Makgoba van die Anglikaanse Kerk in Suid-Afrika het pous Franciskus as die voorvegter van die armes beskryf.