Suid-Afrika se atlete slaggereed om die land se vlag in Parys te laat wapper

  • 0

Suid-Afrikaanse atlete is slaggereed om soveel as moontlik medaljes huis toe te bring vanaf die Olimpiese Somerspele 2024 wat dié week in Parys begin.

Suid-Afrika sal van 26 Julie tot 11 Augustus 2024 aan die spele deelneem. Dit sal die land se negende agtereenvolgende verskyning by die spele in die postapartheid era wees en algeheel die 21ste in die Somerspele-geskiedenis.

Suid-Afrika se vroegste deelname kan teruggevoer word na 1904. Sedert die byeenkoms se vroeë dae het Suid-Afrika 89 medaljes ingesamel, insluitend 27 goues.

Histories is Suid-Afrika se mees algemene bronne van medaljes atletiek (28 medaljes), swem (20) en boks (19).

Hoewel die spele eers amptelik met Vrydag se openingseremonie begin, het die kompetisie reeds gister (Woensdag) afgeskop met Span Suid-Afrika se sewesrugbyspan wat by die ikoniese Stade de France teen Ierland gespeel het. Ierland het 10–5 gewen. Kort daarna het Nieu-Seeland ook die Bokke met 17-5 geklop.  

Vandag (Donderdag) sal Suid-Afrika om 16:00 kragte meet teen Japan. Die medaljewenners in hierdie afdeling sal Saterdag gekroon word.

Ongeveer 200 lande sal na verwagting aan vanjaar se spele deelneem, wat duisende atlete van regoor die wêreld byeen bring om aan meer as 20 dissiplines deel te neem.

Boodskappe van bemoediging aan die Suid-Afrikaanse span het die afgelope week van oral ingestroom, met almal van sportlui tot politici wat hulle aanmoedig.

Die voorsitter van die portefeuljekomitee oor sport, kuns en kultuur, Joe McGluwa, het die komitee se beste wense gestuur aan die Suid-Afrikaanse span wat aan soveel verskillende sportsoorte gaan deelneem, van atletiek en swem tot branderplankry, kanovaart, sewesrugby en gimnastiek.

“Die werk wat die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Sascoc) doen, is prysenswaardig. Ons wil graag verbetering sien in die finansiële ondersteuning wat die Departement van Kuns, Sport en Kultuur aan atlete gee vir hul ontwikkeling en hul suksesse. Nietemin glo ons die span wat ons in Parys verteenwoordig, sal baie medaljes huis toe bring,” het McGluwa in ’n verklaring gesê.

Hy sê Suid-Afrika is trots om in die spele mee te ding met medalje-aanspraakmakers soos Gerda Steyn, Wayde van Niekerk, Akani Simbine, Luxolo Adams, Chad le Clos, Tatjana Smith en vele ander.

“Hierdie atlete moet moed skep uit die sukses van die Springbokspan in die Wêreldbekerrugbytoernooi in Frankryk in November 2023,” het hy gesê. “Ons wens die Mzansi-span alle sterkte toe, beginnende met die sewesrugby Woensdag,” het McGluwa gesê.

Die DA het die Suid-Afrikaanse span ook sterkte toegewens met hul poging om by die spele sukses te behaal.

Die party se adjunkwoordvoerder oor sport, kuns en kultuur in die parlement, Liam Jacobs, sê in ’n verklaring die DA wens Span Suid-Afrika se groep van byna 150 atlete, wat aan 19 sportsoorte deelneem, alles van die beste toe en glo hulle sal die Suid-Afrikaanse vlag hoog en met trots laat wapper.

“Om die hoop van ’n nasie te verteenwoordig, is geen maklike taak nie. As ’n trotse sportnasie wat geseënd is met groot talent en passie, sal elke Suid-Afrikaner egter verseker dat die luide gejuig van duisende kilometers ver in sy atlete se ore weergalm terwyl hulle hardloop, spring en swem na ’n podiumeindpunt!” het Jacobs gesê.

Van die atlete wat fyn dopgehou sal word, is onder andere die huidige Suid-Afrikaanse binnenshuise 3 000 m-rekordhouer, Elroy Gelant. Hy is ook die Suid-Afrikaanse nasionale marathon- en halfmarathonkampioen. Hy sal een van slegs twee Suid-Afrikaanse mans wees wat Suid-Afrika in die marathon gaan verteenwoordig.

Hy en Stephen Mokoka sal teen sowat 80 ander deelnemers uitdraf.

Nog ’n top atleet wat Suid-Afrika in Parys gaan verteenwoordig, is die 26-jarige spiesgooier Jo-Ané van Dyk. Van Dyk is verlede maand as die kampioen gekroon by die Afrika-kampioenskappe wat in Kameroen gehou is, nadat sy dieselfde titel in 2022 in Mauritius verower het.

  • Die volledige Suid-Afrikaanse span en hulle verskillende sportsoorte kan hier gesien word, en die volledige program is hier.
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top