Suid-Afrika se diplomatieke herrie in Pole gaan in parlement draai

  • 0

Die diplomatieke voorval in Pole waartydens ’n groep Suid-Afrikaanse joernaliste en veiligheidspersoneel van president Cyril Ramaphosa ure lank in ’n vliegtuig op die Warskou-lughawe gestrand was, gaan ’n nadraai in Suid-Afrika se parlement hê.

Die DA en Vryheidsfront Plus het albei gevra dat die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie die kontroversie ondersoek. Dit het daartoe gelei het dat meer as 100 persone, insluitend ’n dosyn joernaliste, vir meer as ’n dag in ’n vliegtuig op die Warskou-lughawe gestrand was. Volgens die Poolse owerhede was daar probleme met dokumente en permitte vir goedere en personeel.

Daar is die afgelope week wyd in die media berig oor die presidensiële sending wat die Afrika-leiers se hele besoek aan Oekraïne en Rusland misgeloop het.

Volgens die DA se skaduminister van polisie, Andrew Whitfield, dui berigte daarop dat hierdie  “joy ride wat nie beplanning en vlugklaring gehad het nie”, ’n koste van tussen R14 en R16 miljoen beloop het.

Genl-maj Rhoode, hoof van die presidensiële beskermingseenheid, het ’n diplomatieke herrie veroorsaak tydens ’n impromptu internasionale nuuskonferensie op die vliegtuig se trappe by die Chopin-lughawe toe hy die Poolse regering as “rassiste” bestempel het.

Rhoode was deel van die veiligheidsgroep wat toegang tot Pole geweier is.

News24 het berig dat Ramaphosa se beskermingspan waarskuwings oor Poolse permitte geïgnoreer het en dat lugmagbeamptes glo die “leierskap” van die veiligheidsgebeurlikheid hieroor gewaarsku het.

Rhoode het aan joernaliste gesê dat die Suid-Afrikaanse regering al die nodige permitte bekom het en twee weke lank met die Poolse regering in gesprek was daaroor.

“Hulle sê ons het nie permitte nie, maar ons het permitte; die ambassade hier het afskrifte van die oorspronklike permitte gemaak omdat hulle gedink het dit sal nie nodig wees om oorspronklikes te hê nie,” het Rhoode gesê.

Pole het enige bewerings van rassisme ontken. “Beskuldigings teen Pole van rassisme in hierdie saak is onsin,” het die direkteur van die Nasionale Veiligheidsdepartement en woordvoerder van Pole se minister-koördineerder van Spesiale Dienste, Stanisław Żaryn, gesê.

Piotr Rudzki, woordvoerder van die Warskou Chopin-lughawe, het aan die BBC gesê die Suid-Afrikaanse veiligheidswagte het nie die nodige permitte vir hul wapens nie. “Ons kan nie passasiers met onwettige vuurwapens in die EU toelaat nie,” het hy gesê.

Die DA en Vryheidsfront Plus eis nou dat Rhoode aan die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie verduidelik wat tot die gemors gelei het.

Die DA sê in ’n verklaring hulle het aan die waarnemende voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie, Albert Seabi, geskryf om die komitee in ’n buitengewone vergadering gedurende die reses byeen te roep om tot die kern van hierdie “mislukte PR-foefie” deur te dring.

Die DA eis dat Rhoode, en enige ander relevante persoon gedagvaar word om voor die komitee te verskyn en vir sy optrede verantwoording te doen.

“Dit is nie die eerste geval dat generaal-majoor Rhoode se optrede in oneer gebring is nie. Hy was ’n sentrale figuur in die Phala Phala-skandaal waarin hy ongemagtigde ondersoeke in opdrag van die president gedoen het en belastingbetalersgeld gebruik het om vlugte oor Suid-Afrika se grense te finansier.”

Volgens die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, blyk dit dat die Suid-Afrikaanse afvaardiging spesifiek ingelig was oor die dokumentasie wat nodig is om met sekere goedere en personeel te reis. Hierdie waarskuwing is glo geïgnoreer.

Groenewald sê in ’n verklaring Rhoode het met sy “oorhaastige uitsprake” die politieke arena betree. “Dit is nie gepas vir ’n lid van die polisie om sulke verklarings af te lê nie, en hy moet tot verantwoording geroep word.”

Daar moet volgens Groenewald ook duidelikheid verskaf word oor hoekom so ’n groot veiligheidsgroep nodig was, en hoekom hulle wapens saamgeneem het.

“Ek sal die minister van polisie, Bheki Cele, vra of ’n permit vir die wapens uitgereik is, en hy moet ook aandui hoeveel wapens en hoeveel ammunisie saamgeneem is.”

Wat hier gebeur het, is te verwagte wanneer dit by enige vorm van beplanning deur die ANC-regering kom. Dit is egter steeds ’n verleentheid vir die hele Suid-Afrika, en die land en sy mense verdien antwoorde, het Groenewald gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top