Ten spyte van al die pessimisme onder talle Suid-Afrikaners, het elke donker wolk ’n silwer randjie en die land is in ’n beter posisie as in 1994. Volgens ’n verslag van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV), is daar geen rede om terug te verlang na die “goeie ou dae” nie.
Volgens die SAIRV-verslag wat die afgelope week vrygestel is, het Suid-Afrikaners baie om op trots te wees. Daar is die afgelope twee dekades veel meer in die land bereik as wat baie mense besef.
Die SAIRV sê dit is geensins waar dat die land slegter daaraan toe is as in 1994 nie, of dat Suid-Afrikaners nie wil saamwerk om verandering teweeg te bring nie. Ons leef in ’n aansienlik beter gemeenskap as in 1994. Volgens die SAIRV se verslag is verhoudings tussen die verskillende rassegroepe in die land oor die algemeen baie goed.
Daar moet egter geen twyfel wees dat die Zuma-era die land na 2007 groot skade berokken het nie. Dit het groot ekonomiese skade veroorsaak en het baie van die vooruitgang wat tot op daardie stadium gemaak is, in die wiele gery.
Indien die land se beleidmakers egter daarin kan slaag om beleggingsvertroue te herwin, groter welvaart en werksgeleenthede te skep en die ekonomie weer te laat groei, is daar geen rede waarom die afwaartse trajek sedert 2007 nie omgekeer kan word nie.
Dit is egter ’n uitgemaakte saak dat selfs die beter koers waarop die land tans is, nie beteken alles is skielik maanskyn en rose nie. Die verslag waarsku dat indien die vooruitsigte op groter ekonomiese groei nie realiseer nie, roekelose kommentators en populistiese politici die land maklik weer op ’n afdraand koers kan stuur. Die SAIRV waarsku in sy verslag dat sulke gedrag gestaak moet word as Suid-Afrikaners wil hê hulle hoop op ’n beter toekoms moet ’n werklikheid word.
Die SAIRV sê ondanks die talle klagtes, bly dienslewering oor die algemeen een van die ANC se suksesse.
Misdaad eis nog steeds ’n groot tol in die land en bly onaanvaarbaar hoog. Die moordsyfer het egter aansienlik gedaal sedert Suid-Afrika ’n demokrasie geword het en is byna die helfte minder as in 1994.
In teenstelling met baie mense se persepsie, het die land se middelklas aansienlik uitgebrei en is daar ’n groot opwaartse mobiliteit onder die middelklasbevolking. Die aantal motorvoertuie het toegeneem van 3,8 miljoen in 1999 tot meer as sewe miljoen verlede jaar. Dit is ’n toename van 85%. Hierdie toename klop met verskeie ander maatreëls wat dui op ’n groeiende middelklasbevolking.
Die verslag verwys ook na die negatiewe sentimente wat dikwels onder Suid-Afrikaners gehoor word soos werkloosheid, ’n gebrek aan beter sosiale en ekonomiese omstandighede, swak rasseverhoudings, toenemende armoede en ongelykheid wat gereeld in die hoofstroommedia opduik.
Die SAIRV sê hierdie kwessies dui daarop dat daar nog te veel Suid-Afrikaners is wat nie die potensiaal raaksien om van die land volledig ’n vooruitstrewende land te maak nie.
Die navorsers gee toe die afgelope 10 jaar was buitengewoon taai. Die beste jare sedert die land ’n demokrasie geword het, was tydens die vensterperiode tussen 1994 en 2007. Daarna het baie van die vooruitgang op verskeie sleutelgebiede stagneer.
Die SAIRV sê in hulle verslag hulle huiwer nie om krities te wees oor die mislukkings van regeringsbeleid of die sakewêreld nie. Hulle meen egter daar is op talle gebiede meer as genoeg getuienis van aansienlike vooruitgang. Al die tendense in die verslag is oor ’n lang periode sedert 1994 gemonitor. Baie van die goeie nuus in die land het soms met goeie redes die afgelope dekade verlore gegaan. By talle mense het dit ongelukkig ’n oorwegend negatiewe beeld van die land geskep.
Die opstellers van die verslag sê hulle wil graag Suid-Afrikaners, asook buitelanders wat ’n belang in Suid-Afrika het, daaraan herinner dat ondanks die land se probleme, daar baie dinge is wat reg verloop. Die meerderheid wit en swart Suid-Afrikaners slaag daarin om goed saam te werk ter wille van ’n beter toekoms en Suid-Afrikaners kan volgens die verslag met reg trots wees op dit wat die stille meerderheid bereik het.
Die volledige verslag kan hier gelees word: https://irr.org.za/reports/occasional-reports/files/01-2014-irr-life-in-south-africa-reasons-for-hope-final-29-08-2018.pdf
Buro: NB