Suid-Afrika se finansies is in veiliger hande

  • 0

Op die foto is, van links: Raymond Parsons, ekonoom van die NWU-Sakeskool, Crispin Sonn, ’n maatskappydirekteur, Isaah Mlanga, hoofekonoom van Alexander Forbes, Steven Friedman, navorsingsprofessor aan die Universiteit van Johannesburg, en Dennis Davis. (Foto: Jean Oosthuizen)

 

Die afgelope week se begroting deur die minister van finansies, Enoch Godongwana, was ’n stap in die regte rigting, maar los steeds nie die finansiële krisis op waarin die land verkeer nie.

Die land se finansies is in veiliger hande as wat dit vir baie jare was, veral onder Zuma se bewind, maar is steeds onder ernstige druk.

Dit was min of meer die konsensus van ’n paneel finansiële kenners tydens ’n paneelbespreking wat Donderdag in Somerset-Wes deur die Noordwes-Universiteit (NWU) se Sakeskool aangebied is.

Die bespreking is deur Dennis Davis gelei. Die paneellede was Steven Friedman, navorsingsprofessor aan die Universiteit van Johannesburg (UJ), Raymond Parsons, ekonoom van die NWU-Sakeskool, Isaah Mlanga, hoofekonoom van Alexander Forbes, en Crispin Sonn, ’n direkteur van maatskappye.

Al vier lede van die paneel was dit eens dat daar positiewe geluide gemaak is in vanjaar se begroting. Hulle sê egter daar lê nog ’n steil bult voor om die land se ekonomiese uitdagings die hoof te bied.

Parsons sê die land se finansies is ongetwyfeld in veiliger hande. Daar behoort egter groter aandag gegee te word aan die land se skuldprobleem. Hy sê die Minister kon meer gedoen het om dit daadwerklik aan te spreek. Daar kon ook meer gedoen gewees het om die ekonomie ’n groter hupstoot te gee om behoorlik aan die gang te kom.

Sonn het kommer uitgespreek oor die krimpende belastingbasis. Volgens hom word daar ook te min gedoen om ontslae te raak van burokratiese rompslomp wat ekonomiese groei kelder. Hy is bekommerd oor die groter wordende persentasie Suid-Afrikaners wat afhanklik is van staatstoelae om te kan oorleef. Die vraag is hoe lank die land dit kan bekostig, het Sonn gesê.

Mlanga het ook na die land se hoë werkloosheidsyfer verwys. Hy sê die grootste probleem wat die land in die gesig staar, is werkloosheid, armoede en ongelykheid. As daar nie op werkskepping gefokus word nie, lê daar groot moeilikheid vir Suid-Afrika voor.

Mlanga sê daar moet verder as die formele sektor gekyk word wanneer daar van werkskepping gepraat word. Die grootste en mees onontginde terrein om in Suid-Afrika werk te skep is in die informele sektor. “Vir die land om ekonomies te oorleef, moet daar groter welvaart onder die armes wees en nie net vir die bevoorregtes wat geleenthede soos hierdie bywoon nie,” het Mlanga gesê.

Friedman het die begroting as ’n status quo-begroting beskryf. Dit neem nie die ekonomie terugwaarts nie, maar ook nie vorentoe na waar dit moet wees nie. Daar sal nie werklike ekonomiese vordering gemaak word voordat daar nie ’n onderhandelde ooreenkoms tussen die regering en die sakesektor bereik word waarheen die ekonomie moet gaan nie.

Volgens Parsons het die begroting wel getoon dat daar ’n daadwerklike kopskuif by die regering is oor hoe die land se ekonomie bestuur moet  word. Hy sê dit is die eerste keer dat die regering die belangrike rol van die private sektor so duidelik uitspel. Volgens hom is die bal nie meer net in die regering se hande nie, maar ook in die hande van die private sektor om die kans aan te gryp om ’n bydrae te lewer.

Volgens die paneel hoef die land nie te bekommerd te wees oor die rigting waarin die EFF die land wil druk nie, omdat die party se groeipotensiaal tot dusver redelik beperk was. Friedman sê daar bestaan geen bewys dat die EFF die stem van die meerderheid jong Suid-Afrikaners verteenwoordig nie, en alle navorsing dui daarop dat hulle eintlik maar net ’n nismark verteenwoordig.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top