Suid-Afrika se gesondheidsorg is aan skerwe

  • 0

Die land se openbaregesondheidsektor bevind hom in ’n gesondheidsgemors. Dokters sukkel om die pasiëntelading te hanteer, het min ondersteuning en rugsteuning, en daar word van hulle verwag om ure buite die normale te werk.

Dit lei tot swak prestasie van gesondheidsorg, met die armes en kwesbares wat die swaarste onder die krisis moet ly.

Die donker prentjie oor die stand van die land se gesondheidsektor het die afgelope week aan die lig gekom tydens die jaarlikse prestasieplan-aanbiedings aan die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid.

Volgens die amptelike opposisie in die parlement illustreer dit die benoudheid van die land se openbaregesondheidsektor en het dit “per ongeluk” ’n lig laat skyn op die verwoesting wat die instelling van die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) sal veroorsaak.

Ander verslae aan die komitee het dit duidelik gemaak dat die gebrek aan instandhouding van infrastruktuur, gebrek aan mediese hulpbronne en beperkte begroting, tesame met personeeltekorte, gelei het tot ernstige agteruitgang in toegang tot kwaliteitgesondheidsorg.

Die DA se adjunkskaduminister van gesondheid, Lindy Wilson, sê in ’n verklaring met minder as een dokter vir elke duisend pasiënte is dit geen wonder dat die kwaliteit van gesondheid die afgelope jare gedaal het nie.

Hierdie feit het reeds verlede jaar aan die lig gekom tydens ’n parlementêre vraag van die DA en is deur die Fiskale Finansiële Kommissie (FCC) in sy voorlegging uitgelig.

Hierdie skokkende toedrag van sake duur voort ten spyte van die meer as 21 000 poste vir spesialis- mediese personeel wat in al nege provinsies vakant is en wat die nasionale Departement van Gesondheid nog moet vul, sê die DA.

Die party sê die kritieke tekort is geskep deur die onbevoegdheid en korrupsie van die ANC-regering wat blykbaar onwillig is om hierdie ernstige bekommernisse aan te spreek.

In die Verenigde Koninkryk is daar 3,03 dokters per 1 000 pasiënte, in Indië 0,93, Brasilië 2,32 en Mexiko 2,44. Dit maak Suid-Afrika een van die lande met die laagste dokters-tot-pasiënte-verhoudings.

Daar is slegs 30 634 algemene praktisyns, 16 698 spesialiste en subspesialiste, en 3 021 chirurge en pediaters wat by die Health Professionals Council of South Africa (HPSCA) geregistreer is.

Van die 181 277 verpleegsters wat sedert 2013 opgelei is, is slegs 52 542 in die openbaregesondheidsektor aangestel.

Die Kantoor van die Nakoming van Gesondheidstandaarde (OHSC) se uitvoerende hoof, Siphiwe Mndaweni, het aangedui dat personeeltekorte by die instelling die aantal gesondheidsfasiliteite wat elke jaar geïnspekteer kan word om gesondheidsnakoming te meet en voldoeningsertifikate uit te reik, sal belemmer.

Dit het ook die herinspeksie belemmer van fasiliteite wat nie voldoen het aan die nodige standaarde nie. Gevolglik was daar nie die nodige regstelling om verbetering by daardie fasiliteite te verseker nie. Die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) maak nie voorsiening vir lidmaatskap van fasiliteite wat nie aan die standaarde voldoen nie.

Die DA sê hulle het voortdurend vrae gevra oor die voortslepende krisis in die Departement van Gesondheid. “Die ANC-regering gaan voort om verkeerdelik en valslik aan te dring dat die NGV-wetsontwerp die gesondheidskrisis sal regstel. In werklikheid sal dit die ernstige probleme van die reeds oorlaaide stelsel net vererger.”

Die DA sê hulle sal voortgaan om regsmenings in te win en redelike en praktiese oplossings te vind om die gemors wat die regering geskep het, aan te spreek.

“Suid-Afrika se huidige gesondheidsorgprobleem kan nie deur droombeelde verlig word nie. Hierdie ernstige bekommernisse moet met praktiese en pragmatiese oplossings aangespreek word,” het die party in hulle reaksie op die situasie gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top