Die doeltreffende bevordering en gebruik van inheemse tale bly een van die groot uitdagings om taalgelykheid in Suid-Afrika tot sy reg te laat kom, maar presteer nie te waffers nie. Die land presteer egter goed ten opsigte van godsdiensvryheid.
Dit blyk uit ’n verslag van die FW de Klerk-stigting wat saamval met die viering van Erfenisdag die afgelope naweek.
Volgens die verslag, of sogenaamde rapportkaart, is Suid-Afrikaners se reg om die taal van hul keuse te gebruik beperk vir diegene wat nie Engelssprekend is nie. Dit is as gevolg van die eksklusiewe gebruik van Engels deur regeringsinstellings, die howe en die handel.
On 24 September, #SouthAfricans will once again celebrate #HeritageDay. To commemorate the day, the #FWdeKlerkFoundation has published a ‘Report Card’ on Cultural, Religious and Linguistic Rights: https://t.co/3Ks16Zb2Fc pic.twitter.com/AYLm1ll96r
— FW de Klerk Foundation (@fwdeklerkfdn) September 22, 2023
Die FW de Klerk-stigting sê as gevolg van die kritieke rol wat positiewe intergemeenskapsverhoudinge speel om vrede, stabiliteit en die langtermynsukses van Suid-Afrika te verseker, het die stigting besluit om ’n jaarlikse rapportkaart oor kulturele, godsdienstige en taalregte te publiseer.
Die doel van hierdie studie, in die vorm van ’n telkaart, sal wees om te bepaal tot watter mate die land daarin slaag om die regte van sy kulturele, godsdienstige en taalgemeenskappe in ooreenstemming met die Grondwet te verseker en te bevorder.
Die verslag meld dat Engels in Suid-Afrika na slegs drie jaar van moedertaalonderrig die verstekonderrigtaal vir baie nie-Engelssprekendes word.
Die stigting sê in die verslag die belangrikheid van moedertaalonderrig is ’n fundamentele konsep wat deur internasionale verklarings en verslae onderskryf word. Dit beklemtoon die reg om in jou moedertaal te leer en jouself daarin uit te druk.
Die Unesco Universele Verklaring oor Kulturele Diversiteit van 2001 beklemtoon hierdie reg en beklemtoon kulturele identiteit en die behoefte aan kwaliteitonderwys wat dit respekteer. Die 2016 Unesco Internasionale Konferensie oor Taal en Onderwys het hierdie idee verder versterk, veral vir vroeë kinderonderwys, waar kinders die doeltreffendste in hul bekende tale leer.
Die stigting sê in sy rapport Erfenisdag skep ’n geleentheid om te besin tot watter mate die kulturele, godsdienstige en taalregte in die Grondwet in die praktyk nagekom word.
Die stigting hoop dat die rapportkaart debat sal stimuleer oor die rolle wat godsdienste, kulture en tale in Suid-Afrika speel, en behoort te speel, in die bevordering van die land se ryk en diverse nasionale erfenis.
Die stigting sê in sy verslag min is in die praktyk gedoen om die status van inheemse tale te verhoog en die gebruik van Suid-Afrika se inheemse tale te bevorder.
Die gesamentlike implementering van die Inkrementele Invoer van Afrikatale-beleid verskaf egter welkome bewyse dat die regering die belangrikheid van moedertaalonderrig ná die grondslagfase begin aanvaar.
Suid-Afrika het volgens die rapport die beste gevaar in terme van die reg op vryheid van godsdiens, geloof en opinie, asook godsdiensbeoefening in staats- of staatsondersteunde instellings. Die stigting het ’n A daarvoor toegeken.
Hulle het ’n simbool toeken vir elk van die items wat hulle oorweeg, wat wissel van A vir uitstekende voldoening aan die reg; B vir beter as voldoende voldoening; C vir regte wat rede tot kommer begin wek; D vir regte wat ernstig bedreig word; en E waar die regte glad nie meer aan voldoen word nie.
Suid-Afrika het ook goed gevaar met betrekking tot die reg van Suid-Afrikaners om die taal van hul keuse te praat en om op eie onkoste onafhanklike onderwysinstellings te stig en in stand te hou. Daarvoor het die stigting ’n B in sy rapportkaart toegeken.
Hulle sê die land het matig presteer op die gebied van die reg om deel te neem aan jou voorkeurkultuur en die reg op selfbeskikking. Daarvoor het hulle ’n C toegeken.
Suid-Afrika het swak gevaar in daardie regte wat inheemse tale bevorder, die gebruik van amptelike tale deur nasionale, provinsiale en munisipale regerings, pariteit en agting vir alle amptelike tale.