Suid-Afrika se maritieme belange in gevaar

  • 0

Suid-Afrika se mariene en maritieme belange is in gevaar as beslissende stappe nie gedoen word nie, sê die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa).

Die Suid-Afrikaanse Maritiemeveiligheidsowerheid (Samsa) is in April 1998 gestig met ’n mandaat wat insluit om die veiligheid van lewe en eiendom op see te verseker, besoedeling van skepe in die mariene omgewing te voorkom en te bestry, en die land se maritieme belange te bevorder.

Outa sê in ’n verklaring dit het onder hulle aandag gekom dat die entiteit gekniehalter word deur leierskapprobleme en verkwistende uitgawes. Op 18 April 2023 het Outa aan die parlement se portefeuljekomitee oor vervoer geskryf en hulle bekommernisse daaroor uitgespreek.

Outa sê Samsa se leierskapskrisis het die instelling kwesbaar gelaat, en dit kan maklik tot ’n nasionale en internasionale krisis eskaleer.

“Sal Samsa byvoorbeeld kan optree as ’n groot oliestorting in ons nasionale mariene omgewing aangemeld word? Sal hulle ons seelewe kan beskerm? Wat sal die reputasierisiko vir die land wees as Samsa sy plig versuim?” vra Rudi Heyneke, Outa se kenner oor staatskaping.

Outa het die portefeuljekomitee gevra om sy magte te gebruik om ’n deeglike ondersoek en toesig oor die sake van Samsa te doen.

Samsa is gestig kragtens die Samsa-wet van 1998, word onder toesig van die Departement van Vervoer bedryf, en is as ’n Bylae 3- nasionale openbare entiteit geklassifiseer.

Outa sê een van sy grootste bekommernisse is dat Samsa sedert Mei 2016 sonder ’n permanente hoof- uitvoerende beampte (HUB) funksioneer. “Dit is in al Samsa se verskynings voor die vervoerportefeuljekomitee van 2016 bespreek en die Samsa-direksie en die minister van vervoer is opdrag gegee om ’n permanente HUB aan te stel,” sê Heyneke.

“Die HUB-pos is uiteindelik in Januarie 2021 geadverteer, en ná die laaste onderhoude in November 2021 het die direksie aan die destydse minister van vervoer, Fikile Mbalula, aanbeveel om Theresa Williams as die HUB aan te stel. Die minister het versuim om betyds op die direksie te reageer, en die direksie het besluit om nog ’n waarnemende uitvoerende hoof aan te stel.”

Heyneke sê Outa is bekommerd dat Samsa, met sy vele interne probleme, nie sy pligte en verantwoordelikhede sal kan nakom nie. “Behalwe om nou al jare lank sonder ’n permanente uitvoerende hoof te wees, word die meeste uitvoerende poste tans deur waarnemende amptenare gevul. Die raadslede kan nie in harmonie saamwerk nie en is nie in staat om besluite te neem nie. Samsa se vennote en diensverskaffers dreig met litigasie, en vrugtelose en verkwistende uitgawes beloop miljoene.”

Outa het ook ernstige kommer oor Samsa se versuim om te reageer op klagtes deur die Gestremde Mense van Suid-Afrika (DPSA), ’n breë-gebaseerde swart ekonomiesebemagtigingsgroep wat – saam met ander belanghebbendes – gekies is om deel te neem aan en voordeel te trek uit die maritieme ekonomie .

DPSA het ’n Hooggeregshofaansoek ingedien om Samsa te verplig om te reageer op die talle klagtes wat hy oor baie jare geopper het. Die Samsa-direksie en die minister van vervoer het die DPSA-klagtes volgens Outa vir jare geïgnoreer en eers ná regstappe opgetree. Dit het gelei het tot die aanstelling van ’n forensiese-ondersoek-maatskappy om die bewerings wat deur die DPSA gemaak is, te ondersoek.

Drie senior bestuurders van Samsa is op 26 April 2021 as gevolg van die forensiese ondersoek geskors, insluitend Sobantu Tilaye, wat vyf jaar lank waarnemende uitvoerende hoof was. Die dissiplinêre verhore van twee van die drie geskorste amptenare is steeds nie afgehandel nie, wat Samsa en belastingbetalers miljoene rande kos.

Mbalula het in April 2022 die sekondering van Rufus Lekala van Transnet Nasionale Hawe-owerheid aanbeveel om as Samsa se HUB op te tree totdat ’n aanstelling gemaak is. Weens die minister se laat indiening en die direksie se gebrek aan ’n besluit oor die sekondering is Lekala egter nie gesekondeer nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top