Suid-Afrika se "Mickey Mouse-weermag" in ’n vryval

  • 0

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is in ’n vryval en dit is baie kommerwekkend dat die land nie ’n volledige prentjie het van die weermag se agteruitgang nie.

So sê die DA se woordvoerder oor verdediging en militêre veterane, Chris Hattingh, na aanleiding van al die negatiewe publisiteit die afgelope tyd oor die SANW.

Dit is ook deel van die nasleep van die 14 soldate se dood in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) en die jongste skerp kritiek teen die SANW deur die parlement se waghondkomitee vir openbare rekeninge.

Luitenant-generaal Ntshavheni Maphaha van die SANW het verder olie op die vuur gegooi en in die spervuur beland oor sy uitlatings by die begrafnis van een van die 14 Suid-Afrikaanse soldate wat in die DRK gesterf het.

Maphaha het die regering se “versuim om Suid-Afrika se grense te beveilig” veroordeel en gesê politici het die SANW in ’n “Mickey Mouse-mag” verander.

Pikkie Greeff, nasionale sekretaris van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag-unie (Sanwu), het aan die SAUK gesê hy ondersteun Maphaha se uitlatings. “Alles wat die generaal daar gesê het, is feitelik. Daar is geen argument daar nie. Dit moes gesê word, en mense hou nie altyd van wat hulle hoor nie, maar diegene wat nie daarvan hou nie, is diegene wat dit gemaak het soos dit is. En dis die politici,” sê Greef.

Sanwu is die vakbond vir SANW-lede wat die regte en belange van lede in uniform beskerm, ook teen misbruik en uitbuiting.

Die politici moet die meeste skuld kry, sê Greef. “Dit is hulle wat vir die begroting gestem het ná die besnoeiings.”

Hy sê sonder ’n bekwame weermag kan die land net sowel sy soewereiniteit, en al waarna die politici probeer omsien, prysgee.

Chris Hattingh sê in sy verklaring die SANW is nou belas met ’n verouderende personeelkorps, verouderde toerusting wat swak onderhou word, en ernstige wanbestuur wat vererger word deur korrupsie. “Hierdie tekortkominge het beide ons troepe en die land se veiligheid in groot gevaar gestel.”

Hy vra vir die "voltooiing van die herbeoordeling van die 2015-verdedigingsoorsig" en sê dit moet gebaseer wees op die tipe en grootte van die weermag wat Suid-Afrika benodig. Dit moet belyn word met nasionale veiligheidsvereistes en ten volle befonds word. Daar is volgens hom verskeie ononderhandelbare opsies in die heropbou van die weermag.

Volgens Hattingh is die SANW by ’n kruispad, en sonder ’n duidelike begrip van sy huidige toestand sal betekenisvolle hervorming onmoontlik wees.

“Suid-Afrika kan nie nog ’n militêre ramp bekostig nie; beslissende optrede is nou nodig,” sê die DA in hulle verklaring.

Die DA vra onder meer vir:

  • ’n volledige oudit van SANW-bates, insluitend vliegtuie, vlootvaartuie, landgebaseerde bates en ander kritieke infrastruktuur, om hul operasionele gereedheid en koste-effektiwiteit te bepaal
  • ’n indringende bestekopname van menslike hulpbronne, assessering van personeelkapasiteit, opleiding en bestuurstrukture om te verseker dat die SANW voldoende voorbereid is vir sy pligte, insluitend vredesmissies
  • ’n finansiëlebestuursevaluering wat ondoeltreffendheid en verkwistende uitgawes identifiseer, insluitend reis, verblyf, konsultantkostes en uitkontraktering
  • ’n strategiesevermoënsbeoordeling wat ondersoek of die SANW toegerus is om sy mandaat uit te voer, veral in buitelandse ontplooiings en vredesoperasies.

Die herbeoordeling van die 2015-verdedigingsoorsig, wat meer as twee jaar gelede deur die voormalige minister van verdediging, Thandi Modise, geïnisieer is, moes reeds teen 31 Oktober 2024 voltooi gewees het. Die 2015-verdedigingsoorsig is nooit befonds nie en nie ’n enkele mylpaal is bereik nie.

Intussen is die proses om beseerde Suid-Afrikaanse soldate uit die oostelike DRK te ontruim, aan die gang . Dit is nie duidelik hoeveel van hulle na die land teruggebring sal word nie. Van die beseerde soldate het Dinsdag (25 Februarie) in die vroeë oggendure by die lugmagbasis Waterkloof in Pretoria aangekom.

Die soldate sal in 1 Militêre Hospitaal in Pretoria behandel word. Die weermag sê die res van die beseerde troepe sal vandeesweek terugkeer.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top