Suid-Afrika se nuwe kabinet bars uit sy nate

  • 0

Suid-Afrika se nuwe veelpartykabinet wat Sondagaand deur president Cyril Ramaphosa aangekondig is om die land die volgende vyf jaar te regeer, bars behoorlik uit sy nate.

Met altesaam 75 ministers en adjunkministers uit agt verskillende partye is dit een van die grootste kabinette ter wêreld. Die belastingbetalers sal die hand diep in die sak moet steek om daarvoor op te dok.

Daar is meer ministers en adjunkministers as ooit vantevore en dit het uiteenlopende reaksies uitgelok.

Die DA-leier en nuwe minister van landbou, John Steenhuisen, sê sy party se teenwoordigheid in die kabinet beteken dat die stemme van DA-kiesers vir die eerste keer ooit gehoor sal word in elke sektor en in elke vertrek waar besluite oor die land se toekoms geneem word.

Steenhuisen het Maandagoggend in ’n boodskap aan Suid-Afrikaners gesê die DA sal sy invloedryke kabinetsposte in landbou, openbare werke en infrastruktuur, die omgewing, bosbou en visserye, sowel as die party se adjunkministerrolle in finansies, handel en nywerheid, en kleinsake-ontwikkeling gebruik om vinnige ekonomiese groei en werkskepping na te streef.

ActionSA was egter geskok oor die grootte van die  kabinet. Die party se leier, Herman Mashaba, het dit in ’n verklaring bestempel as ’n opgeblase en gekompromitteerde kabinet wat ’n slegte eerste indruk skep.

Mashaba, sê Suid-Afrikaners pleit al jare vir ’n kleiner kabinet, aangesien die land een van die grootste kabinette ter wêreld het. Dit teen die agtergrond van ’n land waar die meeste van sy burgers in armoede kwyn en sukkel om tred te hou met die lewenskoste.

Nieteenstaande hierdie ernstige kommer erken ActionSA dat die aankondiging ’n einde maak aan ’n tydperk van groot onsekerheid vir Suid-Afrikaners.

Mashaba sê in ’n verklaring die nuwe kabinet sal gesamentlik meer as R1 miljard jaarliks ​​kos aan voordele en byvoordele, met meer as R180 miljoen wat aan salarisse van ministers en adjunkministers alleen toegewys word.

Onder die byvoordele wat aan kabinetsministers verleen word, kan belastingbetalers jaarliks ​​verwag om R2,68 miljoen se salarisse vir elke minister en R2,2 miljoen vir elke adjunkminister op te dok, sê Mashaba.

Boonop sal belastingbetalers meer as R500 miljoen betaal vir BBP-beskerming en -sekuriteit en meer as R390 miljoen vir ondersteuningspersoneel. Hierdie verbysterende syfers verreken volgens ActionSA nie eers die bykomende koste verbonde aan die luukse woonplekke wat aan ministers en adjunkministers verskaf word nie.

Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het gesê sy nuwe pos in die kabinet gee erkenning aan die rol wat sy party die afgelope 30 jaar in Suid-Afrika gespeel het. Hy sê hy het hierdie posisie aanvaar om te wys dat sy party bereid is om aan die RNE deel te neem om stabiliteit te verseker en te help met die vooruitgang van die land.

Die EFF het ook die grootte van die “opgeblase” kabinet gekritiseer. Hulle sê die RNE is niks anders as ’n rookskerm vir die ANC om ’n voorafbepaalde groot koalisie met die “rassistiese DA” te verseker nie.

Songezo Zibi, leier van Rise Mzansi, het in ’n verklaring gesê hulle sien daarna uit om ’n aktiewe rol te speel om die status van die parlement te verhoog en te verseker dat die president, adjunkpresident, ministers en adjunkministers die Grondwet handhaaf, met integriteit optree en die mense se geld reg bestee.

“Ons deelname aan die RNE beteken nie dat ons alle besluite van die uitvoerende gesag sal rubberstempel nie. Ons sal alle uitsprake en besluite van die kabinet ondersoek, en waar dit in die beste belang van die mense van Suid-Afrika is, sal ons ons steun verleen. Ons sal ons ook druk uitoefen om te verseker dat daar behoorlike parlementêre toesig is.”

Die nuwe kabinet bestaan uit 32 ministers en 43 adjunk-ministers. Van die 32 ministers is 20 ANC-ministers; die DA het 6, die IVP 2, die PAC 1, die PA 1, die VF Plus 1 en  GOOD 1. Van die 43 adjunkministers is 33 van die ANC; die DA het 6, die IVP 2, die UDM 1 en Al Jama-ah 1.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top