Die Suid-Afrikaanse parlement is nog steeds ’n mislukte instelling wat versuim om sy plig na te kom.
So sê die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) in hulle vyfde jaarverslag oor parlementêre toesig wat dié week vrygestel is.
Vir die vyfde agtereenvolgende jaar het Outa se verslag bevind dat die parlement versuim om sy plig na te kom om die uitvoerende gesag se optrede effektief te ondersoek en toesig oor die staats- of semistaatsintansies te hou.
Volgens Outa het die parlement wegbeweeg van die sprokiesbelofte om ’n beskermer van demokrasie te wees na ’n uitgebrande instelling. Dit is ’n nagmerrie waarin die parlement ’n instelling geword het wat nie bloot fisies afgebrand het nie; Outa sê parlementariërs se verbintenis tot demokratiese waardes en die Grondwet het ook uitgebrand.
Outa rig in hulle verslag ’n ernstige waarskuwing dat die parlement nie sy beloftes nakom nie en noem talle voorbeelde en gevallestudies om dit te staaf.
Daar is byvoorbeeld niks gedoen om staatskaping te keer nie.
Die sesde parlement is gekenmerk deur die ondersoek na staatskaping, die verwydering van president Jacob Zuma, sy vervanging deur president Cyril Ramaphosa en die openbare verhore van die staatskapingskommissie en die lewering van sy finale verslag.
Die parlement se houding teenoor staatskaping was deurgaans een van "Niks om hier te sien nie, beweeg aan." Outa sê hulle is bekommerd dat die sesde parlement sy termyn volgende jaar sal beëindig nadat hy steeds versuim het om die aanbevelings van die Zondokommissie te implementeer. “Ons beskou die implementering van hierdie aanbevelings as ’n prioriteit vir die parlement en doen ’n beroep op parlementslede om daardie aanbevelings met dringendheid en strengheid te implementeer. In ons verslag neem ons kennis van die parlement se beperkte pogings tot toesig oor daardie ministers en LP’s wat by staatskaping betrokke is.”
READ: #OUTA's 5th annual report on parliamentary oversight finds that @ParliamentofRSA, an essential cornerstone of our democracy, fails to fulfil it's democratic role.
Parliament is still a failed institution, finds OUTA report. https://t.co/d20K505AHt— OUTA (@OUTASA) September 19, 2023
“Hierdie verslag is weer sterk krities, aangesien ons bekommerd is dat die parlement nie daarin geslaag het om die behoefte om die demokrasie te verdedig, te begryp nie. Hierdie jaar spreek ons ons kommer selfs sterker uit, aangesien die parlement se versuim om die uitvoerende gesag tot verantwoording te roep ’n verskanste posisie geword het wat ons demokrasie bedreig.”
Outa se omvattende verslag, Parlement: die sprokie wat ’n nagmerrie geword het, is saamgestel deur Outa se parlementêrebetrokkenheidskantoor. Dit dek die tydperk Julie 2022 tot Junie 2023. Dit is die vyfde verslag in Outa se jaarlikse reeks verslae oor parlementêre toesig. Outa sê hulle het elke jaar gepoog om ’n oorsig te gee van sommige van die gedetailleerde werke van die parlement, met die fokus op daardie aspekte wat ’n verantwoordbare en robuuste parlementêre instelling sal demonstreer.
Waar daar wel pogings aangewend word om die uitvoerende en staatsdepartemente tot verantwoording te roep, word regstellende pogings gewoonlik deur die ANC as meerderheidsparty in die wiele gery en opposisiepartye se stemme deur die meerderheid gedemp.
Volgens die verslag het die parlement met die aanbreek van demokrasie in 1994 baie belofte ingehou. Byna 30 jaar later is daardie belofte egter vernietig deur die wrede werklikheid van swak regering, treurige dienslewering en ’n parlement wat verwyder is van die mense en nie reageer op die dringende behoeftes van die burgery nie.
Die organisasie sê dit is ook nie duidelik of die jeug demokrasie en die verkiesing van parlementslede as ’n voorkeurregeringsmiddel sien nie. In die laaste verkiesings het slegs 19% van stemgeregtigde 18- en 19-jariges geregistreer om te stem en het slegs 15% van diegene wat geregistreer het, wel gestem.
Sonder ernstige hervorming as instelling sal die parlement volgens Outa nie daarin slaag om sy regte plek in die demokrasie in te neem nie. “Nuwe parlementariërs wat in 2024 verkies word, sal hulself gekniehalter en gefrustreerd bevind in ’n instelling wat blykbaar ontwerp is om deursigtige en verantwoordbare regering teë te staan en nie meer werklik die mense se parlement is nie.”
Outa sê hulle beskou hierdie verslag as deel van die versterking van die land se parlementêre demokrasie, om die regte wat in die Grondwet verskans is na te kom. Die organisasie sê die parlement is ’n noodsaaklike hoeksteen van demokrasie en dit is slegs deur konstruktiewe betrokkenheid dat die burgerlike samelewing op aanspreeklikheid van die regering kan aandring en dit kan eis.