Suid-Afrika se rooi tapyt vir Rusland laat die rooi ligte flikker

  • 0

Die rooi tapyt wat die Suid-Afrikaanse regering vir Rusland se minister van buitelandse sake uitgerol het om hom in die land te verwelkom, is ’n gevaarlike buitelandsebeleid-foefie. Dit loop die risiko om Suid-Afrika se diplomatieke bande met sy belangrikste handelsvennote in gevaar te stel.

So sê die DA se skaduminister van internasionale betrekkinge en samewerking, Darren Bergman, na aanleiding van skerp kritiek vanuit verskeie oorde oor Suid-Afrika se hand-om-die-blaas-verhouding met die Russe.

News24 skryf in hulle redaksionele kommentaar Suid-Afrikaners sou met reg ’n gevoel van skaamte ervaar het toe hulle Maandag in Pretoria die minister van internasionale betrekkinge, Naledi Pandor, langs haar Russiese eweknie, Sergey Lawrof, sien staan het.

“Die wêreld se paria het ’n veilige, verwelkomende hawe in Suid-Afrika gevind, terwyl ander lande wat in demokrasie, menseregte en soewereiniteit glo, Lawrof sou gearresteer het toe hy voet aan wal gesit het,” skryf News24 in hulle kommentaar.

BuisinessTech sê net voor die Amerikaanse minister van finansies, Janet Yellen, Suid-Afrika sal besoek as deel van ’n hernude fokus op die vasteland, het sy ’n duidelike voorbeeld gekry van die uitdagings wat Washington in die gesig staar om die invloed deur sy vernaamste globale mededingers Rusland en China teë te werk.

Hulle wys daarop dat militêre amptenare in Suid-Afrika die Russiese minister van buitelandse sake Maandag hartlik verwelkom het op die vooraand van volgende maand se vlootoefeninge saam met Rusland en China.

“Dit kom terwyl Washington voortgaan met sy onverbiddelike veroordeling van Moskou vir sy oorlog in Oekraïne en ’n dag nadat Yellen haar frustrasie uitgespreek het oor die tempo van skuldgesprekke met Zambië, en Beijing gekritiseer het vir die vertragings.”

Deutsche Welle (DW), Duitsland se internasionale uitsaaier, sê terwyl Suid-Afrika min handel met Moskou het, ondersteun Suid-Afrika nou die posisie wat Rusland en China ingeneem het om Amerika se invloed op die wêreldtoneel te beperk.

Die DA sê in hulle verklaring die rooitapytontvangs wat Lawrof by die Waterkloof-lugmagbasis geniet het, stuur ’n gevaarlike boodskap die wêreld in.

“Deur toe te stem tot Lawrof se besoek aan Suid-Afrika as Wladimir Poetin se gesant, het Pandor en die ANC-regering enige suggestie dat hulle ’n neutrale arbiter is oor Rusland se oorlog teen Oekraïne, uit die weg geruim. Pandor en die ANC het gewillig ingestem om onderskrywers van Russiese aggressie in Oekraïne te word – ’n inval wat die lewens van tienduisende Oekraïners geëis het en groot kraginstallasies beskadig het,” sê die DA.

Die gevaarlike boodskap wat die ANC-regering aan die land se grootste handelsvennote, naamlik Amerika, Duitsland, Japan tot in die Verenigde Koninkryk kommunikeer, is volgens die DA dat Suid-Afrika bereid is om verhoudinge met hulle te kompromitteer ter ondersteuning van Rusland se oorlog in Oekraïne.

“Selfs al hou ’n alliansie met die Kremlin aansienlike ekonomiese risiko in, is die ANC bereid om die Suid-Afrikaanse ekonomie op die altaar te plaas ter ondersteuning van Poetin se imperiale ambisies.”

Die DA sê hulle het deurgaans daarop gewys dat Rusland se onttrekking uit Oekraïne ononderhandelbaar is en dringend geïmplementeer moet word. In plaas daarvan het die ANC-regering gekies om na Moskou se pype te dans op grond van een of ander verouderde ideologie van “kameraadskap” wat op geen manier Suid-Afrika se belange dien nie.

“As daar nog enige regdenkendes in die ANC-regering oor is, moet hulle in Suid-Afrika se beste belang begin optree en ophou om te buig vir Rusland se simpel oorlogspeletjies. Dit is nie nou die tyd om Poetin se oorlogsimpulse te paai nie; ons moet saam met die mense van Oekraïne staan ​​om die waansin van Rusland se Kremlin te weerstaan,” het Bergman in sy verklaring gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top