Die mees neerdrukkende oomblik die laaste tyd was nie die soveelste onthullings oor die ANC se minagting van die land se demokratiese strukture nie – dit weet ons lankal – maar die adjunkhoofregter se verbasing tydens sittings van die staatkapingskommissie. Regtig, oom Raymond, waar was jy die laaste twee dekades?
Tot dusver het die regter ’n aura van rustige nugterheid uitgestraal, en het hy sy ondersoek weliswaar ’n bietjie omslagtig, maar onkeerbaar uitgevoer. En miskien was hy besig met ’n klein vertoninkie, om sy misnoeë ’n katalisator vir gesprek te maak. Sy ontnugtering is inderdaad geëggo deur die oudredakteur Barney Mthombothi, nou rubriekskrywer van die Sunday Times. Dié Sondag skryf hy hoe sy geslag opgesien het na die ANC en die land op ’n skinkbord aan hulle oorhandig het, maar nou moet erken die party het die land se siel gesteel.
Hy haal vir Maya Angelou aan: As iemand jou wys wie hy is, glo hom die eerste keer. Die ANC het reeds in ballingskap met sy moordkampe in Angola gewys wie hy is, skryf Mthombothi. Dit het my laat dink aan die artikel wat ek vir sy koerantgroep geskryf het nadat ek op Che Guevara se spore in die Kongo teruggeloop het en met die oorlewendes onder sy makkers tydens die Kubane se ekspedisie in 1965 gaan praat het. Mthombothi het vreeslik uitgesien na my skrywe, maar toe ek rapporteer hulle praat voor die voet met net die grootste minagting van vandag se bevrydingsbewegings, is die artikel diep in die koerant weggesteek.
Ek skryf dit nie met enige leedvermaak nie – Mthombothi se rubrieke is dikwels ’n lig op ’n donker pad – maar om te probeer begryp waarom die party steeds so ’n houvas op die land se kiesers het.
Zondo het tydens James Selfe se getuienis pront gesê die land se wetgewers moet kyk na die herinstelling van kiesafdelings, want alleen so ’n stelsel sal LP’s teen partyleiers verskans en in staat stel om korrupsie aan te spreek. Dit was nadat Makhosi Khoza getuig het van die sluipmoordaanslae op haar omdat sy en drie ander ANC-LP’s vir ’n mosie van wantroue in Jacob Zuma gestem het. Sy het oorleef want die aanvaller het gestruikel toe hy vuur.
Die kranige Marianne Merten van Daily Maverick het nog verdere leidrade verskaf: Sy het gewys hoe die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) die eerste en meer inligting oor entstowwe gekry het as die parlement. Lees dit saam met die onthullings oor die gebrekkige oorsig deur die parlement oor die Staatsveiligheidsagentskap, die ANC se verwydering van LP’s wat korrupsie ondersoek het, en dis duidelik: In Suid-Afrika het ons net ’n halwe demokrasie, of ’n skyndemokrasie.
Ons gewaande “beste grondwet in die wêreld” is duidelik ’n erg gebrekkige dokument. Net Israel het ’n bestel waarin die laerhuis net proporsionele verteenwoordiging het; alle ander parlemente het ook lede wat direk verkies word, of al die lede word direk verkies. Kon niemand voorsien dat Suid-Afrika se stelsel sou veroorsaak dat besluitneming na die regerende party se interne strukture verskuif nie?
Die huidige bestel word verdedig as sou dit minderhede verteenwoordiging gee. Maar om wat te maak, as die parlement gedurig sonder kworum is, of ANC-lede in portefeuljekomitees beveel word om na die leiers se pype te dans? En die huidige bestel werk juis teen minderheidsregte, soos onderrig in eie taal, wat Zondo se eie kollegas onder verdagte omstandighede aftakel (ek verwys na die Cameron-debakel, ja).
Maar ek dink ons moet dieper kyk, na die ontstaan van hierdie bestel, tydens die lang Kodesa-onderhandelinge. Hannah Arendt het in haar On revolution geskryf hoe belangrik “konstituerende byeenkomste” tydens politieke omwentelings was – meer as net oorgangsstrukture. In Amerika is die fondament vir sy grondwet gelê aan die hand van reeds bestaande instellings en modelle; in Frankryk moes die revolusionêre die armoedekrisis en hongersnood in die land aanspreek en met die chaotiese gepeupel werk, wat tot die Terreur en uiteindelik Napoleon se diktatuur gelei het.
Suid-Afrika se geval is moeilik om vas te pen. Die fondamente is gebou op halfopstand, halfoorlog, half- morele krisis. Dit het geweldig kompleks geword, maar miskien het dit daartoe gelei dat een aspek nie die aandag gekry het wat dit moes nie: demobilisering. In skietstilstande, wat bedoel is om tot onderhandelinge tussen strydende partye te lei, is demobilisering ’n moeilike proses wat fyn beplanning, geniale diplomasie en senuwees van staal verg.
Omdat die grootste tameletjie was om die staat se weermag en sy skadumagte, die polisie en die rits regse organisasies, onder beheer te kry, is dalk nie genoeg aandag aan die ander kant gegee nie. Umkhonto we Sizwe is allerweë as ’n patetiese mag gesien, ook deur die ANC, en sy mobilisering is gehanteer as iets veel makliker. Die werklike bestanddele van die ANC se mag is nie aangespreek nie: die klippe in die hande van oproeriges, stakings deur vakbonde en die konkelary van die SAKP – want dit het ook maar swak daar uitgesien.
Eintlik was die ANC in omtrent alle opsigte, behalwe om grootmeneer tydens onderhandelinge en skemerkelkpartye te speel, aanvanklik ’n samekoms van swak magte. Weens hierdie geringskatting, of misidentifikasie, het die neutralisering van al die kleiner geweldsgroepies waaruit die UDF en die vakbonde bestaan het, agterweë gebly nadat die ontwapening van MK afgehandel is. Hulle is toegelaat om te verenig in ’n alliansie wat bekend geword het as die drieparty-alliansie.
Vir 80 jaar lank kon die ANC, en swart mense deur hom, nie veel vermag nie, en hier is hy skielik nie net besig met onderhandelinge om ’n hoogs gevorderde land se regering nie, maar verenig hy mense wat nog nooit in hul geskiedenis – een van minstens duisend jaar, waarskynlik langer – verenig was nie. Vir al die kleiner operateurs, die manne met die sluipmoordenaars en algemene geweldenaars van die struggletyd aan hul sye, was en is dit ’n veel meer reële omwenteling en sosiale hulpbron, hierdie swart eenheid, as enigiets wat die parlement, provinsiale owerhede of die Konstitusionele Hof kon verskaf.
Hierdie is almal instellings wat van buite hierdie eenheid kom. Vir die wit bewind was die konstituerende byeenkomste ’n geweldige deurbraak, omdat dit hulle van fascistiese strukture verlos het en hulle kon oorgaan na die volgende, opwindende fase, die skep van regering deur liberale instellings. Dit het ’n groot kreatiwiteit losgelaat waarop voortgebou is, byvoorbeeld in baanbrekende sakeondernemings en kulturele prestasie, maar dit het ’n fragmentering van wit mag in politieke partye vereis.
Die teks vir demokratisering het vereis dat die dieselfde aan die ANC-kant moes gebeur het. Maar vir die ANC-alliansie het dit meer sin gemaak om te probeer vassteek in die konstituerende fase, want dit is waarin sy geboorte gewortel is, en wat swart mense uit alle stande, nie net die ingevoerde ANC-politici nie, kan laat deelneem. Dit neem die inisiatief vir ’n voortgesette soeke na ander instellings as dié van die Westerse parlementêre demokrasie uit die hande van die res en nasionaliseer dit as’t ware. Dit het die verdere wins dat die ANC geensins uitgedien is as bevrydingsbeweging nie; inteendeel, dit bly steeds een in wording wat nog leer hoe om behoorlik revolusie te pleeg.
Natuurlik maak hierdie opset rooftogte op die hulpbronne van die “vyand” moontlik. As vakbondlid wat op ’n provinsiale-owerheid-komitee beland, is dit baie moontlik om jouself in ’n etiese posisie vir die herverspreiding van staatsgeld in te praat. Om te steel is om ’n revolusionêre aanslag op die “commanding heights” van die nieswart ekonomie uit te voer – min of meer Ace Magashule se beweerde argument. En eise vir verantwoordbaarheid maak jou ’n ondermyner en rugsteker, wat jou selfs jou lewe kan kos.
Die kiesers raak al moeër vir hierdie storie. Maar die poorte en kelderdeurtjies van die alliansie is nog steeds veel meer en wyer oop as dié van die parlement en wetgewers. Jy kan nie meer jou skinkbord terugvra nie; dis nou die alliansie s’n. Al wat jy kan doen, is om self daarop te klim en jou siel te probeer terugsteel.