Suid-Afrika sê steeds nee vir Russiese entstof

  • 0

Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsreguleerder (Sahpra) het die gebruik van Rusland se Sputnik V-koronavirusentstof afgekeur vir Suid-Afrikaanse gebruik.

Sahpra sê in ’n verklaring dat ná langdurige opvolging, die verhoogde risiko van MIV onder entstofontvangers statisties betekenisvol geword het toe die hele proefpopulasie geanaliseer is.

Volgens Sahpra is hulle sedert 23 Februarie met ’n deurlopende hersiening van die entstof se data besig nadat daar aansoek gedoen is vir die gebruik daarvan.

Die entstof is deur die Gamaleya Research Institute of Epidemiology and Microbiology in die Russiese Federasie ontwikkel. Die plaaslik gelisensieerde aansoeker is Lamar International Edms (Bpk).

Een van die uitdagings waarmee sulke entstowwe te kampe het, is volgens Sahpra die teenwoordigheid van reeds bestaande Ad-spesifieke neutraliserende teenliggaampies (NAbs) in die algemene bevolking. Die veiligheid van adenovirus-entstofvektore is in ’n aantal studies geëvalueer.

Sahpra sê hulle is bekommerd dat die gebruik van die Sputnik V-entstof in Suid-Afrika, waar daar ’n hoë persentasie van mense met MIV is, die risiko kan verhoog dat mans wat ingeënt word, daarmee MIV/Vigs kan kry.

Die deurlopende hersiening van die entstof sal egter oop bly vir die indiening van relevante veiligheidsdata ter ondersteuning van die aansoek. Sahpra sê hulle neem kennis van mediaberigte dat aansoeke om die goedkeuring van slegs die Ad26-vektor-komponent (aangedui as Sputnik Light) na verwagting by ’n aantal nasionale medisyneregulerende owerhede ingedien sal word. Sahpra het nog nie so ’n aansoek ontvang nie.

Die EFF het in Junie vanjaar geëis dat die Russiese entstof binne sewe dae in Suid-Afrika goedgekeur word. Volgens die EFF word Sahpra deur Westerse farmaseutiese maatskappye mikrobestuur en beheer.

Sahpra sê hulle het die aansoeker versoek om data te verstrek wat die veiligheid van die entstof toon in gevalle waar daar hoë MIV-voorkoms is. Die applikant kon nie Sahpra se versoek voldoende beantwoord nie. Boonop het Sahpra konsultasies gehou met deskundige komitees, insluitend vooraanstaande lede van die plaaslike en internasionale wetenskaplike gemeenskap, oor hierdie aangeleentheid.

Tot op hede het die Sputnik V-entstof ook nie die lys van noodgebruik deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gehaal nie. Die mees onlangse WGO-verslae dui aan dat die proses "in afwagting is van die voltooiing van die lopende voorlegging". Onlangse mediadekking het bevestig dat daar voortdurende gesprekke tussen die WGO en die Russiese owerhede is.

Volgens ’n verslag deur die vakbond Solidariteit vroeër vanjaar het ook hulle nie hierdie entstof aanbeveel nie. Die beskikbaarheid van bestaande data is volgens Solidariteit onvoldoende, wat tot gevolg het dat geen gevolgtrekking tans oor die doeltreffendheid van hierdie entstof sowel as die Chinese entstof SinoVac gemaak kan word nie.

Volgens Solidariteit se verslag, waarin ’n behoorlike internasionale studie gedoen is, is bevind dat sekere entstowwe wel doeltreffend is. Hulle sê in lande soos Israel, die Verenigde Koninkryk en Hongarye is daar ’n regstreekse verband tussen die toediening van entstowwe, ’n afname in infeksies en veral ’n afname in hospitalisasie en sterftes. Pfizer, Moderna, AstraZeneca en Johnson & Johnson is volgens Solidariteit se navorsing effektief.

Die data wys dat die aansprake dat groot getalle mense weens die toediening van die entstof doodgaan, eenvoudig nie waar is nie. Die risiko vir bloedklonte en hartverwante newe-effekte is klein. Die meeste newe-effekte wat aangemeld is, is lig en stem ooreen met dié van enige ander entstof.

Die navorsers het ook bevind dat dit belangrik is dat individue wat reeds gesondheidsprobleme ondervind, wat tans siek is, en wat voorheen newe-effekte van entstowwe ondervind het, eers met hul dokter moet skakel om seker te maak of dit veilig is om teen COVID-19 ingeënt te word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top