………
“Die DA het ’n beroep op Ramaphosa gedoen om in sy hoedanigheid as voorsitter van die AU leierskap aan die dag te lê en self na Zimbabwe te gaan om met al die belanghebbende organisasies samesprekings te voer en so ’n gebalanseerde prentjie te kry oor die politieke krisis waarin die land tans verkeer.”
………
Die Suid-Afrikaanse regering loop uit verskeie oorde onder skerp kritiek deur omdat daar geswyg word oor die menseregtevergrype in Zimbabwe.
Die Zimbabwiese opposisieparty, die MDC, het die afgelope naweek beweer hulle is deur president Cyril Ramaphosa se spesiale gesante wat die land besoek het, geïgnoreer. Die Suid-Afrikaanse afvaardiging sou Sondag met partyleiers vergader het, maar die vergadering is gekanselleer.
Vlag: Pixabay.com
Die President het die gesante opdrag gegee om met alle betrokke partye te vergader in verband met onlangse aantygings van menseregteskendings, insluitend polisiewreedheid. Die MDC sê hulle het die hele dag vir die Suid-Afrikaners gewag, net om later te verneem dat die vergadering gekanselleer is. Die party beskuldig die regerende ZANU–PF daarvan dat hy die gesante aangemoedig het om die ontmoeting te kanselleer.
Zimbabwe se nasionale redakteursforum het ook hulle teleurstelling met die afvaardiging uitgespreek. Dumisani Muleya van die forum sê die afvaardiging se versuim om samesprekings met die grootste opposisieparty, die MDC, te voer, beteken hulle kon nie ’n volledige prentjie kry van wat in die land aan die gang is nie.
The Zimbabwe National Editors Forum has expressed its disappointment with the South African delegation sent to the country. Dumisani Muleya says it failed to meet with Zimbabwe’s main opposition MDC to get a full picture of the problems facing the country. pic.twitter.com/7Tz6MYrUtR
— eNCA (@eNCA) August 11, 2020
Die DA sê in ’n verklaring die besluit deur Zimbabwe se regering om nie aan Ramaphosa se afvaardiging ’n geleentheid te bied om met die opposisieleiers samesprekings te voer nie, was nie net disrespekvol teenoor die Afrika-Unie (AU), waarvan Ramaphosa voorsitter is nie, maar bevestig die vermoede dat die stemme van die opposisie en burgerlike organisasies in Zimbabwe deur die ZANU–PF-regering van president Emmerson Mnangagwa gesmoor word.
………
“Die DA sê dit is ’n swak poging van Mnangagwa om sy land se reputasie te probeer red deur voor te gee daar is nie ’n krisis nie.”
………
Die DA het ’n beroep op Ramaphosa gedoen om in sy hoedanigheid as voorsitter van die AU leierskap aan die dag te lê en self na Zimbabwe te gaan om met al die belanghebbende organisasies samesprekings te voer en so ’n gebalanseerde prentjie te kry oor die politieke krisis waarin die land tans verkeer.
Volgens mediaberigte is die Suid-Afrikaanse afvaardiging onder leiding van Sydney Mufamadi, Baleka Mbete en Ngoako Ramathlodi tydens ’n “teedrinksessie” deur Mnangagwa ingelig oor die situasie in sy land. Hy het die Suid-Afrikaners se arm glo gedraai om nie met die land se opposisie en burgerlike organisasies te vergader nie.
President @edmnangagwa meets President @CyrilRamaphosa's envoys, Cdes Mufumadi, Mbete and Ramathlodi at Statehouse this afternoon.#TheRealZimbabwe pic.twitter.com/x3b5VLuX27
— Nick Mangwana (@nickmangwana) August 10, 2020
Die DA sê dit is onaanvaarbaar.
Mnangagwa se regering het die afgelope tyd gewelddadig opgetree teen diegene wat vreedsaam betoog het en talle burgerlikes, joernaliste en aktiviste in hegtenis geneem. Die DA sê dit is ’n swak poging van Mnangagwa om sy land se reputasie te probeer red deur voor te gee daar is nie ’n krisis nie. Volgens die DA is dit ’n poging om die land se moorddadige regime te beskerm.
“Vir te lank reeds het opeenvolgende ANC-regerings stil toegekyk hoe ZANU–PF mense se burgerlike vryhede vertrap sonder enige respek vir die reg,” sê die DA in hulle verklaring. Die ANC is volgens die DA besig om mee te werk aan die politieke krisis waarin Zimbabwe verkeer omdat hulle nie die brutaliteit wat deur Zimbabwe se regering gepleeg word en die ekonomiese krisis waarin die land verkeer, wil erken nie.
Ramaphosa staar volgens die DA se skaduminister van internasionale verhoudings en samewerking, Darren Bergman, sy eerste werklike toets as voorsitter van die AU in die gesig. “Hy moet ’n keuse maak of hy hom saam met Zimbabwe se mense teen die tirannie van ZANU–PF skaar en of hy voortgaan met die mislukte beleid van stille diplomasie,” sê Bergman.
Die EFF-leier Julius Malema het hom ook by die opposisiepartye in Zimbabwe geskaar. Malema het op Twitter gesê die mense van Zimbabwe is nie lafaards nie en het al voorheen geveg. Hy wou weet waarom die jongmense van Zimbabwe deur middel van hutsmerke op Twitter veg pleks van om na die land se grense op te ruk. Hy se die EFF sal hulle ondersteun.
Buro: MvH#EFFWomensDayRally Malema: Zimbabweans are not cowards, Zimbabweans have fought before. Why is the Youth of Zimbabwe fighting through hashtags? Why is the youth of Zimbabwe fighting from South Africa and London? Why are they not occupying borders in Musina? We will support them.
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) August 9, 2020