Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is nie meer in staat om die land behoorlik te verdedig nie en is hulpeloos op land, op see sowel as in die lug.
Dit het duidelik geword na ’n vraag van die DA tydens ’n mondelinge vraag-en-antwoord-sessie in die Nasionale Raad van Provinsies oor die stand van die land se weermag.
Die SANW bestaan uit die leër vir grondoperasies, die lugmag om ons lugruim te verdedig en die vloot om ons kuslyn te verdedig.
Volgens die inligting, wat in die parlement verskaf is, kan die lugmag nie meer ons lugruim verdedig nie, aangesien slegs twee van die 26 Gripen-veeldoelvegvliegtuie operasioneel is en nie een van sy Lockheed C130 Hercules-vragvliegtuie lugwaardig is nie.
Die land se maritieme verdedigingsvermoë is ook skokkend. Die vloot het slegs een fregat en een veeldoelaanpatrollievaartuig om die see te patrolleer, met geen van sy duikbote wat funksioneel is nie. Die vloot is volgens die DA op ’n laagtepunt soos nog nooit vantevore in die geskiedenis nie.
Vroeër die maand het RISE Mzansi ook vrae aan die minister van verdediging en militêre veterane, Angie Motshekga, gestel oor die paraatheid van die Suid-Afrikaanse vloot waarop daar nie bevredigend geantwoord is nie.
RISE Mzansi se hoofsweep, Makashule Gana, sê as hierdie sake nie aangespreek word nie, sal die land binnekort net in naam oor ’n weermag beskik – indien dit nie reeds die geval is nie.
[READ] Rise Mzansi believes Minister of Defence and Military Veterans Angie Motshekga is hiding the state of the South African National Defence Force’s (SANDF’s) prime mission equipment, and has warned that if the decline of the military continues, South Africa will soon have an…
— RISE Mzansi (@Rise_Mzansi) November 12, 2024
Die party beskuldig die Minister daarvan dat sy ’n sluier van geheimhouding oor die kwessie probeer gooi na aanleiding van die ouditeur-generaal se verslag oor die weermag. Die SANW se finansies toon ’n wanbesteding van byna R4 miljard. Dit skets volgens RISE Mzansi ’n prentjie van ’n weermag wat finansieel kreupel is.
Gana sê Motshekga se gebrek aan reaksie ruik na ’n poging om die ware toestand van die verdedigingsmagte se vermoë om sy grondwetlike mandaat na te kom, weg te steek.
Die SANW ondervind ’n afname in prima missietoerusting op bykans elke gebied.
Die lugmag toon ’n afname in die aantal ure wat gevlieg word, die vloot ervaar ’n afname in die aantal ure op see, en vir ’n allemintige 62,5% van die SANW se verpligtinge is daar gewoon nie fondse nie.
Die DA se lid van die gekose komitee oor veiligheid en geregtigheid, Nicholas Gotsell, sê meer skokkend is dat daar volgens die ouditeur-generaal se verslag oor die Departement van Verdediging vir 2023/24 ’n ronde 0% van die Departement se teikens wat in 2015 gestel is tydens ’n evaluasie, bereik is.
SANDF cannot defend our skies but almost R4 billion is misspent. Only two of the 26 Gripens are operational, the Navy has only one frigate and MMIPV to patrol our seas, and none of the submarines are functional.
The DA is holding the Minister accountable: https://t.co/6HYWY2SfWI pic.twitter.com/nF44pJGl2d
— Democratic Alliance (@Our_DA) November 20, 2024
Die President het in Januarie 2024 die destydse minister van verdediging, Thandi Modise, en die departement opdrag gegee om ’n tussentydse konsep vir ’n hersiene militêre-strategie-weermagstruktuur te ontwikkel vir oorweging deur die kabinet en parlement. Sy aanbeveling was om die verdedigingsbegroting te verdubbel, van ongeveer 0,7% van die BBP tot 1,5%.
Gotsell sê in ’n verklaring die Departement van Verdediging se huidige begroting is alreeds onderhewig aan geweldige vermorsing. Daar is aan die Minister geskryf vir duidelikheid daaroor en wil weet of die kabinet dit al bespreek het. Hy sê die verslag het ook aan die lig gebring dat Suid-Afrika ’n punt bereik het waar die land moet besluit oor die tipe weermag wat ons wil hê en kan bekostig. Dit sou kon bepaal dat nasionale veiligheidskeuses in die eerste plek op binnelandse sake moet fokus.
Niks hiervan gebeur nie, weens die Departement van Verdediging se onophoudelike wanadministrasie. Die ouditeur-generaal se verslag vir 2023/24 het ongeoorloofde uitgawes in die departement van R3,4 miljard uitgelig; onreëlmatige uitgawes wat R338 miljoen beloop het en vrugtelose en verkwistende uitgawes wat drasties toegeneem het van R2,569 miljoen in 2022/23 tot R51 miljoen in 2023/24.
Verder is daar aan die SANW ’n bykomende R2,1 miljard toegewys vir die missie in die DRK, wat hy nie kan uitvoer nie.