Een uit drie van alle Suid-Afrikaners is tans werkloos en die land se werkloosheidsyfer is nou die hoogste in die wêreld. Dit is volgens ’n lys van 82 lande wat deur die finansiële publikasie Bloomberg gemonitor is.
Die skokkende syfers is Dinsdag bekendgemaak. Volgens Statistieke Suid-Afrika se syfers vir die tweede kwartaal vanjaar het werkloosheid toegeneem tot 34,4% teenoor 32,6% die vorige kwartaal.
[Thread]
South Africa’s #unemployment rate increased by 1,8 percentage points to 34,4% in Q2:2021 compared to Q1:2021.#StatsSA pic.twitter.com/Qep4WXn9OY— Stats SA (@StatsSA) August 24, 2021
Besighede en vakbonde het hulle ernstige kommer uitgespreek oor die donker prentjie en sê die vooruitsigte lyk selfs slegter.
Ontleders sê die onlangse inperkings tydens die derde vlaag van COVID-19, asook verlede maand se gewelddadige betogings in KwaZulu-Natal en Gauteng, sal in alle waarskynlikheid verdere skade berokken aan die land se ekonomie. Die ekonoom Andrew Levy het aan die SAUK gesê die regering sal deeglik ondersoek moet instel na die ekonomiese situasie.
Business Unity South Africa (Busa) sê in hulle reaksie daar was reeds voor die pandemie geen ekonomiese groei nie. Volgens hulle is die skokkende syfers geen verrassing nie.
Volgens die jongste syfers raak die werkloosheidskrisis hoofsaaklik jongmense. Busa se bestuurshoof, Cas Coovadia, sê daar sal oor ’n breë spektrum toegewings moet wees. Hy sê groot vergaderings bereik niks nie. Coovadia sê kleiner groepe uit sektore soos arbeid, besigheid en die regering moet tyd maak om die krisis vir eens en altyd op te los.
Ook die vakbond Solidariteit het in ’n verklaring hulle kommer oor die jongste werkloosheidsyfers uitgespreek.
MEDIAVERKLARING
“Die land se jong mense word van hulle toekoms beroof deur die ongunstige regeringsbeleide wat hulle uit die werkplek hou." @TheunsduBuisson @GrootFM @Beeld_Nuus @maroelamedia @Netwerk24 @Klankkoerant @eNuus @sabcnuus @zarsg @JacaNews https://t.co/QMsb6kEVze— Solidariteit (@solidariteit) August 24, 2021
“Die land se jong mense word van hulle toekoms beroof deur die ongunstige regeringsbeleide wat hulle uit die werkplek hou. Ons benodig ’n dinamiese arbeidsomgewing wat vir mense geleenthede gee om sukses te behaal, of om te faal. Op die oomblik verhoed die regering enige vorme van vooruitgang weens ʼn vrees dat sommiges dalk nie volkome sukses sal behaal nie,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).
Nadat Solidariteit verlede kwartaal sy skok uitgespreek het oor die rekord-hoë jeugwerkloosheidsyfer, is daar volgens hulle steeds niks om oor bly te wees nie.
Volgens Solidariteit dui die jongste syfers op deïndustrialisering, aangesien vervaardiging jaar op jaar ’n groot afname in werknemers getoon het.
“Dit is slegte nuus, omdat dit wys dat Suid-Afrika meer van ’n onttrekkingsekonomie word en al hoe minder nuwe waarde toevoeg. Kortom, Suid-Afrika plunder sy grondgebied en verkwansel sy burgers se toekoms. Geen land kon nog ’n moderne, voorspoedige samelewing word deur net op landbou en mynbou te fokus nie,” verduidelik Du Buisson. Hy sê die huidige afname herinner aan die nadraai van die groot finansiële krisis van 2008/9 waarvan Suid-Afrika ook nooit volkome herstel het tot sy prekrisis toestand nie. “Dit blyk dat ons weereens begin stagneer rondom ʼn nuwe laagtepunt met meer mense as ooit vantevore wat uit die produktiewe ekonomie gesluit word.
“Al het die werkloosheidsyfer van 75% in die eerste kwartaal teruggesak tot 64% in die tweede kwartaal, is dit grotendeels te wyte aan nuwe toetreders tot die arbeidsmark. Volgens die amptelike syfers was daar in die tweede kwartaal 172 000 meer werklose jeugdiges as in die eerste kwartaal,” sê Du Buisson. “Dieselfde prentjie speel op ’n groter skaal af in die groep tussen 25 en 35, waar ’n ekstra 193 000 mense hulle in die tweede kwartaal by die werklose groep aangesluit het. Dit getuig opnuut van ’n staat wat sy burgers laat verhonger deur aan striemende beleidsrigtings vas te klou.”
Solidariteit het opnuut ’n beroep op die regering gedoen om sy burgers te vertrou om na hulle eie belange om te sien, deur onmiddellik die minimumloon te skrap en ander beleide wat dit moeilik maak om werk te kry, te hersien.