Die Suid-Afrikaanse regering oorweeg elke moontlike opsie om ’n diplomatieke verleentheid te voorkom wanneer die Russiese president, Wladimir Poetin, Suid-Afrika na verwagting later vanjaar besoek.
Suid-Afrika sal gasheer wees vir die leiers van Brasilië, Rusland, Indië en China by die 15de Brics-beraad van 22 tot 24 Augustus 2023, van wie Poetin een is.
Die Suid-Afrikaanse regering het die afgelope week bevestig dat Poetin van plan is om self die beraad by te woon saam met al die ander leiers van die Brics-lande.
Poetin se beplande teenwoordigheid skep egter ’n yslike kopseer vir Suid-Afrika, aangesien daar ’n lasbrief vir sy arrestasie uitgereik is deur die Internasionale Strafhof (IS), waarvan Suid-Afrika ’n ondertekenaar is.
Die lasbrief is uitgereik omdat Poetin na bewering oorlogsmisdade gepleeg het in Rusland se voortslepende oorlog in Oekraïne. Poetin en die Russiese kommissaris vir kinderregte, Maria Alekseyevna Lvova-Belova, word daarvan beskuldig dat hulle kinders en ander mense onwettig uit Oekraïne na Rusland gedeporteer het.
Suid-Afrika se minister van justisie, Ronald Lamola, het vroeër die week gesê die regering oorweeg dit om ’n wetsontwerp in te stel wat aan Poetin immuniteit teen vervolging sal gee indien hy sy voete in Suid-Afrika sit om die Brics-beraad by te woon.
Lamola het gesê daar is ’n aantal opsies wat hulle oorweeg vir die hantering van die besoek deur Poetin.
Die minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het ook gepraat oor die wysiging van die wet om immuniteit aan Poetin te gee tydens sy besoek.
Lamola, wat Dinsdag lede van die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste ingelig het, het ook die dubbele standaarde wat die IS in sy vervolging van mense toepas, gekritiseer.
Hy het gesê Israel pleeg al jare lank menseregteskendings teen Palestyne, maar nie ’n enkele leier in Israel word daarvoor verantwoordelik gehou nie.
As ’n ondertekenaar van die IS se Rome-statuut is Suid-Afrika wetlik verplig om die lasbrief uit te voer indien Poetin in die land aankom.
Die Wes-Kaap se premier, Alan Winde, het verlede week die oë laat rek toe hy in ’n verklaring gedreig dat die provinsie se eie wetstoepassingsbeamptes, LEAP, opdrag sal kry om Poetin in hegtenis te neem as hy sy voete in die Wes-Kaap sit en die polisie arresteer hom nie.
Winde het in ’n verklaring gesê Poetin het konsekwent en gewelddadig die vryhede van die Oekraïense volk en diegene in sy eie land wat dit waag om ’n beginselvaste standpunt teen sy brutale optrede in te neem, geërodeer. “As die Russiese leier sy voete in die Wes-Kaap sit, sal ons as die provinsiale regering hom laat arresteer deur beamptes van ons eie Wes-Kaapse-regering-gefinansierde wetstoepassingsbevorderingsplan (LEAP). As die Suid-Afrikaanse Polisiediens nie opdrag gegee word om op te tree nie, sal ons dit doen,” het Winde gewaarsku.
Die meeste kommentators meen egter die kanse dat Poetin in Suid-Afrika in hegtenis geneem sal word, is omtrent nul.
Die internasionale nuusagentskap Al Jazeera berig ook dat die meeste bronne van mening is dat daar geen arrestasie in Augustus sal wees nie.
Volgens Obed Bapela, adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake, is die ANC se standpunt oor Poetin dat geen sittende staatshoof in hegtenis geneem sal word terwyl hy in die land is nie. "Dit sal ’n droom wees," het ’n woordvoerder aan Al Jazeera gesê. “Dit sal nie gebeur nie.”
Die Internasionale Strafhof se stigtingsverdrag het op 1 Julie 2002 in werking getree en is bindend op al sy 123 huidige lede.
Opmerklike nie-ondertekenaars van die Rome-statuut sluit China, die VSA, Indië en Rusland in. Oekraïne is ook nie ’n lid van die IS nie.
Suid-Afrika was in 2015 in ’n soortgelyke dilemma toe die IS ’n arrestasiebevel uitgereik het vir die voormalige Soedannese leier, Omar al-Basjir. Al-Basjir was aangekla van die pleeg van volksmoord, misdade teen die mensdom en oorlogsmisdade tydens die Darfoer-oorlog van 2003–2008.
Hy het na Suid-Afrika gekom om ’n Afrika-Unie-beraad by te woon, maar die regering het geweier om hom in hegtenis te neem.
Die ANC het toe gedreig om die IS te verlaat, maar van plan verander omdat Suid-Afrika se eie grondwet dit nie so maklik maak om sommer net te onttrek nie.