Suid-Afrika skud sy toerismevere reg vir die somerseisoen

  • 0

Met die somervakansieseisoen goed op dreef het die Departement van Toerisme met ’n sloertoer deur die land begin om Suid-Afrika se diverse besienswaardighede ten toon te stel en verantwoordelike toerisme by sleutelbestemmings te bevorder.

Die veldtog, wat bekend staan as die #TourismSummerRoadshow, het afgeskop in twee groot stede, naamlik Durban in KwaZulu-Natal en Johannesburg in Gauteng. Die doel is om toeriste na ikoniese terreine te lok, terwyl gemeenskapsbetrokkenheid en volhoubare toerismepraktyke aangemoedig word.

Die toere geskied onder die leiding van die minister van toerisme, Patricia de Lille, en haar adjunk, Maggie Sotyu.

Suid-Afrika se somervakansieseisoen is ’n spitstydperk vir beide plaaslike en internasionale toerisme. Met sy pragtige strande, kulturele bakens en avontuurlustige aanbiedings, lok die land miljoene reisigers elke jaar.

Besoekers en belanghebbendes in die bedryf word aangemoedig om deel te neem aan die departement se somertoerismeaktiwiteite, hetsy deur skoonmaakpogings, gemeenskapsaktiverings, of begeleide toere. Hierdie geleenthede bied volgens die departement ’n uitstekende geleentheid om Suid-Afrika se toerismehoogtepunte te verken terwyl besoekers betrokke raak by betekenisvolle aktiwiteite wat plaaslike gemeenskappe ondersteun.

Van die sonnige kus van Durban tot die kulturele lewenskragtigheid van Johannesburg bied Suid-Afrika se Summer Campaign Roadshow iets vir elke reisiger. Of hulle nou die ikoniese uShaka Marine World wil verken, met Soweto se Vilakazistraat langs stap, of hulle aan die Soweto Towers verwonder, is hierdie inisiatief ’n viering van Suid-Afrika se uiteenlopende toerisme-aanbiedings.

Die Summer Campaign Roadshows het ten doel om:

  • minder bekende bestemmings en versteekte juwele te bevorder
  • plaaslike besighede en gemeenskappe te ondersteun
  • ’n veilige, skoon en verwelkomende omgewing vir toeriste te verseker.

Die departement sê in ’n verklaring die veldtog strook met die doelwitte van die toerismesektor se meesterplan, wat ontwerp is om mense aan bekende bakens te herinner, plaaslike besighede te ondersteun en onontdekte dele van verskeie provinsies te bemark.

De Lille en Sotyu se deelname onderstreep die belang van die Desember-toerismeseisoen vir Suid-Afrika.

Hulle het hul program begin deur personeel by die Elangeni-hotel aan die Durbanse strandfront te bedank vir hul toewyding en harde werk om die toerismesektor te bevorder en te laat groei.

Na die skakeling met hotelpersoneel het hulle die strandfront besoek en by werkers van die Uitgebreide Openbare Werke-program aangesluit in ’n strandskoonmaakoperasie.

“Terwyl Suid-Afrika se somervakansieseisoen sy hoogtepunt bereik en besoekers dit waag om ons uiteenlopende reisaanbiedinge te verken, het ons hierdie terreine besoek om somergereedheid te inspekteer en om besoekers aan te moedig om die land verantwoordelik te verken. Hierdie toer is deel van die breër doelwitte van die toerismesektor se meesterplan,” het De Lille gesê.

Die besoek aan Durban het die stad se aantrekkingskrag as ’n sprankelende somerbestemming gevier, terwyl besoekers ook aangemoedig word om deel te neem aan verantwoordelike reisaktiwiteite soos skoonmaak en volhoubare toerisme.

Die tweede geleentheid van die toer het gister (Donderdag 19 Desember) in Johannesburg, die ekonomiese middelpunt van Suid-Afrika, plaasgevind. Die aktiwiteite het by die Apartheidsmuseum begin. Hierdie keer val die kollig op kulturele toerisme en jeugbetrokkenheid, terwyl Johannesburg se ikoniese besienswaardighede en gemeenskapsgedrewe ervarings ten toon gestel word. Beide plaaslike en internasionale reisigers word aangemoedig om die stad se unieke erfenis te ervaar.

Volgens die departement behels die toer meer as net promosiegeleenthede. Dit is ook ’n geleentheid om toeriste op te voed oor die belang van volhoubare en verantwoordelike reise. Onder die hutsmerk #DoTourismResponsibly moedig die veldtog besoekers aan om plaaslike gemeenskappe te respekteer, hul omgewingsimpak te minimaliseer en plaaslike besighede tydens hul reise te ondersteun.

“Ons is daartoe verbind om ons pragtige land te bevorder terwyl ons verseker dat besoekers Suid-Afrika verantwoordelik geniet. Hierdie besoeke dien as ’n platform om ons diverse besienswaardighede ten toon te stel en gemeenskappe te betrek om ons toerismehulpbronne te bewaar,” het De Lille gesê. “Ek en die adjunkminister wil alle besoekers bedank vir hul keuse om ons pragtige land te verken en by te dra tot die sukses en groei van die toerismesektor. Ons wil veral ons binnelandse reisigers bedank, aangesien dit die basis van ons sektor is. Ons bedank hulle vir die verkenning van en genot aan hul eie land. Ons bedank ook elke persoon in die toerismesektor vir hul harde werk en wil hulle by voorbaat dankie sê vir die werk wat ons in die nuwe jaar sal aanhou doen.”

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top