Suid-Afrika slaan bollemakiesie oor die Internasionale Strafhof

  • 0

President Cyril Ramaphosa en die ANC se dubbelpratery oor Suid-Afrika se deelname aan die Internasionale Strafhof (IS) het die afgelope week groot verwarring gesaai oor die land se posisie ten opsigte van die hof.

Ramaphosa het Dinsdag aan verslaggewers gesê die ANC het die besluit geneem dat dit verstandig is dat Suid-Afrika uit die IS moet onttrek, hoofsaaklik as gevolg van die probleme wat die hof se werkswyse oplewer.

Enkele ure later het die President se kantoor egter ’n 180-grade-ommekeer gemaak en ’n verklaring uitgereik waarin gesê word: "Die presidensie wil dit duidelik maak dat Suid-Afrika steeds ’n ondertekenaar (van die IS) bly.”

Die bollemakiesieslanery is die gevolg van verdeeldheid binne die ANC oor Suid-Afrika se deelname aan die IS.

Dit het veral ’n warm patat vir die regering geword sedert die hof in Maart ’n lasbrief uitgereik het vir die arrestasie van die Russiese leier, Wladimir Poetin, sy beweerde rol in die Russiese ontvoering van Oekraïense kinders.

Poetin is een van die staatshoofde wat genooi is na ’n beraad in Suid-Afrika van die Brics-groep (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) in Augustus. Dit is nog nie bevestig dat Poetin wel die beraad sal bywoon nie, maar indien hy wel kom, skep dit ’n yslike diplomatieke verleentheid vir Suid-Afrika as die land lid is van die IS.

Suid-Afrika is ’n ondertekenaar van die IS se stigtingsdokument, die Statuur van Rome, en sal tegnies verplig wees om die arrestasiebevel te gehoorsaam as Poetin hierheen kom.

Volgens die presidensie se verklaring het die President verkeerdelik ’n standpunt van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) weergegee waartydens daar kritiek uitgespreek is teen die IS, asof dit ’n besluit was om te onttrek, toe hy met die media gepraat het.

Ramaphosa sê in sy verklaring Suid-Afrika bly ’n ondertekenaar van die IS in ooreenstemming met ’n resolusie van die 55ste Nasionale Konferensie van die ANC wat in Desember 2022 gehou is, waartydens ’n vroeëre besluit om aan die IS te onttrek, teruggetrek is.

“Die Desember-resolusie is herbevestig tydens ’n vergadering van die NUK van die ANC gedurende die naweek van 21 tot 24 April 2023. Die NUK het ook besin oor die moontlike onttrekking uit die IS as ’n opsie wat ’n laaste uitweg sou wees in die afwesigheid van regsopsies wat sal lei tot regverdigheid en konsekwentheid in die administrasie van internasionale reg.”

Ramaphosa sê Suid-Afrika gaan ’n wysiging van die Rome-statuut voorstel wat al die artikels van die statuut sal weerspieël. Dit sluit die bepaling van artikel 98 van die statuut in wat tans ’n afstanddoening van immuniteit vereis vir persone wat deur die IS aangekla word terwyl daar geen verwysing deur die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad is nie.

“Deur ’n ondertekenaar van die Rome-statuut te bly, word Suid-Afrika gelei deur die belangrikheid van die versterking van instellings van globale bestuur. Gevolglik sal Suid-Afrika werk om die Malabo-protokol te versterk wat ’n kontinentale strafhof sal vestig wat die IS sal aanvul as ’n hof van laaste uitweg,” sê Ramaphosa.

Die ANC het ook Woensdag in ’n verklaring wal gegooi oor die verwarring wat ontstaan het.

Die party sê die verkeerde indruk kon ontstaan het dat die NUK ’n kategoriese besluit geneem het dat die land aan die IS moet onttrek, en dit is nie die geval nie.

Die DA het in ’n verklaring met kommer kennis geneem van die ANC se aanvanklike aankondiging dat Suid-Afrika aan die Rome-statuut sal onttrek.

Volgens die DA sou so ’n besluit ’n openlike verklaring van vyandigheid teenoor die internasionale gemeenskap van demokrasieë, en teen Suid-Afrika se grootste handelsblok, die Europese Unie, wees.

Die DA het die regering van ’n chaotiese buitelandsebeleidsbenadering beskuldig.

Die DA se skaduminister van internasionale betrekkinge en samewerking, Emma Louise Powell, sê ten spyte daarvan dat Rusland vir so min as 0,3% van Suid-Afrika se handelsbande verantwoordelik is, is die ANC bereid om Suid-Afrika se deurslaggewende binnelandse belange te verontagsaam om ’n beweerde oorlogsmisdadiger te beskerm en oligargiese patronaatskap te versterk.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top