Suid-Afrika spog met verskeie nuwe wêrelderfenisterreine

  • 0

Veertien nuwe terreine in Suid-Afrika wat van internasionale historiese belang is, is deur die Wêrelderfeniskomitee op Unesco se Wêrelderfenislys ingesluit.

Die presidensie het die insluiting van plekke wat verbind word met Suid-Afrika se menseregte- en vryheidstryd op Unesco se lys van Wêrelderfenisterreine, verwelkom. Die presidensie sê in ’n verklaring dit is gedoen na afloop van die 46ste sitting van Unesco se Wêrelderfeniskomitee in Nieu-Delhi in Indië wat op 21 Julie begin het en tot 31 Julie duur.

Die 14 terreine sluit in die Uniegebou, Constitutional Hill, Liliesleaf, Walter Sisulu-plein, die strate van Orlando-Wes, Fort Hare Universiteit, Mqhekezqweni, Waaihoek, Ohlange, Sharpeville (waar drie terreine geoormerk is) en ZK Matthews Huis (wat ook uit twee terreine bestaan).

Al 14 bied herinneringe vir besoekers aan die triomf van menseregte danksy die stryd vir bevryding en versoening.

Die presidensie sê gesamentlik demonstreer hierdie ruimtes die gebeure en idees wat as die kern van Suid-Afrika se bevrydingstryd gedien het en wat steeds die mensdom se omarming van versoening dekades later inspireer.

Nog drie plekke wat Unesco verlede week tot Wêrelderfenisgebiede verklaar het, is die Diepkloof-rotsskuiling naby Elandsbaai, die grotte by die Pinnacle Point-landgoed in Mosselbaai in die Wes-Kaap, en die Sibudu-grot in KwaZulu-Natal. Bewyse van vroeë menslike bewoning en ontwikkeling is in dié grotte gevind. Hierdie terreine, wat duisende jaar oud is, is onder verskeie argeologiese juwele wat wêreldwyd voorkom. Hulle bied insig in moderne menslike gedrag.

Ander terreine in Suid-Afrika wat reeds Wêrelderfenisstatus geniet, is Robbeneiland, die Vredefortkoepel, Richtersveld se kultuur- en botaniese landskap, beskermde gebiede in die Kaapse blommestreek, die Mapungubwe-kultuurlandskap en die iSimangaliso-vleilandpark.

Die Barberton Makhonjwa-berge, die Wieg van die Mensdom se fossielhominiedterreine, die Maluti-Drakensberg-park en die Khomani-kultuurlandskap is ook reeds op die lys.

Die waarnemende direkteur-generaal van die Departement van Kommunikasie, Nomonde Mnukwa, sê dit is ’n eer vir Suid-Afrika dat hierdie terreine nou by die Unesco-Wêrelderfenisgebiedlys gevoeg word.

Sy het ’n beroep op alle regeringsfere, Suid-Afrikaners en belanghebbendes gedoen om te verseker dat hierdie eiendomme voldoende beskerming en ondersteuning geniet, sodat al hierdie terreine vir toekomstige geslagte bewaar kan word.

Volgens die presidensie se verklaring is dit belangrik om te beklemtoon dat die Uniegebou nou deur die wêreld erken word as ’n gebou met uitstaande universele waarde vir die hele mensdom. Die Uniegebou sluit aan by andere bekende terreine in die wêreld soos die Kremlin, Kasubi-grafte, Mose oaThunya, Taj Mahal, die Vatikaan en ander op die Wêrelderfenislys.

Die Wes-Kaapse regering sê in hulle reaksie die suksesvolle insluiting van grotte op Unesco se lys is ’n erkenning van die gebiede se beduidende bydrae om die oorsprong van moderne menslike gedrag te verstaan.

Die provinsiale minister van kultuursake en sport in die Wes-Kaap, Ricardo Mackenzie, sê die uitsonderlike bewaring van hierdie terreine, te midde van die uitdagings van klimaatsverandering en stygende seevlakke, is ’n bewys van ons voorouers se veerkragtigheid, vindingrykheid en aanpassing by omgewingsveranderinge.

Mackenzie sê die integriteit en egtheid van hierdie terreine word noukeurig bewaar deur die ywerige pogings van internasionale, multidissiplinêre spanne kundiges.

Hul werk, wat gegrond is op die hoogste standaarde van argeologiese praktyk, het verseker dat die gebiede ongeskonde bly en steeds nuwe insigte openbaar soos navorsing vorder, het Mackenzie gesê.

Hy sê die verbintenis tot die beskerming van hierdie terreine onder nasionale erfeniswetgewing en omvattende bestuursraamwerke verseker die bewaring daarvan vir toekomstige geslagte.

Wes-Kaap se premier, Alan Winde, sê in ’n verklaring om hierdie Wêrelderfenisgebied-status te bereik, is ’n monumentale erkenning van die provinsie se uitsonderlike kulturele en historiese betekenis op die wêreldtoneel. “Benewens ons bestaande twee Wêrelderfenisgebiede, sal hierdie byvoeging tot die lys volhoubare toerisme, ekonomiese ontwikkeling en werkskepping vir baie inwoners van die Wes-Kaap bevorder.”

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top