Suid-Afrika spring strenger inperkings dié Kersfees vry

  • 0

Foto: ivabalk | Pixabay

 

Suid-Afrikaners kan dié naweek Kersfees vier met geen strenger inperkings nie, terwyl miljoene mense elders in die wêreld streng ingeperk word oor die feesgety tot ten minste vroeg aanstaande jaar.

Meer as 13 miljoen mense in die Chinese stad Xi'an is beveel om tuis te bly terwyl owerhede probeer om ’n Covid-uitbraak daar aan te pak. Die meeste Europese lande het ook streng inperkings aangekondig gedurende die Kerstyd.

Onder die nuwe beperkings wat Woensdag in dele van China aangekondig is, word slegs een persoon per huishouding toegelaat om die huis elke twee dae te verlaat om noodsaaklike goedere te koop, berig die BBC.

Euronews berig sommige lande in Europa het stappe gedoen om ongeënte mense te teiken, terwyl programme ook in verskeie lande bekendgestel word om jong kinders in te ent.

In België sal rolprentteaters, teaters en ander binnenshuise ontspanningsgeriewe gesluit wees. Nederland is sedert Sondag 19 Desember terug na ’n landwye inperking om die Omikron-variant te bekamp. Volgens die land se voorlopige premier, Mark Rutte, was dit onafwendbaar as gevolg van die vyfde golf wat deur die Omikron-variant veroorsaak word.

Intussen het duisende mense verlede Sondag (19 Desember) in Brussel betoog teen die regering se maatreëls, insluitend gesondheidsorgwerkers wat vanaf April ingeënt sal moet word of die risiko loop om hul werk te verloor.

In Suid-Afrika lyk dinge in dié stadium heelwat meer rooskleurig. Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) is meer as 70% van Suid-Afrikaners nou al aan die koronavirus blootgestel.

NICD-kundiges het die afgelope week ’n tegniese oorsig gegee van hoe hulle die vloei van data oor die pandemie in die land monitor.

Wetenskaplikes meen dat immuniteit weens natuurlike blootstelling, die inentings, asook die eienskappe van die Omikron-variant waarskynlik van die redes is waarom minder mense op die oomblik ernstig siek word as tydens die vorige golf toe die Delta-variant dominant was,

Tot dusver was daar meer as 3,3 miljoen laboratoriumbevestigde infeksies in Suid-Afrika, wat volgens hierdie navorsers ver onder die aantal mense was wat werklik COVID-19 opgedoen het. NICD-navorsers glo, deur laboratoriumbevestigde toetse, dat hulle eintlik net 1 uit 10 tot 1 uit 15 mense met COVID-19 diagnoseer.

Michelle Groome, hoof van die NICD se Openbare Gesondheidstoesig- en Reaksie-afdeling, het verduidelik dat die totale aantal bevestigde koronavirusgevalle ’n klein deel van die werklike aantal infeksies is.

"Daar is baie asimptomatiese infeksies Daar is baie mense wat om sekere redes nie toets nie. Ons weet dat ons toetsing self ’n paar verskille het volgens provinsie en privaat versus openbare sektor, sowel as individuele keuses van waar om te toets of nie," het Groome gesê.

Vrystaters is tot dusver die gewilligste om hulle te laat inent, gevolg deur Wes-Kapenaars. Byna die helfte van die twee provinsies se mense is reeds ten volle ingeënt en meer as die helfte is gedeeltelik ingeënt. Volgens die Departement van Gesondheid se jongste syfers het 47,64% volwassenes ouer as 18 in die Vrystaat hulle reeds ten volle laat inent en 46,09% in die Wes-Kaap.

Die provinsie in die land wie se mense die traagste is om hulle te laat inent is KwaZulu-Natal, waar nog slegs 32,97% van die provinsie se volwasse inwoners volledig ingeënt is.

Die land se digsbevolkte provinsie, naamlik Gauteng, vaar nie veel beter nie. Slegs 34,84% volwasse Gautengers is volledig ingeënt. Omdat dit die provinsie met die meeste mense in die land is, is dit wel die provinsie waar die meeste getalgewys ten volle ingeënt is.

Landswyd is daar tot dusver nog slegs 38,85% volwassenes ouer as 18 ten volle ingeënt. Die meeste mense wat hulle reeds ten volle laat inent het, is in die ouderdomsgroep 60 jaar en ouer, van wie 58,86% ten volle ingeënt is. Van mense tussen 18 en 34 jaar in Suid-Afrika is nog slegs 24,78% ten volle ingeënt.

Intussen toon die studie dat Suid-Afrikaners wat COVID-19 in die huidige vierde golf opdoen, 80% minder geneig is om in die hospitaal opgeneem te word as hulle die Omikron-variant kry, in vergelyking met ander stamme.

Wanneer hulle in die hospitaal opgeneem word, verskil die risiko van ernstige siekte nie van ander variante nie, het die skrywers onder leiding van die wetenskaplikes Nicole Walter en Cheryl Cohen gesê.

In vergelyking met Delta-infeksies in Suid-Afrika tussen April en November, word Omikron-infeksies geassosieer met ’n 70% laer risiko van ernstige siekte, het hulle gesê. Die Omikron-data is vir die twee maande tot November ingesamel.

Alhoewel gevalle van Omikron minder geneig was om in die hospitaal te beland as gevalle van Delta, is dit steeds nie moontlik om te sê of dit te danke is aan inherente verskille in virulensie of aan hoër bevolkingsimmuniteit in November vergeleke met vroeër in die jaar nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top