Suid-Afrika trap water oor Rusland

  • 0

Suid-Afrikaners en die res van die wêreld het steeds geen idee waarom die Russiese vaartuig Lady R vyf maande gelede onder geheimsinnige omstandighede in die middel van die nag in Simonstad vasgemeer het nie.

Te midde van bewerings die afgelope week dat dit met die op- of aflaai van wapens te doen het, weier die Suid-Afrikaanse regering om besonderhede van die skip se besoek met die res van die wêreld te deel.

Suid-Afrika het in ’n diplomatieke herrie met Amerika beland na ’n bewering deur laasgenoemde se ambassadeur in Suid-Afrika dat dit met wapenverkope aan Rusland te make het.

Suid-Afrika ontken dit, maar daar is steeds geen aanduiding van regeringskant van wat die doel van skip se besoek was nie.

President Ramaphosa en sy regering word uit verskeie oorde daarvan beskuldig dat hulle desperaat besig is om water te trap sonder om enige antwoorde te gee.

Ramaphosa het Maandag in sy gereelde nuusbrief ook na die omstrede bewerings verwys. Hy het egter niks gesê om die lug te suiwer nie. Al wat hy daaroor te sê gehad het, is: “Aangesien ons nie konkrete bewyse het om hierdie bewerings te ondersteun nie, stel ons ’n onafhanklike ondersoek onder leiding van ’n afgetrede regter aan om die feite vas te stel.”

Ramaphosa sê Suid-Afrika is ’n soewereine staat wat deur ’n demokratiese grondwet beheer word en verbind is tot die konsekwente toepassing van internasionale reg. “Ons sal voortgaan om ons verpligtinge na te kom ingevolge die verskillende internasionale ooreenkomste en verdrae waarvan ons ondertekenaars is.”

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het in ’n verklaring daarop aangedring dat die regering vir die land vertel wat op die Russiese skip was.

Outa sê die regering se gebrek aan deursigtigheid oor bewerings van wapenvoorrade aan Rusland, ’n land wat in ’n oorlog van aggressie teen die Oekraïne is, het Suid-Afrika baie naby aan ’n reeks gebeure gebring wat aansienlike ekonomiese ontbering vir die land sal veroorsaak.

“Die onverklaarbare gebrek aan deursigtigheid en inligting oor wat op die Russiese skip Lady R gelaai is wat in Desember 2022 vir ’n paar dae in Simonstad vasgemeer het, is uiters kommerwekkend, nie net vir Suid-Afrika se grootste handelsvennote nie, maar ook vir miljoene burgers wat omgee vir ons standpunt oor die oorlog tussen Rusland en Oekraïne,” sê Outa in hulle verklaring.

Die aktiwiteite wat tans ontvou, insluitend die onlangse landing van ’n Russiese militêre vliegtuig by die Waterkloof-lugmagbasis, stuur volgens Outa ’n duidelike sein uit dat die regerende party op een of ander manier van Russiese gunste afhanklik is en bereid is om die staat te kompromitteer.

Die DA het in hulle reaksie op die jongste gebeure gesê dit is duidelik dat beide president Ramaphosa en die minister van verdediging, Thandi Modise,  presies weet wat in Desember gebeur het en nou desperaat water trap.

Deur aan te kondig dat ’n regter uit sy aftrede geroep gaan word om ’n ondersoek te doen, is volgens die DA se skaduminister vir internasionale betrekkinge en samewerking, Emma Louise Powell, ’n “desperate geskarrel om hierdie vinnig ontvouende diplomatieke krisis te bestuur”.

Die DA sê deur die befondsing van “oorlogsmokkelaars te ondersteun”, het die ANC Russiese roulette gespeel met 100 000 poste en miljarde rande se handel wat tans deur die Afrika-wet op groei en geleenthede (AGOA) beskerm word.

Volgens Outa skuld die Suid-Afrikaanse regering sy burgers niks minder as die waarheid oor hierdie aangeleentheid nie, sodat die stygende spanning tussen Suid-Afrika en sy grootste handelsvennote verlig kan word en die land gespaar bly van enige verdere verleentheid en moontlike negatiewe handelsimpakte wat verwoestend vir die land sal wees.

“Hierdie kwessies het reeds ’n negatiewe impak op die huidige wisselkoerse, met die potensiaal vir aansienlike negatiewe ekonomiese reperkussies vir Suid-Afrika. Wat ons onaanvaarbaar vind, is die regering se reaksie om ’n onafhanklike ondersoek in te stel oor of wapentuig en ammunisie in die Russiese skip gelaai is of nie,” sê Wayne Duvenage, Outa se uitvoerende hoof.

“As burgers het ons die reg om te weet wat ons regering aan die buiteland verskaf. Daar is geen behoefte aan ’n ondersoek in hierdie stadium nie; eerder wil ons absolute deursigtigheid aan Suid-Afrikaanse burgers en die wêreld oor hierdie aangeleentheid hê.

“Dit is doodeenvoudig: Die owerhede moet ons net vertel of iemand in die regering die laai en verskaffing van wat ook al op die Lady R was, gemagtig het, en indien wel, of die voorraad wapentuig en/of ammunisie ingesluit het.”

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top