Suid-Afrika is besig om die stryd teen lugbesoedeling te verloor. Minder as 20% van die land se luggehaltemoniteringstasies rapporteer lewensnoodsaaklike data.
Van die 130 regeringsbeheerde moniteringstasies regoor die land is 21 stasies glad nie in werking nie, terwyl 84 in werking is, maar nie voldoende data rapporteer nie. Dit laat net 25 operasionele stasies oor wat nog data voldoende volgens nasionale regulasies rapporteer.
Die onthullings oor die treurige toestand van Suid-Afrika se luggehaltemoniteringsnetwerk het na vore gekom in die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DFFE) se portefeuljekomiteevergadering in die parlement.
Die DA sê in ’n verklaring die toedrag van sake is kommerwekkend en vereis dringende ingryping.
“Dit is ’n duidelike oortreding van die Wet op Luggehalte, wat die monitering en verslagdoening van luggehalte vereis om die beskerming van menslike gesondheid en die omgewing te verseker. Die regering se onvermoë om hierdie kritieke fasiliteite in stand te hou, is ’n direkte bedreiging vir openbare gesondheid en veiligheid,” sê Hannah Shameema Winkler, die DA se parlementslid op die portefeuljekomitee oor bosbou, visserye en die omgewing.
Die VN se spesiale rapporteur oor gifstowwe en menseregte, Marcos Orellana, het reeds in Augustus daarop gewys dat die toepassing van wette oor besoedeling en die vrystelling van gifstowwe in die omgewing in Suid-Afrika verskerp moet word.
Orellana het vroeër vanjaar etlike weke in die land deurgebring om ’n ondersoek te onderneem oor die omgewingsgesonde bestuur en wegdoening van gevaarlike stowwe en afval in Suid-Afrika.
Sy navorsing is van 31 Julie tot 11 Augustus vanjaar gedoen. Hy het gesê dat lugbesoedeling in die land hoofsaaklik toegeskryf kan word aan die 90%-steenkool-gegenereerde elektrisiteitsaanlegte en mynbou.
“’n Studie het geraam dat 2 239 sterftes en 9 500 gevalle van brongitis per jaar aan lugbesoedeling in Suid-Afrika toegeskryf word,” het Orellana gesê.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), verantwoordelik vir luggehaltemoniteringstasies in die hoëveldprioriteitgebied, is tans besig om rugsteuningsenergietoevoer te bekom om te verseker dat die nodige data beskikbaar is.
Die gebrek aan ’n duidelike tydraamwerk vir wanneer hierdie rugsteuning in werking sal wees, veral vir die 15 stasies in die hoëveldprioriteitsgebied, is egter volgens die DA onaanvaarbaar.
Dele van die hoëveld is bekend vir swak luggehalte. Die DA sê hulle eis deursigtigheid, aanspreeklikheid en spoedige optrede om hierdie ernstige situasie reg te stel.
Die Wet op Luggehalte bepaal die verantwoordelikhede van regeringsliggame om skoon lug en die beskerming van openbare gesondheid te verseker. Die wet vereis die monitering van luggehalte en die verspreiding van inligting aan die publiek, asook die implementering van luggehaltebestuursplanne om voldoening aan nasionale standaarde te verseker.
Die huidige situasie is ’n flagrante verontagsaming van hierdie wetlike verpligtinge, sê die DA in hulle verklaring.
Die party vra vir onmiddellike ingryping deur die DFFE en SAWD om die gebreke in die land se luggehaltemoniteringsnetwerk aan te spreek. “Ons vra vir ’n gedetailleerde aksieplan met duidelike tydlyne vir die herstel van alle nieoperasionele luggehaltemoniteringstasies,” het Winkler gesê.
Sy eis ook deursigtigheid in die verkrygingsproses vir die nodige rugsteuningsenergie om te verseker dat dit doeltreffend en vry van korrupsie uitgevoer word.
Verder vra sy onmiddellike aandag aan die hoëveldprioriteitsgebied, gegewe sy bekende luggehaltekwessies, om die gesondheid en welstand van die gemeenskappe wat in hierdie streek woon, te beskerm, asook ’n omvattende oorsig van die bestuur en instandhouding van die moniteringsnetwerk om sulke mislukkings in die toekoms te voorkom.
Johannesburg het van die swakste luggehalte ter wêreld. Die stad se meting is 2,6 keer hoër as die Wêreldgesondheidsorganisasie se riglynwaarde. Kenners sê swaar afhanklikheid van steenkool en mynbou is die hoofoorsaak van die stad se besoedeling.
Winkler sê Suid-Afrika misluk in sy stryd teen lugbesoedeling. “Die DA sal nie net staan en toekyk hoe die gesondheid van ons burgers in gevaar gestel word nie. Ons sal voortgaan om die regering aanspreeklik te hou en die implementering van robuuste en doeltreffende luggehaltebestuur te eis om ’n skoon, gesonde omgewing vir almal te verseker.”