Suid-Afrika-VSA-spanning voorop by ANC se NUK-vergadering

  • 0

Betrekkinge tussen Suid-Afrika en die VSA sal na verwagting boaan die agenda wees wanneer die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) Vrydag  vergader.

Spanning wat die afgelope weke afgestuur het op ’n diplomatieke breekspul tussen die twee lande, spruit uit Suid-Afrika se grondhervormingsbeleid en sy buitelandse beleid, wat die VSA al hoe meer verontrus.

Die NUK, die ANC se hoogste besluitnemingsliggaam tussen konferensies, bestaan uit sowat 87 lede, insluitend president Cyril Ramaphosa en ander “top sewe” lede. Dit stuur die party se beleid en strategieë, wat dikwels die Suid-Afrikaanse regering beïnvloed, gegewe die ANC se leidende rol in die regering van nasionale eenheid (RNE).

Vrydag se NUK-vergadering kom op ’n deurslaggewende oomblik, met die ANC onder druk ná die 2024-verkiesing, waar dit sy absolute meerderheid verloor het en nou ’n brose 10-party-koalisie lei.

Die Onteieningswet wat Ramaphosa in Januarie onderteken het, laat die regering toe om grond onder streng voorwaardes sonder vergoeding te neem om historiese ongelykhede reg te stel.

Dit het spanning veroorsaak tussen die DA en die ANC, hul grootste vennoot in die RNE, asook tussen die regering en internasionale kritici, veral die VSA. In Februarie het president Donald Trump byna alle Amerikaanse finansiële hulp aan Suid-Afrika opgeskort, insluitend aan Pepfar (MIV/Vigs) en JETP (skoon energie), as ’n waarskuwing teen die ANC se “vyandige gedrag”. Hy het ook Afrikaners as vlugtelinge geprioritiseer, met meer as 67 000 wat volgens die Suid-Afrikaanse Sakekamer in die VSA belangstelling toon.

Die opskorting van hulp plaas verdere druk op Suid-Afrika se ekonomie, met ’n werkloosheidsyfer van 35% en stygende lewenskoste.

Suid-Afrika se bande met Rusland en China, veral na die 2024 Brics-beraad, en sy steun vir Palestina, het die VSA geruime tyd al bekommerd gemaak. Die saak teen Israel by die Internasionale Geregshof en die uitsetting van Ebrahim Rasool as Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika het verhoudings verder vertroebel.

Die VSA, Suid-Afrika se tweede grootste handelsvennoot, dreig boonop om die African Growth and Opportunity Act (Agoa), wat in September 2025 verstryk, nie te hernu nie. Dit sal ’n groot slag vir Suid-Afrikaanse uitvoere soos motors en landbouprodukte wees.

Die ANC sal Vrydag waarskynlik bespreek hoe om verhoudings met die VSA te herstel sonder om sy beginsels van soewereiniteit op te offer, of sy vennootskappe met China en Rusland te skaad.

Die ANC se amptelike woordvoerders hou vol dat hulle nie sal toelaat dat die VSA hulle boelie nie, terwyl Ramaphosa tot dusver ʼn baie meer diplomatiese  toon aangeslaan het.

Elon Musk en Trump het die grondkwessie as ’n “volksmoord” op wit boere voorgestel, met Musk wat volhou met sy vals narratief dat spesifiek wit mense in Suid-Afrika uitgemoor word.

Suid-Afrikaanse howe het hierdie narratief reeds die nek ingeslaan, terwyl navorsing toon dat plaasaanvalle finansieel gedrewe en nie rasgedrewe is nie.

Statistiek toon die geweld in Suid-Afrika is ’n veel breër probleem wat nie net op wit mense gerig is nie. Ramaphosa beklemtoon ook dat die Onteieningswet nie ’n “konfiskeringsinstrument” is nie, en AgriSA en die VF Plus het bevestig dat geen boere se grond  nog sonder vergoeding afgeneem is nie. Hierdie uitsprake keer egter nie dat Suid-Afrika se beeld geskaad word en rasverhoudings polariseer nie.

Die NUK se besluite hierdie naweek kan ‘n groot impak op die land se betrekkinge met Amerika hê. As die ANC nie slim te werk gaan nie, is dit feitlik ’n uitgemaakte saak dat Agoa iets van die verlede is, en kan VSA-sanksies ook nie uitgesluit word nie, wat tot verdere werkverliese en ’n dalende rand sal lei. Op lang termyn kan dit Suid-Afrika se aansien knou en die emigrasie van vaardige werkers aanmoedig. Die naweek se vergadering sal wys of die ANC ekonomiese pragmatisme bo ideologie stel en of hulle bereid is om die prys te betaal as die bande met die VSA verder geskaad word. Dit kan ’n groot impak hê op sowel Suid-Afrika se globale posisie as binnelandse stabiliteit.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top