Suid-Afrika wag (weer) op ’n kaptein

  • 0

Ons land is nou weer terug – in ’n heel anderse konteks, maar tog – waar ons min of meer 30 jaar gelede was. Ons is ’n land in afwagting, soos wat ’n hoogs geskoolde persoon destyds die situasie in die aanloop tot die eerste nierassige, demokratiese verkiesing opgesom het.

Dié persoon, Vincent Crapanzano, het in 1985 in sy boek Waiting: the whites of South Africa, primêr die onafwendbare verlies van mag deur die wit bevolking (Afrikaans én Engels) onder die soeklig geplaas. Om by sy slotsom uit te kom, het hy ’n interessante (treffende, akkurate) onderskeid getref tussen die tipe afwagting wat Suid-Afrikaners destyds volgens elkeen se rasseklassifikasie ervaar het.

Crapanzano het as antropoloog en letterkundige die situasie as volg opgesom: “[F]or most Whites, waiting is compounded by fear; for most Blacks, however great their misery, there is a belief that time is on their side; for the Coloureds and Asians, fear and hope.”

Eenvoudig gestel, was wit Suid-Afrika bang vir wat voorlê (vergelding eerder as vrede was vooropgestel in hul gedagtes), terwyl swart Suid-Afrika vasgeklou het aan die beloofde beter burgerskap (gelykwaardigheid, menswaardigheid) waarvoor hulle gestruggle het. Bruin en Asiër, wat veral Indiërs aandui, het gemengde emosies van angstigheid saam met opgewondenheid ervaar – ’n bietjie hiervan en ’n bietjie daarvan.

Noudat die dertigjarige herdenking van die geboorte van die demokratiese era net om die draai lê, is die gevoel van afwagting onder Suid-Afrikaners weer tasbaar, maar dit is lank nie meer op ras gegrond nie. Dit is vandag ’n gedeelde afwagting oor ’n moontlike nuwe politieke orde of andersins of Gods water maar net verder toegelaat gaan word om oor Gods akker te loop.

In duideliker terme: Gaan die ANC weer die meeste steun by die stembus wen en geleentheid kry, soos pres Cyril Ramaphosa nou al minstens drie keer sedert die begin van die jaar gepleit het, om ’n program van herstel, herlewing en hernuwing van stapel te stuur? Of gaan opposisiepartye, sowel ervare en nuut gestig, genoeg kiesers kan oorreed om aan ’n koalisie van kundigheid die geleentheid te gee om daardie uiters noodsaaklike program van herstel, herlewing en hernuwing in werking te stel? Die ANC is immers die regerende party onder wie se bewind dinge agteruit begin gaan het – sonder om die (nou al afgesaagde) lied van maatskaplike opheffing waarop die ANC so roem, gering te skat.

Maar kritici was geregverdig daarin om vinnig die tekortkominge uit te wys toe Ramaphosa in sy staatsrede ’n denkbeeldige dertigjarige Tintswalo opgediep het om te illustreer hoedat sy deur die regering se HOP-huisie aan haar ouers, met lopende water en elektrisiteit, ’n Sassa-toelaag, NSFAS-beurs en teikens vir billike indiensneming, ’n goeie verhaal het om van drie dekades van die demokrasie te vertel. Die lewe van Tintswalo het vir sterk meningsverskille gesorg, nie slegs die aand nadat Ramaphosa sy staatsrede gelewer het nie, maar ook gedurende die debat oor die staatsrede die afgelope week.

Ongeag hoe simpatiek of ondersteunend jy ook al teenoor die ANC staan, bly die feit dat voortgesette beurtkrag ’n donker wolk oor die land laat hang. Skoolkinders kan nie met begrip lees nie. Infrastruktuur verkrummel. Behoorlike dienslewering op plaaslike vlak is vergete. Werkloosheid beur teen die heuwel op. Ekonomiese groei is in boeie.

Dit is boeie wat teen hierdie tyd afgewerp moes gewees het ten einde alle Suid-Afrikaners se geleefde ervaring een te maak van optimisme, en nie pessimisme nie, oor of sake sodanig sal verbeter dat hulle rede sal hê om in hoop te lewe nie. Die hoop hou egter aan om te beskaam, terwyl Ramaphosa sy bes probeer om die skuld daarvoor op Jacob Zuma se staatskaping, Covid en die Julie 2021-oproer in KwaZulu-Natal en Gauteng se brood te smeer.

Peilings wil ons laat glo dat die ANC geensins ’n verkiesingsuitslag van 50% plus een gewaarborg is nie, maar terselfdertyd lyk dit ook nie asof die ouer opposisiepartye en die nuwe partye wat nou kop uitsteek, sélf genoegsame steun op hulself sal kan verenig om ’n regering te vorm nie. Nogtans sweer Ramaphosa die ANC hoef homself nie op te hou met niksseggende of tydrowende gesprekke oor koalisievorming nie, want dit is bedoel vir partye wat beplan om die verkiesing te verloor.

Dit is ’n stelling wat oudpres Nelson Mandela dalk met soveel selfvertroue sou kon gedoen het – lank, lank gelede, voordat hy ons eerste demokraties verkose staatshoof geword het en versoening sy hooffokus gemaak het. Nou nie meer nie.

Wat jy nou hoor wanneer radio- en televisieverslaggewers mense op straat oor hul verwagtinge van die verkiesing vra, is ’n lys bekommernisse oor die stand van die land en wat die toekoms inhou. Slaggate is lank nie meer snaaks nie. ’n Mens moet dit in berekening bring dat die lojaliteit teenoor die ANC as ’n eertydse bevrydingsbeweging nog sterk loop, maar nuwe toetreders tot die politieke spektrum, waaronder Songezo Zibi se Rise Mzansi en Mmusi Maimane se Build One SA, trek toenemend aandag.

Die groot onsekerheid is egter of van die nuwe of bestaande partye oorreed sal kan word om vir die Bybelse 30 silwerstukke met die ANC kragte saam te snoer en of hulle ’n verenigde front sal kan vorm om ’n behoorlike herskikking van die Suid-Afrikaanse politiek moontlik te maak.

Hieroor het kiesers alle rede om in onrustige afwagting te lewe. Ons wag weer, almal tesame, op ’n kaptein.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top