Suid-Afrikaners word oorval met fopnuus en vals inligting wat op aanlyn platforms versprei word.
Volgens ’n studie waarvan die resultate op die webwerf The Conversation verskyn, is voorbeelde van vals inligting al hoe meer algemeen in Suid-Afrika.
Meer as 75% van Suid-Afrikaners sê hulle kom gereeld af op politieke nuus wat hulle dink vals is. Agt uit 10 Suid-Afrikaners glo dat disinformasie (of “fopnuus”) ’n probleem of ’n ernstige probleem in die land is.
The Conversation Africa is 'n onafhanklike bron van nuus en sienings van die akademiese en navorsingsgemeenskap.
Aanlyn platforms is volgens die studie propvol voorbeelde van vals inligting – van WhatsApp-boodskappe wat die een of ander wonderbaarlike kuur vir COVID-19 aandui, tot sosialemedia-plasings wat beweer dat ’n politikus iets gedoen het wat hulle nie gedoen het nie.
Navorsers en beleidmakers werk al jare aan strategieë om disinformasie teë te werk. Sommige beleidmakers het nuwe regulasies voorgestel of tegnologiemaatskappye onder druk geplaas om meer te doen. Hierdie aksies laat dikwels die vraag ontstaan oor hoe om vrye spraak en regulering te balanseer.
Nog 'n opsie is om die vlakke van mediageletterdheid onder gewone mense te verhoog. Mediageletterdheid verwys na die vermoë om mediatekste krities te lees, die verhouding tussen media en gehore te verstaan en te weet hoe mediaproduksieprosesse werk. In verskillende dele van die wêreld het navorsing getoon dat om mense meer mediageletterd te maak, kan help om die verspreiding van disinformasie te verminder.
Daar is bevind dat Suid-Afrika nie 'n omvattende nasionale mediageletterdheidsprogram het nie. Dikwels kom dit neer op individuele onderwysers en skole om leerders meer mediageletterd te maak.
Leerders word geleer hoe om die media te gebruik, hoe om aanlyn veilig te bly en hoe om media-inhoud te produseer, maar veel minder fokus val op hoe om die media se feite te kontroleer en te verifieer.
Slegs een van die provinsies wat deur die navorsers ondersoek is, die Wes-Kaap, het in 2020 in vennootskap met Google probeer om 'n module oor aanlynveiligheid vir grade 8 tot 12 te implementeer. Die toepassing daarvan by skole was beperk weens die Covid-pandemie in dieselfde jaar.
Die navorsing was die eerste in Suid-Afrika wat opvoeders by beide skole en universiteite ondersoek het oor hul sienings oor die behoefte om mediageletterdheid aan te leer. Die bevindinge is gebaseer op die antwoorde op 'n aanlyn opname wat deur 281 opvoeders verskaf is. Daar is ook fokusgroepe georganiseer en onderhoude gevoer met beleidmakers, opvoeders en professionele media.
Al die belanghebbendes wat by die studie ingesluit is, van opvoeders op verskillende vlakke van hul loopbaan tot beleidmakers en professionele medianavorsers, het saamgestem oor die belangrikheid van mediageletterdheid. Maar hulle het verskillende sienings gehad oor wat presies geleer moet word.
Verskeie aanbevelings word gemaak oor hoe om die hoeveelheid mediageletterdheid wat in Suid-Afrikaanse skole onderrig word, te verhoog.
Eerstens waarsku die navorsers teen vaste of eenvormige benaderings. Hulle sê dit sal beslis misluk vanweë verskille in toegang en hulpbronne oor skole heen. Sorg moet ook gedra word om materiaal te ontwikkel in die taal wat die meeste deur leerders gebruik word. Materiaal moet ook ouderdomsgepas wees en met verwysing na werklike geleefde ervarings van die gemeenskappe waar dit gebruik gaan word.
Tweedens behoort mediageletterdheidsonderrigmateriaal 'n sterk fokus op selfone as nuusbron te hê, vanweë hul wydverspreide gebruik regoor die land.
Derdens, gegewe die burokratiese struikelblokke om mediageletterdheidskurrikulums landwyd te ontwikkel en uit te voer, behoort onderwysdepartemente in elke provinsie by mediageletterdheidskurrikulumbeplanning betrokke te wees.
Laastens behoort die betrek van opvoeders en feitekontrolerende organisasies wat aan die voorpunt van die stryd teen disinformasie is, ook 'n prioriteit te wees.
Bron: The Conversation
Lees ook:
Herman Wasserman en die infodemie: Disinformasie in die Globale Suide
Disinformation in the Global South: ’n onderhoud met Herman Wasserman