As president Cyril Ramaphosa nie baie gou ná die ANC se leierskonferensie in Desember iets gaan doen aan die huidige situasie in die land nie, gaan Suid-Afrika ’n mafiastaat word.
Dié somber prentjie oor die land se toekoms is by die afgelope Toyota US Woordfees op Stellenbosch geskets tydens ’n gesprek tussen Vrye Weekblad se redakteur, Max du Preez, en die joernalis en skrywer Jacques Pauw.
In die politiek is ’n mafiastaat ’n staatstelsel waar die regering met georganiseerde misdaad verbind is, tot die mate waar staatsamptenare, die polisie en/of weermag deel geword het van die kriminele onderneming.
Voorbeelde van lande was as mafiastate beskryf word, is gebiede van die voormalige Joego-Slawië, Rusland en Mexiko.
In sy gesprek met Max du Preez oor sy jongste boek, Our poisoned land: Living in the shadows of Zuma’s keepers, het Pauw geen doekies omgedraai oor Ramaphosa se onvermoë om die regte ding te doen nie.
Die boek sal eersdaags te koop wees en handel oor die tyd na Pauw se vorige blitsverkoperboek oor Zuma, The President's keepers.
Volgens Pauw is die staatsdiens steeds propvol korrupte amptenare in belangrike posisies wat veral gedurende Zuma se tyd aangestel is. Selfs die intelligensiedienste en die Valke het nog van die ou personeel in hulle midde en het glad nie die vermoë om georganiseerde misdaad te bekamp nie. Die land beskik tans oor absoluut geen misdaadintelligensie-inligting nie.,
Pauw sê Ramaphosa het wel sekere goeie aanstellings gemaak nadat hy by Zuma oorgeneem het, maar het versuim om ontslae te raak van die ministers en amptenare wat na bewering by korrupsie betrokke is. Hierdie persone het feitlik die hele staatsbestel binnegesypel tydens die era van staatskaping.
Volgens Du Preez is Ramaphosa ’n yslike teleurstelling as president. Hy sê Ramaphosa probeer so hard om die vrede in die ANC te bewaar dat dit ten koste van die land geskied. Vandat Ramaphosa ’n multimiljoenêr geword het, verskil sy optrede hemelsbreed van dié van die man wat tydens die Kodesa-onderhandelings mense soos Roelf Meyer ore aangesit het en ’n gedugte onderhandelaar was vir wie hy groot respek gehad het.
Pauw sê Suid-Afrikaners was so bly om van Zuma ontslae te raak dat hulle vergeet het Ramaphosa was vir baie jare deel van die ANC se verrotting en sy oë gesluit het vir dit wat besig was om reg onder sy neus te gebeur.
In sy nuwe boek gaan daar glo ook ’n paar onthullings oor die EFF-leier, Julius Malema, wees. Pauw wou nie die aap uit die mou laat waaroor dit gaan nie, maar het beloof dat dit nuuswaardig gaan wees.
Te oordeel aan die gesprek beloof die nuwe boek om nog ’n riller te wees.
Beide Pauw en Du Preez het geen goeie woorde vir Ramaphosa gehad nie. Hulle beskuldig hom van ruggraatloosheid en sê hy het baie te verduidelik na aanleiding van regter Zondo se verslag.
Pauw sê uit Zondo se verslag is dit duidelik dat hy Ramaphosa se verduidelikings langtand aangehoor het en hom op baie punte nie glo nie.
Een van die talle foute wat Ramaphosa glo gemaak het, was, volgens Du Preez en Pauw, om Arthur Fraser in diens van die staat te hou nadat hy hom as spioenbaas afgedank het.