Suid-Afrikaanse boere wil in Rusland gaan boer

  • 0

Foto: YouTube

Verskeie Suid-Afrikaanse boere oorweeg dit glo om in Rusland te gaan boer uit vrees dat hulle grond in Suid-Afrika sonder vergoeding onteien gaan word.

’n Groep van 30 Suid-Afrikaanse boere en families het pas die boerderymoontlikhede in Rusland gaan ondersoek. Volgens een van die gesinne wat uit Rusland teruggekeer het, het die onsekerheid oor grondonteiening en die veiligheidsituasie op plase grootliks bygedra tot hulle belangstelling om in Rusland te gaan boer.

Sommige media in Rusland het berig dat sowat 15 000 Suid-Afrikaanse boere dit oorweeg om in Rusland te gaan boer. Een van die boere wat pas van Rusland teruggekeer het, dr Adi Schlebusch wat buite Bloemfontein boer, het egter aan Netwerk24 gesê die getal is oordrewe en hy is net bewus van slegs sowat 30 gesinne wat dit oorweeg.

Die Suid-Afrikaners se besoek aan Rusland is selfs op Russiese TV uitgesaai en op YouTube versprei.

Volgens Schlebusch is grondpryse in Rusland baie meer bekostigbaar as in Europa maar daar is ook baie struikelblokke. Hy het aan Netwerk24 gesê boere boer meestal op grond wat deur maatskappye besit word. In die noorde van Rusland is meer grond privaat te koop maar dit is baie koud daar en die ekonomiese mag is in die hande van ’n klein elite groepie.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het in 2016 tydens ’n inligtingsbespreking op Orania daarop gewys hoe aantreklik sommige Oos-Europese lande dit vir Suid-Afrikaanse boere maak om daar met boerderye te begin.

Afgesien van die aansporings wat Georgië bied en wat al talle SA-boere gelok het, subsidieer Bulgarye SA-boerderybeleggings met tot 70%, met ander woorde ’n boer word vergoed met 70% kapitale waarde van enige belegging wat hy in boerdery in Bulgarye maak, het Van Zyl twee jaar gelede gesê.

In Rusland is die subsidiesyfer selfs tot 80%. Dit is omdat die kundigheid en produksievermoë van SA-boere, veral Afrikaners, volgens Van Zyl besef en gerespekteer word. Van Zyl het in antwoord op ’n vraag ook gesê dat SA onlangs weer ’n netto uitvoerder van kos geword het. Die ironie van die situasie in die land is volgens hom egter dat 40% van die bevolking nie kan bekostig om substansieel kos te koop nie. Derhalwe spel ’n honger massa in SA ’n rewolusionêre gevaar, sê hy.

’n Woordvoerder van Suid-Afrika se ministerie van landbou, Khaye Nkwanyana, sê die ministerie van landbou is bekommerd oor die boere wat dit oorweeg om die land te verlaat. Hy sê die doel met grondhervorming is nie om voedselsekerheid en groot suksesvolle boerderye te ondermyn nie.

Met sy oppervlak van 17 098 246 km² is Rusland by verre die grootste land ter wêreld, byna twee maal so groot soos die tweede grootste land, Kanada.

In teenstelling met die groeiende nywerheidsektor het die landbou volgens Wikipedia steeds die Achilleshiel van die Russiese ekonomie gevorm. Sedert die 1960's was die land verskeie kere gedwing om graan uit ander lande in te voer. Alhoewel die voedselproduksie aansienlik verhoog is, was hierdie groei net groot genoeg om met die bevolkingsaanwas tred te hou.

Westerse deskundiges blameer die Sowjet-regering se agrariese beleid wat plase tot groot, maar minder effektiewe kollektiewe (kolkhozi) en staatsbeheerde bedrywe (sovkhozi) saamgesmelt het. Die staat se voorkeur vir grootskaalse projekte, wat kenmerkend vir die land se industriële projekte in die 20ste eeu was, is sodoende ook na die landbousektor uitgebrei.

Rusland het volgens Wikipedia ook die wêreld se grootste natuurlike-gas-, tweede grootste steenkool- en agtste grootste oliereserwes.

Die ekonomiese ontwikkeling van die land is egter oneweredig aangesien die Moskou-streek ’n buitengewoon groot deel tot die BBP bydra. ’n Groot deel van Rusland, veral plattelandse gebiede, vaar veel swakker. Tog het die middelklas gegroei van net agt miljoen mense in 2000 tot 55 miljoen in 2006. Rusland het in 2007 altesaam 110 miljardêrs gehad, die grootste getal buiten die VSA.

Ondanks die land se sterk ekonomiese groei lys die Wêreldbank verskeie uitdagings wat die Russiese ekonomie in die gesig staar, onder meer die diversifisering van die ekonomie en die aanmoediging van die groei van klein en middelslag-besighede. 

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top