Suid-Afrikaanse brandewyn bly ’n trotse 350-jaar geskiedenis weerspieël

  • 0
Renier “René” Van Eibergen Santhagens staan bekend as die eerste man in Suid-Afrika om brandewyn volgens die streng regulasies in die tradisionele Franse tradisie te maak en het selfs sy eie stookketels uit Cognac saamgebring. Santhagens is in Batavia, die hoofstad van die destydse Nederlands-Indië, gebore. Dit was sy insigte en tegnieke wat later gelei het tot ’n nuwe kwaliteitmaatstaf waaraan spiritus moes voldoen om Suid-Afrikaanse brandewyn genoem te kon word.

Brandewyn is wel ’n internasionale drankie, maar min kan kers vashou by dié uit Suid-Afrika, skryf Clifford Roberts

’n Mylpaaljaar vir Suid-Afrikaanse brandewyn sluit binnekort af. Nie alleen is brandewyn vir die eerste keer presies 350 jaar gelede hier in Tafelbaai op die Nederlandse skip De Pijl gestook nie, maar steeds word nuwe brandewyne bekendgestel.

Die geskiedenis vertel dat brandewyn aan vroeë setlaars bekend was en uit Holland as versterking vir die troepe gestuur is. Wyndruifwingerde is in 1655 in die Kaap geplant en eers in 1672 het ’n kok op De Pijl daarin geslaag om deur middel van dubbeldistillasie Kaapse wyn in ’n brandewynspiritus te verander.

Maar die kwaliteit daarvan het power gebly tot die aankoms van Renier “René” Van Eibergen Santhagens in die laat 1800’s. Hy staan bekend as die eerste man in Suid-Afrika om brandewyn volgens die streng regulasies in die tradisionele Franse tradisie te maak en het selfs sy eie stookketels uit Cognac saamgebring.

Santhagens is in Batavia, die hoofstad van die destydse Nederlands-Indië, gebore. Dit was sy insigte en tegnieke wat later gelei het tot ’n nuwe kwaliteitmaatstaf waaraan spiritus moes voldoen om Suid-Afrikaanse brandewyn genoem te kon word.

Suid-Afrikaanse potketelbrandewyn en ook die nuwe benaming Cape Brandy word op dieselfde manier as konjak gemaak. Beide verg vyf liter basiswyn wat gedistilleer word in een helder, hoë-proef spiritus wat in vate verouder word.

Sedertdien het Suid-Afrikaanse brandewyne die wêreld al meer begin betower, veral toe selfs konjaks op internasionale kompetisies uitgestof word. Onder die leidende handelsmerke is KWV en Van Ryn’s.

Dit sal ook niemand verbaas dat plaaslik-vervaardigde brandewyne ook oor die dekades een van die land se gunstelinge gebly het nie.

’n Deel van die Nederlandse nalatenskap ten opsigte van hierdie onderwerp is buiten die spiritus se naam, ook die woord “sopie”. In sy boek Brandewyn in Suid-Afrika (1973, Buren Uitgewers/KWV), skryf André P Brink dat hy die woord in ’n manuskrip van 1696 gekry het, wat verwys na Nederlanders wat graag ’n “sopie” brandewyn geniet.

Sedertdien het Suid-Afrikaanse brandewynmakers dié spiritus hul eie gemaak en druiwe wat hier floreer, deur fyn distillering en veroudering laat sing. Vandag word daar gereeld nuwe skeppings vrygestel, waarvan die volgende enkele voorbeelde is.

Boplaas

Boplaas op Calitzdorp in die Klein Karoo is een van die land se voorste boetiekbrandewynmakers.

Dit is ’n deel van ’n trotse geskiedenis dat reeds in die 1800’s vate Boplaas-brandewyn per ossewa na die Kaapse hawe vervoer is en vandaar na Londen gestuur is.

Ná die afskaffing in die 1990’s van ’n amper eeu-lange gesentraliseerde produksiestelsel in Suid-Afrika, was Carel Nel een van dié wat die voortou met landgoedbrandewyne geneem het.

Sowat vyf jaar terug het sy seun Daniel die leisels oorgeneem met sy nuutste skepping, die 2005 Enkel Oes-potketelbrandewyn. Dit is in Oktober vrygestel en verkoop tans teen R900/750ml bottel. Bestel by admin@boplaas.co.za; www.boplaas.co.za.

Boplaas het ’n lang geskiedenis as brandewynmaker. (Foto: Clifford Roberts)

De Kaapsche Brandewijn Kompanjie

De Kaapsche Brandewijn Kompanjie is een van die nuutste skeppings in Suid-Afrika se brandewynwêreld. Dit is die projek van Paul Jordaan, ’n boer van Montagu wie se familie ’n lang geskiedenis as verskaffer van druiwe aan groot plaaslike brandewynmaatskappye het. Sy eerste brandewyn is in November geloods. Dubbeld gedistilleer in potketels van koper is die brandewyn vir ten minste 10 jaar verouder in ’n kombinasie van klein Franse en Amerikaanse eikehoutvate. Dis genaamd First Edition XO Cape Brandy en daar is slegs 700 bottels vrygestel. Nog brandewyne word beplan. Die XO is gebottel teen 40% en verkoop vir R1 495/750ml bottel.

Die Kaapsche Brandewijn Kompanjie se XO is die begin van ’n reeks wat Suid-Afrika se brandewyngeskiedenis vier. (Foto: Clifford Roberts)

Kumusha

Zimbabwe-gebore Tinashe Nyumudoka het vinnig opgang in Suid-Afrika gemaak, eers as talentvolle sommelier maar deesdae as eienaar van Kumusha, sy eie stal wyne. ’n Nuwe projek het hom in 2021 laat inskryf vir ’n kompetisie van die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting. Die doel van die geleentheid is om jong entrepreneurs met innoverende brandewynprojekte ’n hupstoot te gee, en Tinashe was een van die drie wenners. Sy Kumusha VSOP-brandewyn verskyn eersdaags op die rakke: www.kumushabrands.com.

KWV

KWV is lank bekend as een van die wêreld se topvervaardigers van premium brandewyne. Een van sy nuutste handelsmerke is Jackson Brown, ’n brandewynlikeur gemaak van drie jaar oue potketelbrandewyn en gebottel teen slegs 23% alkohol. Dit verkoop teen R95/750ml: www.kwv.co.za.

Jackson Brown is ’n nuwe brandewyn-likeur van KWV. (Foto: Clifford Roberts)

Onder leiding van Pieter de Bod, brandewynmeester, kom die wêreld se beste konjak ook uit Suid-Afrika. ’n Paar jaar gelede sluit KWV ’n samewerkingsvennootskap met die Franse Huis van Maison Charpentier en ontwikkel die KWV Héritage XO.

Pieter kies uit 20 van die beste Extra Old-konjaks uit die Petite Champagne- en Grande Champagne-streke in Frankryk, tussen 12 en 30 jaar oud, en hierdie konjak verdien sy gesogte Héritage XO-onderskeiding, omdat dit een van die wêreld se oudste konjaks is.

Hy het elkeen van die komponente geproe, die geure onderskei en dit in Frankryk gaan versny en voorberei vir veroudering sodat dit as konjak kan kwalifiseer. Die KWV Héritage XO-konjak is al verskeie male as die wêreld se beste konjak aangewys. Só wys ons Suid-Afrikaners selfs die Franse waar Dawid die wortels begrawe het.

Pieter de Bod is KWV se brandewynmeester en internasionaal bekend vir sy brandewyne. (Foto: verskaf)

Metanoia

Die naam Metanoia beteken “bekering” en weerspieël tot ’n mate die verandering in loopbaan van die distilleerdery se eienaar, Kenny Scheepers. Hy is ’n voormalige oliehandelaar en beleggingsbankier, maar het al sedert sy kinderjare in Limpopo saam met sy pa gestook. Terwyl hy in Europa gesetel was, het hy heelwat tyd by stokerye deurgebring. Sy nuutste skepping, wat ook permakultuur insluit, is buite Barrydale geleë. Hy gebruik ’n Duitse stookketel om ’n reeks te vervaardig, insluitend Heerlik Brandewyn. “Ek wou graag ’n brandewyn maak in die tradisionele Duitse styl van stook,” vertel hy. Hy het druiwe gefermenteer en gestook en versny met ’n vyf-jaar-oue potketel, asook water uit die Bokdrifrivier op sy plaas gebruik. Slegs 400 bottels is gemaak. Dit verkoop teen R325/750ml bottel: www.metanoiadistillery.co.za.

Kenny Scheepers van Metanoia (Foto: verskaf)

Metanoia se eerste produk was Heerlik Brandewyn. (Foto: verskaf)

Old Road Distillery (DGB)

Sydney Back-brandewyn word vernoem na die legendariese stigter van die Backsberg-wynplaas wat onlangs by DGB, een van Suid-Afrika se grootste onafhanklike drankvervaardigers en -verspreiders, ingelyf is. Die distilleerdery maak binnekort ’n nuwe proelokaal op Franschhoek oop en stel die brandewyn in Desember vry met nuwe verpakking. ’n Spesiale 25-jaar-oue brandewyn word ook vir laat volgende jaar beplan: www.dgb.co.za.

Old Road Distillery op Franschhoek is nou die tuiste van Sydney Back Brandewyn. (Foto: Clifford Roberts)

Orange River Cellars

Die Noord-Kaap is die tuiste van ’n handjievol brandewynmakers waarvan Orange River Cellars die grootste is. Sy Gannaput VSOP word van Chenin blanc- en Colombard-druiwe gemaak. Dis vernoem na ’n klein dorpie en plaas in die streek, en daar is beperkte produksie van 1200 bottels per seisoen. Dis dubbeld gedistilleer in koperpotketels en ’n versnit met geselekteerde brandewyne wat tot 12 jaar verouder is in Franse en Amerikaanse eikehout. Dit verkoop teen R450/750ml bottel. Orange River Cellars het ook in 2021 Bontstaan Brandewyn bekendgestel. Dit bestaan 100% uit potketelbrandewyn van Chenin blanc gemaak. Dit verkoop teen R341.70/750ml bottel: www.orangeriverwines.com.

Oude Molen

Oude Molen bou voort op Santhagens se nalatenskap met sy reeks pryswennende brandewyne. Hy het die Oude Molen-plaas in 1909 gekoop en hoewel Oude Molen se fasiliteite nou in die boomryke Elgin geleë is, het dit sy ontstaan in die Eikestad gehad. Die Oude Molen Single Cask is die nuutste VSOP-klas Kaapse brandewyn. Dit is gemaak in die maatskappy se grootste ketel, genaamd Big Bertha, en is verouder in ’n enkel-Amerikaanse eikehoutvat. Die vat is voorheen gebruik om bourbon te verouder. Daar is slegs 360 bottels van die Single Cask beskikbaar teen R800/750ml bottel: www.oudemolen.co.za.

The Inventer

Johan Venter word gereken as een van Suid-Afrika se top brandewynstokers.

Brandewynmaker Johan Venter het nou sy eie reeks geloods. (Foto: verskaf)

Het hy sy kuns geslyp by Distell as hoof van die land se top handelsmerke. Ná sy aftrede het hy begin werk aan sy eie portefeulje onder ’n handelsmerk wat met woordspeling oor sy van geskep is. Twee brandewyne was sy loodsprodukte, waarvan elk minder as 1 000 bottels geproduseer het. Sy XO Rosso-potketelbrandewyn is gemaak uit Cabernet Sauvignon en Merlot van Stellenbosch-wingerde, terwyl die XO Blanco-potketelbrandewyn van Chenin blanc, Sauvignon blanc, Ugni blanc en ’n titseltjie Muscat d’Alexandrie gemaak is. Albei is gebottel teen 40% alkohol en verkoop vir R1250/750ml bottel: www.theinventer.co.za.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top