Suid-Afrikaanse erfenis-uitstalling in Kaapstad

  • 0

Die National Library of South Africa (NLSA) (Kaapstad en Pretoria) vier vanjaar sy 200ste bestaansjaar. Tans word verskeie voorwerpe van historiese en kulturele belang by die NLSA in Kaapstad ten toon gestel. Die kurator van die uitstalling is Andrew Lamprecht.

Hierdie uitstalling, Treasure House of Knowledge, sluit erfenisvoorwerpe in soos:

  • ’n oorspronklike kopie van die gepubliseerde Arabiese Afrikaans-boek deur Abu Bakr Effendi (1869),
  • ’n Nama-Bybel wat in 1859 gepubliseer is
  • die eerste gedig wat in Kaap die Goeie Hoop gepubliseer is
  • plakkate van Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing in 1994.

Menán van Heerden het foto’s geneem van ’n paar items van die meer as 300 items wat ten toon gestel word, wat uit die biblioteek se meer as twee miljoen items geselekteer is.

Kurator Andrew Lamprecht vertel meer oor die uitstalling:

Hierdie teks deur Abu Bakr Effendi, in 1869 geskryf en in 1877 in Turkye gedruk, is in Arabiese Afrikaans geskryf. 

Lees meer oor Abu Bakr Effendi in twee LitNet artikels: “Die Bo-Kaap: Arabiese Afrikaans en die Kaapse Moslemgemeenskap” en “Afrikaans: the language of dissent”.

Lees ook die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel “Gewone lesers aan die Kaap, c 1680 tot 1850” (Archie Dick, 2012) oor Arabiese Afrikaanse-skrifte.

’n 1951-uitgawe van Die Huisgenoot (Kaapstad: Nasionale Tydskrifte, 1916–).

Lees meer oor die geskiedenis van Die Huisgenoot in die LitNet Akademies (Geestewetenskappe)-artikel, “Huisgenoot as tydgenoot: ’n mediageskiedkundige kroniek van ’n tydskrif as ‘skrif’ van sy tyd” (Lizette Rabe, 2016).’n Bybel in Nama (1859).

Lees meer oor Nama in die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel, “Afrikaans as lingua franca in Namibië, ca 1800–1920” (Gerald Groenewald, 2010) en in die LitNet-artikel “Indigenous ‘Khoisan’ languages: an interview with Menán du Plessis”.

1994-verkiesingsplakkate van die African National Congress (ANC) en Pan Africanist Congress (PAC). Die ANC het die verkiesing in 1994 gewen met Nelson Mandela as Suid-Afrika se eerste demokratiese president.

’n 1956-uitgawe van die tydskrif Drum wat in die 1950’s gestig is. Stedelike swart kultuur is die fokus van Drum. Vroeë fotograwe het onder andere Peter Magubane, Ernest Cole en Alf Kumalo ingesluit.

Landing of Van Riebeeck, 1652 (C Bell, 1850). Jan van Riebeeck is in 1652 deur die Vereenigde Oostindische Compagnie (VOC) na die Kaap gestuur om ’n verversingspos te stig. Lees hier oor die vroeë ontwikkeling van Afrikaans in die Kaapkolonie.

Volgens Cayleigh Bright se artikel draai die skildery, wat onderstebo gehang is, “die koloniale moment letterlik op sy kop”.

Die APO was die koerant van die African Political (later People’s) Organisation (APO). Die APO is in 1902 in Kaapstad gestig en was ’n baie invloedryke politieke organisasie vir bruin mense in die Kaapkolonie. Die leier van die APO, Abdullah Abdurahman (sien die biografiese memoires in die foto) was vermoedelik die skrywer van die satiriese rubriek “Straatpraatjes” (vermoedelik onder die skuilnaam Piet Uithalder). “Straatpraatjes”, wat tussen 1909 and 1922 in die APO gepubliseer is, het ook in Kaaps verskyn. Lees meer oor “Straatpraatjes” hier.

Die eerste uitgawe van die koerant APO is op 24 Mei 1909 gepubliseer.

Enoch Sontonga (1860–1904) het die eerste strofe van “Nkosi sikelel’ iAfrika” geskryf. Die hele lied is as pamflet deur Lovedale Press (1934) gepubliseer. Luister hier na “Nkosi  sikelel’ iAfrika”.

“De Maan een leerdigt” (Caap Stad: Drukkery van het Gouvernement, 1802) deur Meent Borcherds (1762–1832) is die eerste gedig wat in die Kaap de Goede Hoop gepubliseer is.

“Het volksblad”: de algemeen erkende beste Hollandsche courant in de Kolonie.

Hierdie item is ’n advertensie vir die koerant, gepubliseer deur Van de Sandt de Villiers (Kaapstad, 1858).

Mahatma Gandhi was een van die stigters van Indian Opinion in 1903 in Durban. Hierdie koerant is in Engels, Goedjarati, Hindi en Tamil gepubliseer.­­

Imvo Zabantsundu (Black Opinion) was die eerste swart koerant, in 1884 in King William’s Town gepubliseer, met Tengo Jabavu as die redakteur.

’n Brief wat Olive Schreiner in die vroeë twintigste eeu aan Mahatma Gandhi geskryf het.

Navorser Simon Sender vertel meer oor Olive Schreiner, Mahatma Gandhi en hierdie brief:

Digitale uitstalling:

Blaai digitaal deur seldsame manuskripte

Kyk video’s waarin kenners oor items gesels

- Behalwe die uitstallingsmateriale self sal die NLSA se 200-jaar-uitstalling ook ’n baanbreker op sy gebied wees deur die gebruik van aangevulde realiteit om die besoeker ’n nóg beter ervaring te bied. By die betreding van die uitstallingsruimte word besoekers uitgenooi om die amptelike IOL-toepassing op hul slimtoestel af te laai.

- Gelukkig bied die biblioteek gratis wifi en daarom hoef dit nie die besoeker se data te gebruik nie.

- Deur skakels na die Augmented Reality (AR)-funksie op die toepassing te volg, word besoekers aangemoedig om hul fone of tablette oor sekere spesifiek gekose vertoonde items te beweeg.

- Daardeur lees hul toestel ’n ingeboude AR-kode wat outomaties een van twee dinge op die skerm sal oopmaak: óf ’n vooraf opgeneemde video van ’n lid van die kuratoriale span of ’n ander kenner wat oor ’n spesifieke item praat, óf ’n interaktiewe program waarmee jy digitaal deur seldsame manuskripte kan blaai sonder om hul brose bladsye te beskadig.

- In die geval van die video's sal die klank slegs deur oorfone speel; moet dus nie vergeet om jou eie te bring nie!

 Hier is nog video’s:

Kurator Andrew Lamprecht gesels oor Shakespeare se sg First Folio, een kopie van twee (wat bekend is) in die suidelike halfrond. 

Deborah Posel gesels oor die tydskrif Outspan (eerste keer in 1927 gepubliseer)

Omar Badsha gesels oor fotografie in Suid-Afrika, insluitende oor die fotograwe Ernest Cole en David Goldblatt. Omar gesels ook oor sy eie werk. 

  • Treasure House of Knowledge word van Maandag tot Vrydag, 8 vm – 6 nm, by die National Library of South Africa, Queen Victoriastraat 5, Kaapstad, uitgestal. Die uitstalling duur tot Maart 2019 en toegang is gratis. 

  • Baie dankie aan navorser Simon Sender.

 

Bronnelys:

Bright, Cayleigh. Reading between the lives. Mail & Guardian. Datum opgelaai: 26 April 2018. https://mg.co.za/article/2018-04-26-00-reading-between-the-lives.

Giliomee, Hermann en Mbenga, Bernard. Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg, 2007, bl 267.

JSTOR. Periodicals: Indian Opinion. Aluka.org. https://www.aluka.org/struggles/collection/PIO.

Mohamed Adhikari, Voice of the coloured elite: APO, 1909–1923, in South Africa’s alternative press: voices of protest and resistance, 1880–1960, red Les Switzer. Pretoria: HAUM Opvoedkundige Uitgewery, 1987, bl 127.

South African History Online. African People’s Organisation (APO). Sahistory.org.za. Datum opdateer: 1 Mei 2018. https://www.sahistory.org.za/organisations/african-peoples-organisation-apo.

—. Drum Magazine. Sahistory.org.za. Datum bygewerk: 10 November 2016. https://www.sahistory.org.za/topic/drum-magazine

—. Enoch Mankayi Sontonga. Sahistory.org.za. Datum bygewerk: 28 Maart 2018. https://www.sahistory.org.za/people/enoch-mankayi-sontonga.

Switzer, Les, red. South Africa’s alternative press: voices of protest and resistance, 1880–1960. Cambridge: Cambridge University Press, 1997.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top