Suid-Afrikaanse kinders se leesbegrip van die swakste ter wêreld

  • 0

Suid-Afrikaanse kinders se leesvaardigheid laat veel te wense oor en is van die swakste ter wêreld. Meer as 80% van die land se leerlinge in graad 4 beskik nie oor die vermoë om met begrip te kan lees nie.

Onderwyskundiges, opposisiepartye en burgerlike organisasies het hulle skok hieroor uitgespreek. Van hulle eis nou die kop van die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga.

Die bevinding van die VSA-gebaseerde Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS) wat dié week bekendgemaak is, het getoon dat 81% van Suid-Afrikaanse graad 4-leerlinge, tussen 9 en 10 jaar oud, met leesbegrip sukkel.

Dit ten spyte daarvan dat Suid-Afrika een van vyf uit die 57 deelnemende lande is wat die grootste bedrag aan onderwys spandeer.

PIRLS-opnames word die afgelope 20 jaar lank vyfjaarliks onderneem en bepaal die wêreldwye standaard van leesprestasies op graad 4-vlak. Die bevindings van 2021 se studie is Dinsdag bekendgestel.

Die ondersoek het 400 000 leerlinge oor 57 lande wêreldwyd se leesvernuf getoets.

In die vergelykende studie van leerders se leesvaardighede in die onderskeie lande beklee Suid-Afrika die laagste plek uit 43 lande. Die gemiddelde syfer vir internasionale leesprestasie is 500, met die beste land, Singapoer, wat 587 behaal het. Suid-Afrika se telling is slegs 288.

Die DA het in hulle reaksie gesê dit is duidelik dat groot tekortkominge in die Suid-Afrikaanse kurrikulum en onderrigmetodes Suid-Afrikaanse leerders laat struikel en hulle van ’n blink toekoms beroof.

Die party se skaduminister van basiese onderwys, Baxolile “Bax” Nodada, sê in ’n verklaring dit is tyd dat Motshekga afgedank word. “Sy laat voortdurend generasies van leerders in die steek tydens 14 jaar se massiewe regressie en min vordering,” sê Nodada.

DA-leier John Steenhuisen het op Twitter gesê werklike bemagtiging vereis kwaliteitonderwys vir almal en merietegebaseerde aanstellings in die private en openbare sektore. “’n Gebroke onderwysstelsel en rassekwotas in die werkplek is ’n resep vir meer armoede.”

Die burgerregte-organisasie AfriForum sê hulle het met kommer kennis geneem van die tendense waarop die PIRLS 2021-verslag met betrekking tot die land en Suid-Afrikaanse onderwys dui. Dié studie se resultate skets volgens AfriForum ’n donker prentjie van die lewens- en onderwysgehalte in die land.

Die DA se Nodada sê wat veral kommerwekkend is, is dat 56% van Suid-Afrikaanse graad 6-leerders nie met begrip kan lees wanneer hulle op dieselfde graad 4-PIRLS-evaluering getoets word nie.

Alhoewel 21 van 57 deelnemende lande ’n afname in resultate getoon het as gevolg van die uitwerking van Covid, het Suid-Afrika aansienlik swakker as alle vergelykende lande in die graad 4-toetse gevaar. Trouens, Suid-Afrika het die grootste afname in leesuitkomste gehad, en die land se leerders is meer as drie jaar agter Brasiliaanse kinders.

Die DA sê Motshekga se opmerkings oor hierdie resultate toon die ANC-regering se totale gebrek aan aanspreeklikheid vir die situasie wat hulle geskep het. Motshekga het naamlik gesê in baie Suid-Afrikaanse laerskole fokus leesonderrig dikwels net op mondelinge prestasie; daar is verwaarlosing van leesbegrip en om sin te maak uit geskrewe woorde.

Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, sê in ’n verklaring die vergelyking van die deelnemende lande se agtergrondinligting laat flikker die gevaarligte oor onderwystoestande in die land.

Volgens die verslag is die land se inwoners se lewensverwagting die laagste van al die deelnemende lande, naamlik gemiddeld 64 jaar. Daarteenoor is die sterftesyfer van babas die hoogste van almal, naamlik 26 per 1 000 geboortes. Die naaste ander lande hieraan is Egipte en Azerbeidjan, beide met 17 sterftes per 1 000 geboortes.

Die studie toon verder dat Suid-Afrika een van vyf uit die 57 deelnemende lande is wat die grootste bedrag aan onderwys spandeer, naamlik ’n bedrag gelyk aan 7% van sy BBP. Die ander lande is Marokko (ook 7%), Noorweë, Swede en Denemarke (elk 8%).

Die verhouding van leerders per onderwyser in Suid-Afrika is ook die hoogste van die 57 lande, naamlik gemiddeld 30. Iran is in die tweede plek met 29 leerders per onderwyser.

Wat die persentasie kinders in die spesifieke ouderdomsgroep aanbetref wat skool bywoon, is Suid-Afrika in die vierde swakste posisie, met 87%. Daarna volg Bulgarye met 86%, die Slowaakse Republiek met 83% en Jordanië met 81%.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top