Suid-Afrikaanse landbou vra buitelandse hulp oor grondonteiening

  • 0

Die landbougemeenskap in Suid-Afrika het hulle nou tot buitelandse regerings gewend om te probeer keer dat die regering voortgaan met sy planne om grond sonder vergoeding te onteien.

ʼn Nuwe voorstel van die ANC om staatsvoogdyskap van grond deel te maak van die beoogde Grondwet-wysiging het verlede week skokgolwe deur veral die landbousektor gestuur.

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) het briewe aan die meeste van die ambassades in Suid-Afrika geskryf om hulle oor die ANC se voornemens in te lig. Die organisasie sê in ʼn verklaring hulle wil groter bewustheid in die buiteland skep van hoe die ANC se agenda strydig is met artikel 17 van die Universele Verklaring van Menseregte. Die buitelandse regerings se steun word gevra vir optrede teen die ANC by die Verenigde Nasies.

Die ad hoc-komitee wat die Grondwet moet wysig om onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak het tot einde Augustus om sy werksaamhede af te handel.

Selfs Cyril Ramaphosa is gekant teen staatsvoogdyskap op grond. Hoewel hy ʼn wysiging van artikel 25 steun, het hy hom verlede Donderdag sterk teen grondvoogdyskap uitgespreek.   

Saai sê die ANC se jongste skuif om die hele eiendomsklousule (artikel 25) van die Grondwet te verander, is verwag en was dus nie ’n verrassing nie. “Die ANC was nog nooit eerlik in sy poging om die Grondwet te verander nie, net soos hy ook nie eerlik was met optrede teen staatskaping, plundery of korrupsie onder sy kaders nie.”

Agri SA het ook in ʼn verklaring gewaarsku dat daar ʼn gevaarlike kinkel ingesluip het in die debat om artikel 25 van die Grondwet te wysig. Voogdyskap van grond sal volgens Agri SA alle grondeienaars van hulle eiendomsreg stroop sonder enige vergoeding, wat aan die staat volle beheer oor private grond sal gee.

Die oneerlikheid van die ANC blyk volgens Saai uit sy voorneme om regsoewereiniteit te ondermyn en daardeur die oppergesag van die reg te ondergrawe deur nou te probeer om die howe se bevoegdhede te beperk in pogings om onteiening sonder vergoeding te implementeer.

“Die fundamentele oneerlikheid blyk ook uit die wyse waarop die voorsitter van die onteieningskomitee sowel die doel as die bestek van die ondersoek na die voorgestelde wysigings verander deur ver buite die bestek van die prosedures van die parlement of die reg te beweeg om op die hele artikel 25 te fokus.”

Saai sê uit samesprekings met ambassades en buitelandse regerings is dit duidelik dat die manier waarop die komitee die program van openbare deelname hanteer, geweldige agterdog gewek het reeds toe die komitee eensydig besluit het om alle skriftelike voorleggings buite rekening te laat.

Skriftelike insette het nie net die meerderheid van die voorleggings uitgemaak nie, maar het ook meestal van beleggers, die sakegemeenskap, professionele mense en werkgewers gekom, terwyl die mondelinge voorleggings meestal afkomstig was van anonieme mense wat van iewers met busse aangery is na obskure lokale ver van stadsentrums af wat moeilik was vir sake-eienaars om te bereik.

Die DA het Dinsdag in ʼn verklaring gesê Suid-Afrikaanse grondeienaars kyk vas in die loop van ʼn geweer wat betref grondonteiening terwyl dit valse hoop skep by die armes wat nie grond besit nie.

Verskeie waarnemers meen die ANC wil die Grondwet-wysiging oor eiendomsreg gebruik om kiesers mee te lok om tydens vanjaar se munisipale verkiesing vir die ANC te stem. Saai sê in hulle verklaring die ANC het feitlik alle staatsbeheerde ondernemings en diensleweringskapasiteit in die staat vernietig. “Hulle het die ekonomie verwoes en sy kaders het ons land tot bankrotskap besteel en geplunder. Hulle het geen beter opsie nie as om populistiese politiek te bedryf, soos grondgrype soortgelyk aan wat ZANU-PF sedert 2000 in Zimbabwe doen,” sê Saai in hulle verklaring.

Die DA sê in ʼn afsonderlike verklaring voogdyskap van grond soos wat die ANC en EFF in gedagte het, sal tot groter chaos lei ten opsigte van die tienduisende grondeise wat reeds jare lank nie opgelos kon word nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top