Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), waarvan die vlerke die afgelope twee jaar geknip was, het Donderdag ’n nuwe lewe gekry met die amptelike heropening van die lugdiens in Kaapstad.
Pravin Gordhan, die minister van openbare ondernemings, het gesê die herbekendstelling van die SAL is ’n mylpaal vir die lugredery wat deur ’n moeilike tyd is nadat dit vir 16 maande tot stilstand gekom en in sakeredding beland het om likwidasie af te weer.
“Die geleentheid is ’n baie belangrike stap in die herlewing van die Suid-Afrikaanse Lugdiens. Ons sien uit na die amptelike heringebruikneming van die SAL, saam met die bekendstelling van sy eerste interkontinentale vlug na São Paulo, Brasilië,” het Gordhan in ’n verklaring gesê.
Government is expected to officially relaunch South African Airways @flysaa in Cape Town on Thursday #SAA https://t.co/OWScl2R9Jp
— @SAgovnews (@SAgovnews) October 25, 2023
Die SAL het vroeër vanjaar in ’n verklaring aangekondig dat hy vier keer per week na São Paulo sal vlieg, met twee vlugte elk vanaf Kaapstad en Johannesburg.
Donderdag se geleentheid is gehou om ’n nuwe begin vir die staatsbeheerde lugdiens en sy direkte vlugte na São Paulo aan te kondig.
Die SAL se tussentydse uitvoerende hoof, John Lamola, het vroeër gesê die lugdiens het na ’n deeglike volhoubaarheidsontleding die besluit geneem om hierdie langafstandvlugte in te stel.
“Ons is verheug om São Paulo as ons eerste internasionale bestemming aan te kondig sedert die lugredery suksesvol ontkom het uit ’n intensiewe besigheidsreddingsproses en COVID-19-inperking. Dit dui ook op die terugkeer van ons langafstanddiens uit Kaapstad. Die spanne by SAL werk hard agter die skerms om ons bedrywighede toe te rus vir hierdie langverwagte roetebekendstelling na Suid-Amerika,” het Lamola gesê.
Lamola is in April in die SAL se tussentydse raad van direkteure aangestel, saam met die voormalige minister van toerisme, Derek Hanekom, wat as voorsitter dien.
Die SAL se eerste vlug oor die Atlantiese Oseaan na Brasilië sal op 31 Oktober vanaf Kaapstad vertrek, met ’n vlug van Johannesburg wat op 6 November volg.
Die SAL het Air Promotion Group in Brasilië as sy algemene verkoopsagent aangestel. Vliegkaartjies begin vanaf R13 647 vir ’n alles-insluitende ekonomiese-klas-vlug.
Gedurende die noordelike winterseisoen (Oktober tot Desember) sal SA 0226 om 12h55 uit Kaapstad na São Paul. Die retoervlug uit São Paulo SA 0227 sal om 18h05 vertrek na Kaapstad.
Vanaf Johannesburg sal SA 0222 om 11h20 vertrek en die retoervlug SA 0223 sal om 17h45 uit São Paulo vertrek na Johannesburg.
São Paulo is Brasilië se mees bevolkte stad en ook die land se finansiële sentrum, en een van die grootste finansiële spilpunte ter wêreld
Die SAL sal na verwagting steeds ’n meerderheidsbelang van 51 persent aan die private groep Takatso Consortium verkoop, met regulatoriese goedkeuring wat verleen is. Dit sal in wese aan die konsortium uitvoerende mag oor die nasionale lugredery gee.
Verskeie reddingsboeie van miljarde rand moes reeds in die verlede aan die sukkelende SAL toegewys word om dit van ondergang te probeer red.
In 2020 het dit gelyk of die Covid-inperkings die heel laaste spyker sou wees in die reeds bankrot SAL se doodskis.
Die voormalige minister van finansies, Tito Mboweni, het destyds gesê dat SAL se vlerke dalk geknip en hul deure gesluit gaan word. Verskeie ekonome het ook gemeen dat daar geen salf meer aan hierdie “korrupte en bankrot” semistaatsinstelling te smeer is nie. Hulle het gesê dit is neusie verby met die SAL en geen privaat instansie sal met ’n tang daaraan wil raak nie, omdat die SAL se skuldlas eenvoudig te groot is.