Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) was op Saterdag 29 Mei 2021 ’n ruimte waar idees uitgeruil is oor die uitdagings wat museums in die gesig staar weens COVID-19-regulasies, die relevansie van museums in 2021 en die groot gaping in Suid-Afrika tussen dié wat genoeg het en dié wat nie het nie.
Soos Michael Jonas, direkteur van die ATM, dit gestel het: Niemand kon dink dat ’n piepklein virus die wêreld in totaliteit sou kon verander nie.
Jonas en sy span het ander museums, maar ook lede van die Toerismeraad, plaaslike munisipaliteite en plaaslike politici, genooi om saam te gesels. Daar was ook lede van die onderwysdepartement betrokke.
Die geleentheid het saamgeval met Internasionale Museumdag, iets wat die internasionale museumraad (International Museum Council of Museums, ICOM) sedert 1977 jaarliks organiseer.
ICOM se president sien museums as brugbouers tussen mense en kulture; ook voel hy baie sterk dat museums plekke moet word waar sosiale, ekonomiese en omgewingskwessies aangespreek moet word.
Of, soos Michael Jonas sê: ICOM beklemtoon die belangrikheid van museums as instellings wat die samelewing en die ontwikkeling daarvan dien. Museums moet dus ’n “Wosa”-benadering hê; Wosa staan vir ’n “whole of society approach”.
Van die museums in die streek het presies dit gedoen: Hulle het klere en kos ingesamel om uit te deel tydens die swaarkry van inperking.
Tog het baie meer gebeur.
Vanjaar se tema vir Internasionale Museumdag was dan ook “Die toekoms van museums: herstel en herverbeel”.
Herstel is nodig weens die ekonomiese impak van die grendelregulasies; herverbeel is nodig om lewensvatbaar en relevant te bly.
What it's like to visit museums now and how covid-19 has fundamentally changed them long term. via @TheArtNewspaper ➡️ https://t.co/khwDrwghil
— ICOM (@IcomOfficiel) May 27, 2021
Rihana Dempers het die sprekers voorgestel.
Beverley Thomas is die direkteur van die Amazwi Suid-Afrikaanse Letterkundemuseum in Makhanda (voorheen Grahamstad). Sy dien verskeie museumorganisasies, waaronder ICOM. Thomas het ’n video gestuur; sy het nie self opgetree nie.
Die Amazwi-museum het met die hulp van borge ’n groot uitstalling opgerig oor JM Coetzee, gemik op besoekers van Suid-Afrika, maar ook vanuit die buiteland. Die Nasionale Kunstefees wat elke jaar in die dorp plaasvind, sou maak dat hulle die nodige voete sou trek om dit ekonomies haalbaar te maak. Toe gebeur Covid.
Die museum het die uitstalling aanlyn geplaas. Dit is egter nie dieselfde nie, sê sy. Boonop mis sy die lawaai van kindervoetjies in die museum.
Thomas het afgesluit deur te noem dat museums ook groener moet wees. Hulle doen baie moeite om hulle eie ekovoetspoor baie klein te hou, maar selfs sy was verbaas om sien hoeveel papier hulle kon bespaar toe almal van die huis af begin werk.
Bertdene Laubscher, bestuurder van die Togryers Museum op Ceres, kon weens die pandemie ook nie self deelneem nie, maar sy het ’n teks gestuur wat deur Janine Brown voorgelees is.
Laubscher werk al sedert 1996 by die Togryers Museum. Tydens inperking het hulle moeite gedoen die gemeenskap te bereik met video’s wat hulle aanlyn plaas. Die dorp se geskiedenis word só gevier en moeite is gedoen om nie bloot ’n eensydige oorsig van die “wit” deel van die dorp te gee, maar om almal te betrek – ook om die presetlaarsgeskiedenis te erken en te vier.
Carike Heydenrych is die bemarkingsbestuurder van Paarl en Wellington se wyn-en-toerisme-bedryf. Haar fokus was op die groot impak wat toerisme op werksgeleenthede het.
Vir elke agt toeriste wat tyd en geld spandeer in die streek, kan een werk geskep word, sê sy. Covid-regulasies het dus duisende werksgeleenthede gekos in ’n reeds arm streek.
Vanuit die toerismebedryf probeer hulle om ook die geskiedenis, soos in museums en historiese gedenkwaardighede uitgebeeld, aan toeriste bloot te stel. Kom ervaar die wyn, én die geskiedenis. Of, kom ervaar ons kultuurerfenis en oornag hier. Slaap in ’n gastehuis, gaan eet by ’n restaurant en geniet ons wyn. Op hierdie manier werk die toerismebedryf nou saam met die museums en die historiese gedenkwaardighede.
Suid-Afrika, veral die Wes-Kaap, deel soveel van ons erfenis met Nederland en België dat kulturele toerisme sin maak.
As die pakket wat aan besoekers gebied word, groter gemaak word, word meer geld spandeer in die gebied waar dit so bitter nodig is.
Die streek bemark tans hul juwele aan Kapenaars – dit is net ’n uur se ry van Kaapstad af. Kom loer in, is die boodskap. Tog vind die bedryf dat plaaslike toeriste nie die geld het om rojaal te spandeer nie. Die streek en die land smag dus na buitelandse toeriste.
Die manier waarop museums hulself aanlyn bemark, is ’n manier om buitelanders bewus te maak van die land. Hier is dus nog maniere waarop die toerismebedryf en die museums kan saamwerk. Gegewe die impak wat inperkingsregulasies wêreldwyd ook op museums gehad het, is daar plaaslik én internasionaal moeite gedoen om museums se kubervoetspore uit te brei om meer inligting via die internet te versprei en sodoende meer e-besoekers te lok.
Mag daardie e-besoekers genoeg geprikkel word om die streek persoonlik te ervaar sodra dit veilig is.
Helen Joannides is ’n ervare museum- en erfeniskonsultant. Sy het die Western Cape Museum Educator Group in 2010 gestig, waarvan sy ook die voorsitter is. Hierdie groep bied professionele ontwikkeling en netwerkgeleenthede aan opvoeders in museums en ander ervaringsleeromgewings.
Joannides het kortliks verduidelik hoe talle museums ook hulle kubervoetspore vergroot het om skoolkinders by te staan tydens die inperkings. Baie moeite is gedoen met werksvelle en aanlyn uitstallings, maar sy voeg by: Daardie kinders wat dit die nodigste het, se internettoegang is niebestaande. Minder as 10% van die leerders in die streek het toegang tot die internet. Die kundigheid is daar om te help, die hulpbronne word geskep, maar meer sal gedoen moet word om internettoegang te bewerkstellig aan die talle Suid-Afrikaanse kinders wat gewoon nie enige toegang kan bekostig nie.
Verder is dit maklik om werksvelle beskikbaar te stel op die internet, maar wat van die miljoene kinders wat nie drukkers by die huis het nie?
Die gehoor is toe by die gesprek betrek.
’n Lid van die Paarl-biblioteek, Elizabeth Bowes, het uit die gehoor verduidelik hoe hulle uitreik na skole. As die skool sukkel om by die museum te kom, dan gaan die museum na die skool toe.
Hulle berei pasklaar werksvelle voor wat direk gemik is op die graad wat hulle besoek en die betrokke deel van die kurrikulum waarmee die onderwyser besig is. Daar is niks lukraak aan die skoolbesoeke nie.
Die Paarl-museum gaan egter verder. Hulle erken dat groot dele van die kurrikulum skynbaar geen betrekking het op die plaaslike kinders nie. Waarom sal iemand in die Paarl belangstel in die Suid-Afrikaanse Oorlog (voorheen Anglo-Boereoorlog)? Dit is waar die museum dan interessante voorwerpe na die skole neem. Hulle doen moeite om te verduidelik hoe die Paarl se mense, ook die plaasgemeenskappe en die plaaswerkers, wel deur daardie oorlog geaffekteer is.
Dit gaan verder. Die geskiedenis van die slawe in die Wes-Kaap is nie ’n abstrakte kwessie nie. Talle kinders wat tans hier op skool is, se voorouers was slawe. Talle skoolkinders se ouers is steeds arbeiders op plase wat eens deur slawe bewerk is.
Saam met die slawe het ook ’n ryk kultuurerfenis gekom. Afrikaans mag ’n moderne sustertaal van Nederlands wees, maar Afrikaanse woorde soos baie, barakat, atjar, bobotie en papaja kom van slawe.
Ook die Kaapse kookkuns is ’n vermenging van Maleise en Nederlandse invloede, met ’n skeut van die inheemse inwoners se idees ingemeng.
Plaaslike besoekers kan ook aanklop. Die museum bied byvoorbeeld ’n skattejag waaraan gesinne kan deelneem.
Waar museums dus aan die een kant baie moeite doen om oorsese besoekers digitaal aan te moedig om hul eie kultuur te kom soek hier in die Wes-Kaap, doen hulle eweneens baie moeite om die plaaslike geskiedenis aan die jonger geslag bekend te stel sonder dat hulle toegang tot die internet hoef te hê.
Karin Thompson het gaste met haar vioolmusiek vermaak.
Aangesien museums moeite doen om groener te wees, is elke gas ook ’n vetplant gegee om te gaan plant.
Na afloop van die gebeure is sop en brood Covid-styl bedien. Dit was heerlik.
Dit was ’n koue, nat dag. Gelukkig was die sjerrie werklik en nie virtueel nie.
Aan alle besoekers is die boodskap duidelik: Geniet die museums se aanlyn voetspoor, maar kom besoek ons. Sjerrie, wyn en die Kaapse kookkuns kan ’n mens nie oor die internet geniet nie.