Suid-Afrikaanse tienling is glo fopnuus

  • 0

Berigte van die eerste tienling ter wêreld wat na bewering vroeër die maand in Suid-Afrika gebore is en die wêreld se media op hol gehad het, was glo fopnuus. Daar bestaan skynbaar nie so ’n tienling nie.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) sê die hele episode tel onder een van die laagste laagtepunte in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse joernalistiek.

Dit volg nadat die beweerde pa van die beweerde tienling glo in ’n verklaring erken het daar bestaan nie so ’n tienling nie.

Sanef sê in ’n sterk bewoorde verklaring die optrede van die betrokke joernalis, Piet Rampedi, wat die berig die wêreld ingestuur het sonder om hom van die feite te vergewis, het die hele joernalistieke beroep skade berokken.

Die koerantgroep Independent Media waaraan die koerant Pretoria News behoort en wat die aanvanklike berig gepubliseer het, word ook deur Sanef voor stok gekry vir wat as hulle onverantwoordelike beriggewing beskou word.

Rampedi, wat ook Pretoria News se hoofredakteur is, het op 8 Junie in ’n hoofberig op die koerant se voorblad en op IOL se webwerf as ’n feit berig dat ’n vrou in Gauteng geboorte aan ’n tienling geskenk het.

Hy het die berig geskryf na aanleiding van ’n onderhoud wat hy ’n maand tevore met die paartjie, Gosiame Sithole en Teboho Tsotetsi, gevoer het wat na bewering die ouers van die tienling sou wees.

Terwyl verskeie ander mediahuise skepties was oor die berig en daarop gewys het dat die feite nie bevestig kon word nie, het Rampedi en sy koerantgroep volgehou die berig is waar. IOL se voorsitter, Iqbal Survé, het selfs ’n skenking van R1 miljoen aan die paartjie beloof om hulle met die kinders se opvoeding te help. Die koerantgroep het ook bankbesonderhede gepubliseer waar die publiek geld vir die paartjie kon skenk. Independent Media het sy lesers ook gevra om klerasie en ander benodighede aan die kinders te skenk.

Sanef sê in hulle verklaring ondanks etlike gate in die storie het Rampedi en Independent Media voortgegaan om oor die storie te berig asof dit die waarheid is sonder om hulle feite te bevestig. Rampedi het glo deurgaans geweier om die name van die hospitaal waar die babas na bewering gebore is, bekend te maak en het aangehou om sonder enige bewese feite verslag te doen oor die babas se beweerde geboorte.

Dit het Woensdag bekend geword dat Rampedi glo nooit die babas gesien het nie en skynbaar ook geen bewys gehad het van hulle geboorte nie. Hy het glo slegs staat gemaak op WhatsApp-boodskappe tussen hom en die beweerde ouers toe hy berig het dat die babas in ’n Pretoriase hospitaal gebore is en dat dit goed gaan met die ma en die kinders, wat in broeikas sou wees.

Sanef sê in hulle verklaring die Perskode stel dit baie duidelik dat joernaliste besondere versigtigheid aan die dag moet lê veral wanneer daar kinders betrokke is. Selfs al is Independent Media nie ’n ondertekenaar van die Perskode nie, is dit volgens Sanef duidelik dat alle joernalistieke beginsels oorboord gegooi is in die wyse waarop Rampedi en IOL se koerante hieroor berig het.

Dit is nie die eerste keer dat daar ernstige vraagtekens hang rondom Rampedi se beriggewing nie. Hy was ook deel van ’n sogenaamde ondersoekspan by die Sunday Times wat valslik berig het oor ’n sogenaamde rogue-eenheid by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Die betrokke amptenare se loopbane het ernstige skade gely as gevolg daarvan. Rampedi het daarna onder ’n wolk by die Sunday Times bedank, waarna hy by IOL aangestel is.

Rampedi het Donderdag op Twitter volgehou dat hy ’n betroubare joernalis is wat nooit vir sy lesers sal jok nie. “Ons het hier met iets groter te doen. ’n Uitgewerkte sameswering.  ’n Toesmeerdery. Ongekende stof,” het die omstrede joernalis op Twitter gesê sonder om te verduidelik wat hy bedoel.

Sanef het ’n beroep gedoen op Independent Media se bestuur om dringend ’n onafhanklike ondersoek in te stel na hoe dit moontlik is dat so ’n vals berig die wêreld ingestuur kan word en om op Rampedi en sy kollegas se aandeel daaraan te reageer.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top